13 dae gelede
Martin probeer uitvis hoekom sy vriend so stil is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag die eerste hoofstuk van Christo Meyer se nuutste verhaal, Die Droom.

HALFPAD tussen die kwart- en die middellyn word die bal gestel. Peter Rogers tree stadig agteruit.

Hy draf vorentoe en nadat hy die bal met sy regtervoet getref het, swaai hy onmiddellik om.

Hy weet instinktief die bal is tussen die pale deur sonder om nog ’n keer om te kyk.

Hy bestee deesdae baie meer tyd aan sy skopwerk as voorheen, want behalwe dat hy die Hoërskool Scottsdene se puntemasjien is, is hy ook vandeesweek as kaptein van die eerste span aangewys.

Donnie Jones, die gereelde kaptein, moes hom noodgedwonge weens ’n skouerbesering onttrek en sal minstens sewe weke buite aksie wees.

Daar rus dus ’n groot verantwoordelikheid op Peter se skouers, veral aangesien sy span oor net meer as ’n week teen die magtige span van Bernadino Heights te staan kom.

Die wenner van hierdie belang­rike kragmeting sal bepaal watter span uiteindelik in die Ligabeker-eindstryd teen Symphony te staan gaan kom.

Dit was juis teen die einste Symphony dat Scottsdene verlede jaar in die eindstryd vasgeval het.

Hulle sal graag Bernadino Heights wil klop om die bordjies teen Symphony te verhang.

Peter sal die eerste maal in sy lewe ’n span aanvoer. Dis ’n prestasie waarna hy lankal smag.

Hy was weliswaar op laerskool ’n keer of wat onderkaptein, maar die eer om kaptein te wees, het hom nog nooit te beurt geval nie.

Hy het ook reeds aangedui dat hy die game teen Bernie as die belangrikste van sy jong loopbaan beskou.

G’n wonder dat hy die laaste ruk vir Nicolene so geweldig afskeep nie. Rugby kry deesdae al sy aandag, maar gelukkig is Nicolene Kotze ’n verstaanbare meisie en hy glo nie sy voel enigsins minderwaardig nie.

Peter is die enigste kind van Gerrit en Elmarie Rogers. Hy woon in Northpine, waar hy alles kry wat sy jong hart begeer.

Sy getroue vriend, Martin James, woon drie huise van hom af in dieselfde straat.

Hy en Martin is dan ook die skakelpaar van die eerste span. Met hulle puik spel het hierdie twee boesemvriende al menige skool met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Dit is veral hulle twee wat tussen Bernadino Heights en ’n moontlike oorwinning staan. Veral Peter, met sy venynige skopvoet, kan ’n deurslaggewende faktor wees.

Nie net is hy ’n uitmuntende stelskopper nie, maar sy posisionele spel kan met een woord opgesom word: skitterend.

Scottsdene se afrigter kom nader toe Peter die soveelste keer ’n bal deur die pale jaag.

“Peter, dis genoeg vir eers, jong. Netnou skop jy al jou krag weg en wanneer ons teen Bernie speel, is jou woema te min om vir ons ’n plek in die eindstryd oop te skop.

“Dit sal groot probleme veroorsaak, want almal weet dat daar maar min losskakels is wat by jou kan kers vashou.”

Peter kyk glimlaggend na meneer Viljoen.

“Ek wil maar net doodseker maak daar skort absoluut niks met my skopwerk wanneer ons ons aartsvyand pak nie, Meneer.

“Maar ek dink in elk geval ek het nou eers genoeg geoefen vir vandag,” antwoord die langbeen-seun met sy Elton Jantjies-haarstyl.

“Ons moet net ons forwards ’n bietjie meer laat beweeg.

Ek het laas week weer gesien ons vleuels is lus vir drieë druk.”

“Dis soos jy daar sê,” beaam meneer Viljoen.

“Ons vleuels is honger om oor die doellyn te kom.”

Ná nog so vyf minute op die oefenveld kom die spelers in die kleedkamer byeen vir ’n spanpraatjie.

Hulle bespreek hoe hulle die wedstryd teen Bernadino Heights gaan benader en presies wat van elke speler verwag word. Daarna gaan die spelers stort, want hulle het nog hope tuiswerk wat gedoen moet word.

Vir Peter en Martin is daar nog ’n wiskunde-toets ook wat op hulle wag.

Hulle twee is die enigste A-spanspelers wat nog in graad 11 af. Die res van die span is almal in hulle laaste skooljaar.

Op pad huis toe merk Martin op dat Peter besonders stil is. Dis ietwat ongewoon, want Martin ken Peter as ’n gesellige persoon.

Hy kan die stilte tussen hulle nie langer verduur nie – dit irriteer hom verskriklik.

“Pietie, wat is fout, jong? Is jou senuwees besig om jou op hol te jaag?

“Jy wil tog nie vir my sê jy raak bang vir Bernie se manne nie? Ons gaan hulle wen, man,” sê Martin selfversekerd.

“Ek en jy gaan die spelers wees wat hulle opmars na die final gaan stuit. Of is ek dalk verkeerd?

“Dis Nicolene, nè? Daar’s probleme tussen julle, of hoe?”

Peter kyk in gedagte voor hom uit. Hy wens Martin wil ophou neul.

Hy het nie vandag lus vir gesels nie, maar sy vriend se vraende blik dwing hom om nie langer stil te bly nie.

Hy is kortaf toe hy antwoord: “Jy raai verkeerd, man. Dis nie die ouens van Bernie of Nicolene wat my pla nie.

“Dis iets heeltemal anders, iets wat ek al heeldag probeer wegsteek.

Martin raak nuuskierig. Hy ken Peter goed genoeg om te weet dis nie ’n joke nie.

“Nou, toe, uit daarmee. Van wanneer af het ons geheime vir mekaar?”

Peter wil so graag vir Martin vertel, maar hy weet nie hoe om te begin nie.

Nadat hy genoeg moed bymekaargeskraap het, besluit Peter om Martin te vertel wat dit is wat hom heeldag al pla.

“Gisteraand, of liewer vroeg vanoggend, het ek ’n nare droom gehad. Ek het gedroom iets gaan my gaan verhinder om in die wedstryd teen Bernadino Heights te speel.

“In my droom het ek die verbasing op julle gesigte gesien toe meneer Viljoen die nuus aan julle oordra.

“Ek kan nie alles onthou nie, maar ek het gedroom die eer om kaptein te wees, asook die voorreg om ons skool se eerste span op die veld te lei, gaan nie ’n werklikheid word nie.

“Ek het natuurlik vir my ma daarvan vertel, maar sy het gesê ’n mens droom allerhande drome as jy met iets behep is.

“Maar ek weet, Martin, dat dié geen beheptheid is nie.

“Ek kan aanvoel iets gaan gebeur.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters