Verlede maand
Martha wil sterf van kommer oor missing Mandy
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste deel van ’n kortverhaal uit die pen van NORMAN EVERTSON, “Die Matrikulant”. Hoop julle lees sommer lekker aan dié enetjie!

MARTHA Adonis loop vir die soveelste keer na haar voorhekkie. Sy kyk op en af in die pad.

Daar is ’n diep frons op haar voorkop. Daar is steeds geen teken van Mandy, haar dogter, nie. Sy is bekommerd, want waar kan die kind tog wees? wonder sy.

Mandy is vanjaar in matriek. Vanoggend elfuur moes al die matrikulante by die skool bymekaarkom om hulle uitslae te ontvang.

Maar dit is nou al ná drie in die middag en sy is steeds nie terug nie. Het sy en haar maats dalk iewers gaan partytjie hou? Hulle sukses gaan vier?

As dit die geval is, kon sy ten minste eers by die huis ’n draai kom maak het, dink Martha vies. Of net gebel het. Dis mos waarvoor selfone daar is.

Vandag se kinders is tog so onbedagsaam, sug Martha. Sy draai om en gaan die huis binne.

Sy probeer besig bly om haar aandag af te lei, maar die onrustigheid wil nie wyk nie.

Sy maak weer ’n paar oproepe na Mandy se selfoon.

Dis elke keer dieselfde irriterende rympie: “The number you’ve dailed, is not avail­able at present. Please try again later.”

Dit raak laat. Teen skemer probeer sy nog ’n laaste keer. Dis dieselfde storie: voicemail.

MANDY kyk tussen die trane deur na die selfoonskermpie. Die woord “Mammie” verskyn daarop.

Dis weer haar ma. Seker al die twintigste oproep vandag.

Die foon hou op lui. Sy sit dit langs haar op die grond neer.

Sy sit met haar rug styf teen ‘n rotswand. Haar knieë is tot teen haar bors opgetrek. Haar kop is op haar knieë.

Sy is op Duiwelskop, ’n gevaar­like bergtop wat grens aan ’n afgrond omtrent so vier of vyf verdiepings hoog.

Die wind waai met rukke stormsterk tussen die klowe deur.

Mandy se bolyf ruk liggies soos sy snik. Trane stroom oor haar wange.

Haar regterhand klem byna krampagtig vas aan ’n stuk papier: haar matriekuitslae.

Sy vou die verkreukelde stuk papier met bewende hande weer oop; lees dan vir die soveelste keer die verdoemende woorde: “Die kandidaat kwalifiseer nie vir die Nasionale Senior Sertifikaat nie.”

In gewone taal beteken dit sy druip gr. 12. Sy raak weer saggies aan die huil.

Haar hart is seer. Sy is bitter teleurgesteld in haarself. Sy voel soos ’n mislukking.

Sy dink aan haar ma. Wat sy as enkelouer alles deurgemaak het om haar ’n goeie opvoeding te gee.

Haar ma is ’n nederige maar trotse mens wat alles in haar vermoë gedoen het om haar net die beste te gee.

Mandy dink aan die peperduur matriekafskeidsrok wat haar ma laat maak het en die spoggerige before-paartie wat sy gereël het.

Dis by dié einste partytjie dat Martha trots aangekondig het haar dogter gaan in die regte studeer – om ’n advokaat te word.

En kyk wat het nou gebeur. Hier sit sy met ’n druiprapport. Dit gaan haar moeder se hart breek.

Sy wou haar dierbare moeder so trots maak. Pleks van blydskap bring sy haar nou hartseer. Haar ma gaan diep teleurgesteld en seergemaak wees. Om van die vernedering nie eens te praat nie!

Mandy wonder hoe sy haar ma al die seer kan spaar. Sy sug swaar en diep; staar ’n ruk nikssiende voor haar uit. Sy gryp haar kop vas. Sy is moeg gedink. Sy weet nie meer watter kant toe nie. Dan neem sy ’n besluit ...

Mandy vee die trane van haar gesig af en staan op. Sy loop stadig na die rand van die afgrond en kom op die kant tot stilstand.

Sy huiwer en kyk ondertoe. Dis ver ondertoe, maar dit sal gou gaan.

Binne enkele sekondes sal alles verby wees, dink sy. Sy sluit haar oë en prewel: “Here, vergewe my.”“DANKIE, Sersant,” sê Martha en beëindig die selfoongesprek. Sy het besluit om tog maar die polisie se hulp in te roep.

Sers. Vernol Kleyn het haar verseker hulle sal onmiddellik ’n soektog van stapel stuur. Hy het ook gesê hy sal na haar huis toe kom om ’n foto van Mandy te kry.

Vyf minute later is hy daar.

Sy oorhandig ’n foto van Mandy aan die geregsdienaar wat so uit sy pad gaan om haar te help.

Daar word dan so sleggepraat van die polisie. Maar hierdie jong polisiebeampte beïndruk haar regtig; sy voel klaar beter.

Sers. Kleyn neem die foto en verseker haar weereens dat die polisie alles in hulle vermoë sal doen om haar dogter te vind.

Dit bring ’n mate van vertroosting, al kry Martha nie die gevoel afgeskud dat iets met haar kind gebeur het nie.

Sy weet sy gaan nie vannag slaap nie; daarom neem sy ’n slaappilletjie net voordat sy in die bed klim.

Sy staar na die plafon en bid met oop oë dat die Allerhoogste sy Hand van beskerming oor haar kind sal hou. Dit vat ’n paar minute voordat die pil sy werk doen.

DIE volgende oggend is daar ’n dringende klop aan haar deur.

“Dis die polisie,” kom die antwoord op Martha se vraag.

Sy verwag sommer onmiddellik die ergste.

Sy sien dis dieselfde polisieman, sers. Kleyn. Sy gesigsuitdrukking verklap nie veel nie. Martha wag angstig dat hy begin praat. Haar mond voel skielik droog.

“Môre, mev. Adonis. Jou kind is …”

Dan lui ’n selfoon iewers. Dis sers. Kleyn s’n. Sy amptelike foon.

Hy lig sy linkerhand verskonend en vra of hy gou die oproep kan beantwoord; dis sy bevelvoerder.

Martha knik, maar sy is erg op haar senuwees. Wat wou hy sê van haar meisiekind?

Sers. Kleyn draai om en loop tot op die stoep. Hy is egter steeds binne hoorafstand.

Martha se gedagtes is nou skoon op hol. Het hulle haar gekry? Is sy oukei? Sy het nie dalk iets …

Nee, sy moenie eens daaraan dink nie!

“Maar dis dan net ’n blok van waar ek nou is, Kolonel,” onderbreek die beampte se stem haar gedagtegang.

“Ek vertrek onmiddellik soontoe,” sê hy en beweeg haastig in die rigting van sy patrollievoertuig.

“Maar, Sersant, wat van mý … en my kind?

“Het julle haar opgespoor?” skree Martha agter hom aan.

“Jammer, Mevrou, maar ek moet ongelukkig gaan. Ek word dringend benodig.

“Daar’s ’n gewapende rooftog net hier aan die agterkant.

“Alle beskikbare manskappe word benodig. Maar ek keer so gou as wat dit moontlik is terug na u!” skree sers. Kleyn onderwyl hy met skreeuende bande wegtrek.

  • Lees volgende Sondag verder.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters