Verlede maand
Met Tokko-Man uit die pad, stuit niks die gedrogte
 ~ 

HALLO daar, Sonlanders! Bonga die Tokko-Man: Die Staatsgreep is die vervolg op SALMON SMITH se verhaal Interdimensionele Oorlog. Lees vandag hoofstuk 4.

VON Brauwn storm met ’n lang dolk op die hulpelose Tokko-Man af.

“Ja, Tokko-Man, jy het gedink jy is ’n Super Hero. Van­oggend het ’n bietjie sout jou jou gat laat sien!” kom dit smalend van Von Brauwn.

“So, jy is allergies vir sout, soos Superman is vir kripton.

“Dit is ’n goeie ding, want nou kan ons ongestoord voortgaan met ons missie!”

Bonga uiter net ’n flou geluidjie toe Von Brauwn die mes in sy bors wegsink.

Von Brauwn vee die mes aan die Tokko-Man se kostuum skoon voordat hy dit terugdruk in die skede aan sy belt.

“Gooi sy liggaam daar eenkant in die veld!” beveel hy twee van sy manskappe.

Voordat hulle weer die pad vat, laat hy eers die omgeslane lorrie met bestuurder en al aan die brand steek.

Die volgende dorp op hulle pad is De Doorns. Aan weerskante van die N1 laat hy ’n pad van verwoesting agter. Alles in die pad van die renostergedrogte se groot pote word verpletter, terwyl die Ozarki’s met die groen suur uit hulle bekke almal in hulle gesigsveld laat dis­integreer.

’n Hele halfuur nadat Von Brauwn se konvooi weg is, kom stop ’n dubbelkajuitbakkie in ’n stofwolk langs die ernstig beseerde Tokko-Man.

’n Groot boerseun spring daaruit. Hy herken die Tokko-Man sommer onmiddellik as die superhero wat Suid-Afrika twee jaar gelede van die akkedisgedrogte gered het.

“Ou maat, jy is ernstig beseer. Jy’t versorging nodig. Kom ek vat jou na my plaas hier naby!” sê die boerseun besorg en laai die kreunende Tokko-Man versigtig op die agterste sitplek.

Dit is net voor sonop toe Von Brauwn en sy konvooi met Ozarki’s die Kaap binneval.

Teen dié tyd het oorlewende inwoners van die dorpe waardeur die konvooi getrek het, al alarm gemaak.

Die weermag wat pres. Mandla Hadebe ná die interdimensionele oorlog weer van scratch af opgebou het, staan net voor Kraaifontein met hulle tenks en swaar artillerie gereed. Hulle begin sommer losbrand op Von Brauwn-hulle.

Von Brand gee die bevel dat die Ozarki’s aanval. Gou sprei die vyfhonderd akkedisgedrogte oor die gebied uit. Hulle massiewe rydiere stamp die tenks en weermagvoertuie uit die pad en vermorsel die soldate onder hulle pote.

Dié move bring die verdedigingsmagte effe van stryk.

Von Brauwn en sý soldate maak gebruik van die kans. Hulle skiet hulle pad oop en spoed voort in die rigting van Kaapstad se sentrale sakekern.

Vanaf die Ysterplaat-lugmag­basis kom ’n eskader vegvliegtuie aangevlieg. Hulle bestook die Ozarki’s en Von Brauwn se army met vuurpyle.

Groen blertse bevlek die gebied soos die akkedis- en renostergedrogte uitmekaar geskiet word.

Intussen sit pres. Hadebe, sy raadgewers, die nuwe minister van verdediging, Jonas Jabula, en nog hooggeplaastes om die groot, ronde tafel in sy konferensiekamer in Tuynhuys.

Almal se oë is op die televisieskerm teen die muur. Die gebeure in die noordelike voorstede word regstreeks uitgesaai.

Die president kom redelik gespanne voor.

“Dit lyk of prof. Von Brauwn dié keer heeltemal kop verloor het!” sê hy. “Wat wil hy nou bereik met dié malligheid van hom? En waar kom hy dan nou ewe skielik aan die akkedisgedrogte?”

“Meneer die President, dit blyk hy het die goed gekloon in die tyd dat hy vir ons weggekruip het,” kom dit van een van die agente gemoeid met intelligensie.

Hadebe se kop ruk in die rigting van die agent.

“Dan het ons die man mos gruwelik onderskat, mnr. Brönn!

“Kon jou manskappe daar buite al uitvind hoekom hy nou hier oorlog voer met sy army en gedrogte?”

Op daardie oomblik lui Brönn se selfoon. Hy plaas die foon haastig teen sy oor. ’n Frons verskyn op sy voorkop terwyl hy na die persoon aan die ander kant luister.

Hy haal die foon stadig van sy oor af weg en kyk ’n wyle oopmond na Hadebe.

“Wat is dit, mnr. Brönn?” vra die president geïrriteerd.

Brönn kyk vlugtig na die ander in die vertrek en toe weer na Hadebe.

“My manne het een van Von Brauwn se gewonde soldate in hegtenis geneem en ondervra. Die soldaat het gesê Von Brauwn is hier om ’n staatsgreep op u en u kabinet uit te voer, Meneer die President!”

Sy nuus word met uitroepe van skok begroet. Almal kyk weer na die televisieskerm.

Hulle sien hoe Von Brauwn en dié wat nog oor is van sy army die parlementskompleks al skietende binnestorm. Die arme polisiebeamptes by die hekke en ingange van die geboue skarrel vir hulle veiligheid in verskillende rigtings.

Toe bestorm Von Brauwn-hulle Tuynhuys.

’N HELE driekwartier voordat Tuynhuys bestorm word, skrik Bonga die Tokko-Man wakker. Hy voel hoe sy kragte stadig terugkeer.

Hy kyk vas in die gesig van die besorgde man hier voor hom.

Met ’n skok besef Bonga hy lê byna naak op ’n bed. Daar is ’n verband om sy bors.

Sy geheim as die Tokko-Man is nou bekend, besef hy onmiddellik.

“Moenie worry nie, my maat. Jou geheim sal eendag saam met my graf toe gaan,” sê die man asof hy Bonga se gedagtes kan lees.

“My naam is Wicus Matthee. Ek het jou byna dood daar in die veld gekry en hierheen gebring.”

Bonga besef hy is veilig, ver weg van die vrag sout daar op die N1.

Dus is hy besig om sy kragte terug te kry.

Hy haal die verband vinnig van sy bors af en sien die meswond het reeds outomaties genees. Daar is nie eens ’n merkie nie.

Hy kyk na Wicus.

“Dankie, mnr. Matthee, dat jy my lewe gered het. Maar ek moet nou dringend gaan!”

“Dis verstaanbaar, mnr. Tokko-Man. Daar eenkant is jou kostuum en daardie snaakse sweep van jou,” sê hy en wys na die een hoek van die kamer.

Bonga is dankbaar dat sy sweep darem nog met hom is.

Binne ’n minuut is hy weer in sy kostuum, met sy Akrili-sweep in sy hand.

“Mnr. Matthee, ek moet nou baie vinnig in die Kaap kom. Mense se lewe is op die spel!” sê hy weer vir die Samaritaan.

“ ’n Breë glimlag verskyn om Wicus se mond. “Ek het ’n ligte helikopter hier op my plaas. Ek vat jou sommer in ’n japtrap tot daar.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters