2 maande gelede
Martin en Peter is verstom toe hulle Nicolene opspoor
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Peter is so bly hulle oefening duur nie te lank nie, want hy wil dié ding vir eens en altyd met Nicolene uitpraat. Hy wil weet waar hy met haar staan. Lees vandag die slothoofstuk van CHRISTO MEYER se nuutste verhaal, Die Droom.

‘EK WEET nie meer nie,” sê Martin ná ’n ruk.

“Ons soek oral, maar kry haar nie. Dalk het ’n ander ou jou hand in die as geslaan of miskien is Nicolene net jaloers omdat jy ewe skielik so baie aandag van die ander meisies kry.”

Peter trek sy gesig skeef.

“Jy kan gerus ophou met jou flou jokes,” sê hy. “Nicolene is nie so nie en jy weet dit.”

Martin trek sy skouers op. “As jy so sê, wie is ek om te stry?”

Die laaste periode breek aan. Peter voel glad nie gelukkig met die verloop van sake tussen hom en Nicolene nie.

Hy besef nou hoe lief hy haar het en hoe geweldig hy haar die laaste tyd afgeskeep het.

Dit maak glad nie saak wat Martin en die res van die span se reaksie gaan wees nie, maar vir Nicolene Kotze wil hy tot elke prys behou.

Aan die ander kant – sê nou dis die enigste kans wat hy ooit sal kry om ’n span aan te voer?

Hy het ’n baie sterk liefde vir rugby, maar in sy binneste smag hy ook na die liefde van die skoner geslag.

Soms wens Peter hy was meer soos Martin, wat glad nie in meisies belang stel nie. Martin bepaal hom net by sy skoolwerk en rugby. Verder bekommer hy hom oor niks nie.

Peter neem ’n besluit: Hy en Nicolene moet die saak uitpraat. Nie later as vandag nie.

Dis belangrik dat hy weet waar hy met haar staan.

Sy hart loop oor van dinge wat hy lank genoeg opgekrop het, dinge wat van hom ’n swakkeling gemaak het.

In die hele skool se oë is hy ’n held, die wonderlike rugbyspeler. Vir homself is hy niks anders as ’n loser nie, iemand wat die liefde van ’n meisie weggooi vir die skool se eerste span.

Wat gaan jy doen om haar te oortuig jy het haar steeds lief? flits dit deur sy gedagtes. Hy dink aan ’n plan.

Hy kan vanmiddag se oefening nie kanselleer nie.

Wat sal die ander spelers van hom dink as die kaptein van die oefening af wegbly?

Oukei, besluit hy, hy sal ná die oefening vinnig by Nicolene gaan inloer om die sakie op te klaar. Met Nicolene in sy gedagtes hoor hy hoe die sirene die einde van nog ’n skooldag aankondig.

Peter dink steeds aan Nicolene toe hy later by die oefenveld aankom.

Hy bepaal hom egter gou by sy spel en hoop vandag se oefening duur nie te lank nie.

Asof mnr. Viljoen sy gedagtes kan lees, besluit hy inderdaad om die oefening kort te knip.

Martin is verheug om weer die ou Peter langs hom te hê toe hulle huis toe stap. Die twee gesels land en sand en natuurlik is rugby die onderwerp.

Martin is van mening dat Curwin Bosch ’n baie beter losskakel as Robert du Preez is, maar dat Handré Pollard die gunsteling is om die nr. 10-trui vir die Bokke in vanjaar se Wêreldbekertoernooi te dra.

Albei cheer vir die Bulle, maar hulle weet hulle span staan hierdie naweek nie ’n kat se kans teen die Crusaders nie. Die span wat die Superrugby-titel wil wen, moet maar eers verby die Crusaders kom.

Die twee loop en babbel nog so totdat Martin skielik verbaas vassteek.

Hy kyk ’n tweede keer om seker te maak sy oë bedrieg hom nie. Martin is stomgeslaan, want dit wat hy aan die ander kant van die pad sien, kan eenvoudig nie waar wees nie.

Het die twee dan geen skaamte nie? Om sommerso in die openbaar te staan en soen en dít terwyl die motors heen en weer beweeg.

Peter is onbewus van wat aangaan en dis eers toe hy ’n ent verder is dat hy agterkom Martin is nie meer langs hom nie.

Hy draai om en kyk in Martin se verskrikte gesig vas.

“Martin, wat gaan aan? Dit lyk asof jy ’n bose gees gesien het.”

Martin se mond gaan stadig oop. Ewe stadig kom die woorde oor sy lippe.

“Kyk ... daar ... anderkant,” sê hy en wys met sy vinger in die teenoorgestelde rigting.

Peter word yskoud. Alles word skielik nou vir hom ook duidelik.

Hy weet nou waarom Martin soos ’n soutpilaar na hom gestaar het.

Aan die ander kant van die pad staan sy Nicolene in die arms van Hannes Bruwer, die Hoërskool Scottsdene se grootste hartebreker.

Peter kan sy oë nie glo nie.

Dit kan eenvoudig nie waar wees dat sy droommeisie so laag gedaal het nie.

Die skok veroorsaak dat sy brein ’n paar minute lank nie helder kan funksioneer nie.

Hy wil iets doen, iets sê, maar sy bene weier om te beweeg en sy spraak is ’n rukkie heeltemal weg.

Hy kom tot verhaal en dan – sonder om te dink – tree hy op.

Hy wil vir Nicolene in Hannes se teenwoordigheid konfronteer en sommer vir Hannes ’n paar deeg­like opstoppers gee.

Niemand moet in sy slaai krap nie.

In sy haas om by Nicolene te kom, sien Peter nie die swaar vragmotor in die straat afkom nie.

“Pietie, pasop!” skree Martin so hard as wat hy kan, maar sy woorde val op dowe ore.

Al waarvan Peter bewus is, is Nicolene wat in Hannes se arms staan.

Martin se geroep maak dat Hannes en Nicolene gelyk opkyk.

Nicolene wikkel haar los uit Hannes se omhelsing toe sy sien hoe die vragmotor reg op Peter afpyl.

Die man agter die stuurwiel steek ’n sigaret aan, onbewus van die skoolseun in die pad voor hom.

Hy gewaar eindelik vir Peter en trap inderhaas rem, maar nie voordat staal en vlees ontmoet nie.

Die harde slag en veral Nicolene se “Nee!”-uitroep laat nuuskieriges verdwaas nader kom.

Martin hardloop tot by Peter en gaan langs hom kniel.

Toe Peter hom gewaar, fluister hy: “Julle moet wen. Doen dit vir my.”

Nicolene gil histeries. Dit lyk asof sy haar hare uit haar kop wil trek.

“Ek is jammer, ek is jammer!” sê sy oor en oor.

“Moenie nader kom nie,” keer Martin haar toe sy aan Peter wil raak.

“Dis alles jou skuld. Maak dat jy wegkom.”

Peter se liggaam gee een ruk. Omstanders gil hard en in die verte kom ’n ambulans haastig aangejaag.

Martin bars in trane uit.

Met ’n skok onthou hy van daardie vreemde droom waarvan Peter hom vertel het.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters