Verlede maand
Meisie se belofte aan verslae oom Basil word waar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis finansieel nag vir oom Basil. Sy vrou en dogters kasty hom geldelik. Om dinge erger te maak, gee ’n kollega oom Basil raad wat hom sy werk kos. ’n Moedelose oom Basil gaan met sy vrou, antie Naomi, na die mall, waar ’n onbekende meisie hom raad gee. Maar gaan hierdie raad help? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE­ JASON­ se Die High-flyers.

OOM Basil maak die koerant toe.

Hy wil nie verder lees van die ou van Mitchells Plain wat R61 miljoen in die Lotto gewen het nie.

Hoekom kon dit nie hý gewees het nie? Sy ganse lewe is dan nou ’n gemors. Naomi en die kinders het die pad gevat.

Toe hulle gister van die mall terugkeer, het Naomi hom eenkant geroep en die mat onder hom uitgetrek.

“Ek is nie in hierdie lewe om ’n armgat te wees nie,” het sy gesê.

“Jy is nie meer my liefie Bear, die man op wie ek kon staatmaak, nie.

“Ek het iemand anders ontmoet. Iemand wat bereid is om my met my kinders en al te vat.”

’n Oomblik het oom Basil gewonder of antie Naomi maybe vir hom ’n kaart skiet.

Maar antie Naomi was ernstig. Doodernstig.

En terwyl hy nog oor sy skok gekom het, het ’n lang, slap kar voor hulle deur stilgehou.

Wessie Wessels, sy oud-baas, het die huis binnegekom en sy vrou veels te lank na sy sin ’n stywe drukkie gegee.

“Ek en Wessie is nou ’n item. Jy sal my skeibrief van Wessie se lawyer ontvang.”

Sommer net so. En toe vat Wessie sy vrou en die kinders, Leandra en Lee-Shandra, en skoert.

Oom Basil sug en staan swaar op toe sy deurklokkie lui.

Dit is seker daai balju wat vroeër gebel het om my te kom sien, dink hy mismoedig.

Hy pluk die deur vies oop, maar frons toe hy die jong meisie voor hom sien. Hoekom lyk sy so bekend?

Die meisie smile ewe vriendelik, maar dalk is sy ’n tikkop wat ’n arme man met ’n vol rug soos syne wil verlei.

Oom Basil staar haar eers agterdogtig aan. Hy het nou al mooi geleer as mense hier in die Kaap hulle vriendelik hou met jou, dan soek hulle iets.

“Môge, Oom. Oom weet sekeg nie meeg wie ek is nie,” bry sy.

“Ek het Oom gisteg by die mall ontmoet ... ek het Oom mos advies gegee.”

’n Lig gaan vir oom Basil op. “Ek ... ek onthou, ja,” antwoord die oom, steeds agterdogtig. “Hoe het jy geweet waar ek bly?”

Die meisie lag. “Ek bly dan al so lank hieg langs Oom-hulle.

“En gistegaand ...”

Sy bly ’n oomblik lank stil, onseker oor hoe sy die onderwerp verder moet aanroer.

“Ek kon nie andegs as om te sien hoe die tannie en u dogtegs in so ’n slap, fancy BMW hieg weg is nie.

“Is alles nog oukei hieg?”

En toe breek oom Basil se damwalle en hy raak aan die huil.

Die meisie skuur verby hom en stap reguit kombuis toe. So asof sy al voorheen daar was.

Sy vat ’n glas en tap dit vir oom Basil vol water. Dan wink sy vir hom om by die kombuistafel te kom sit.

“Oom moet my nou alles vegtel,” sê sy saggies. “En wanneeg Oom klaag vegtel het, belowe ek dat alles daagna fine sal wees.”

En toe maak oom Basil sy bors skoon en vertel die meisie alles.

Hy praat met gevoelvolle oorgawe, waarmee baie mense gehoop het Zuma voor die Zondo-kommissie sou getuig. En anders as die oud-prez, maak oom Basil nie een keer sy keel skoon nie. Net die gange van sy hartkamers.

Die meisie het by die tafel by oom Basil kom sit.

Die trane vloei. Daar is nie genoeg tis­sues nie.

Iewers op ’n kol staan oom Basil heel emosioneel op en gaan tap vir hom nog ’n glas water.

Maar toe hy omdraai, is die meisie skoonveld.

Seker ook moeg geraak vir ’n loser outoppie soos ek, dink oom Basil beswaard.

Die deurklokkie lui weer en oom Basil loop sleepvoet na die deur toe.

Is daai meisiekind besig om met my te speel? wonder hy vies.

Weer pluk hy die deur oop, maar hierdie keer staan ’n man voor hom.

Die man stel hom met ’n uitgestrekte hand as Balie Swartz bekend. Die balju.

In ’n waas nooi oom Basil hom binne.

Sy veggees is geblus.

Hy is ’n verslane man sonder vrou, kind, geld en selfs iemand wat bereid is om na sy hartseer­storie te luister.

Sy lewe is verby. As Liverpool ook nou al bekers begin wen, is dit ’n teken die eindtye is naby.

“Ek dog jy is daai meisie wat vroeër hier by my kom kuier het,” sê oom Basil en lei die balju die huis in.

“Watter meisie, Oom?” vra Balie, maar verwag ook nie ’n antwoord nie.

Hy is immers nie hier om te socialise nie.

Met ’n gemoed wat swakker as die rand vaar, vertel oom Basil die balju van die meisie.

En hoe meer oom Basil haar beskryf, hoe bleker om die kieue raak Balie.

“Is ... is Oom seker van hierdie meisie?” prewel-vra Balie en lek oor sy lippe.

“Het Oom nie dalk ’n mistake gemaak nie?”

“Klong,” antwoord oom Basil nou vies, “ek weet dalk nie meer hoe steak proe nie, maar ek weet beslis ek het nie ’n mistake gemaak nie.

“Daardie meisiekind was hier. Wil jy dan nou sê ek’t kens geraak?”

Balie hou sy hande beskermend omhoog. Soos die dag toe die polisie sy prinsipaal-pa, A. Balie Swartz, kom arresteer het oor die skool se skoolfondse voete gekry het.

“Dis nie dit nie, Oom. My dogter ... April ... ons het vroeër hier gewoon en dis hier waar sy jare gelede verdrink het.”

Balie bring sy wallet te voorskyn, grawe daarin en hou ’n ID-groot foto omhoog.

Dit voel vir hom of iemand hom tussen die oë slaan.

Die meisie op die foto ... dit is dan die kind wat vroeër hier by sy kombuistafel gesit het.

“Oom ... Oom het vroeër gesê die meisie ... April ... sy het vir Oom raad gegee.”

Oom Basil knik stom.

“Wat was hierdie raad, Oom?” por Balie oom Basil aan.

“If you worry, you die. If you don’t worry, you also die. So, why worry?”

Balie word wasbleek. “Dit is die woorde wat haar oupa altyd aan haar gesê het,” prewel hy.

Trane rol skaamteloos oor sy wang.

Balie vee sy trane af en kyk oom Basil reguit in die oë.

“Niks in die lewe straf ’n mens meer as die sonde van ’n high-flyer-gees nie. Oom het genoeg gesuffer en as Oom nie omgee nie, sal ek graag hierdie huis namens Oom klaar betaal en ...”

En oom Basil luister nie verder nie. Nes daai meisiekind belowe het, vlieg al sy troubles dan nou sky-high weg.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters