3 maande gelede
Marky vermoed Deidre is steeds in die kompleks
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Marky haas hom na die flat van sy bevelvoerder se dogter, waarheen Deidre ook gegaan het. Daar gekom, ontken Cynthia, die dogter, Deidre was ooit daar. ’n Briesende brig. Ndlozi daag ook op en dring daarop aan dat Marky sy dogter uitlos. Maar Marky vat ’n vet kans deur aan sy baas te sê hy, wat Marky is, dink die brigadier en sy dogter lieg vir hom. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van Kry vir Jou deur ELDRIDGE JASON.

BRIGADIER Simphiwe Ndlozi het ’n wilde dier-uitdrukking in sy oë. Vir Marky lyk dit asof hy op die punt is om ’n stroke te kry.

Daar is ’n wit laag skuim om sy mond. Spoegdruppeltjies spat in alle rigtings. Marky onderdruk met moeite die gedagte om aan die koes te gaan.

“As jy dink jy is besig om ’n grap te maak, moet ek jou nou al sê ek dink nie jy is funny nie,” sis die brigadier. “En jy kan jou nou al klaarmaak vir ’n disciplinary hearing, mannetjie.”

Marky staan arms gevou en luister na sy bevelvoerder se tirade.

Dan vang sy oog Cynthia, wat nog hier naby haar pa staan.

Verbeel hy hom of gloei sy van trots oor Daddy haar so in die kwaad sterk?

Marky sug. “Maar dan moet Brigadier maar so maak,” sê hy gelate. “Brigadier sal dan ook maar net moet please explain hoekom die twee mans wat vermoor is dieselfde twee is wat groot rolle gespeel het in die verkragting van u dogter.”

Dit lyk asof brig. Ndlozi ’n hele slangkolonie kan vang.

“F*k hier uit!” gil hy. “Wat wil jy dan nou kom sê – my Cynthia is ’n suspect?”

Marky stap sonder ’n verdere woord uit die woonstel uit.

Hy vat die hysbak na die grondvloer en daar gekom, pyl hy reguit op die ontvangsdame af.

Hy haal sy selfoon uit sy sak en soek met moeite daarop rond.

Dan kry hy die foto wat verlede jaar op hulle jaareindpaartie gevat is en druk dit onder die ontvangsdame se neus.

“Was hierdie meisie vroeër hier?”

Die ontvangsdame staar lank na die foto. “Dit is darem ’n out of focus pic. Hoeveel megapix–”

“Dame,” bulder Marky, “hierdie is ’n saak van lewe en dood!

“Ek het nou regtig nie die krag om oor fancy selfoon-k*k te praat nie. My phone is anyway net daar vir hallo en koebaai sê.”

Die meisie staar hom met gekweste oë aan. “Dit is nie nodig om so rude te wees nie.”

Marky blaas sy asem hard uit.

“Oukei, oukei,” sê die meisie. “Ek herken haar, ja. Konstabel Slow, Douw of ’n ding ...”

“Louw,” sê Marky bot. “Konstabel Louw.”

“Dis mos wat ek gesê het,” antwoord die meisie astrant. “Anyway, as jy ophou om my te correct, sal ek kan sê sy was wel hier en is toe op na juffrou Ndlozi. Nes jy ook nou daar was.”

Marky voel ’n opwindende, tintelende gevoel deur hom bruis.

“Jy sê sy was daar?”

Die ontvangsdame knik. “Hoeveel keer moet ek dit dan bevestig?”

Marky loer om hom rond en merk dan die CCTV-kameras op wat diskreet op sekere plekke geïnstalleer is.

“Werk hierdie kameras? Record dit?”

Die ontvangsdame wip haar. “Natuurlik werk dit. Ons is baie daarop ingestel om ons tenants se veiligheid te verseker.”

Marky is min gespin oor haar houding. “Nou waar kan ek die footage view?”

Die meisie staan van haar stoel op. Rug stokstyf. Bloedrooi lippies dun getrek.

Tipies van iemand wat haar speelgoed uit haar kot gooi wanneer sy nie haar sin kry nie, dink Marky grimmig.

“Volg my, asseblief,” sê die meisie koud. “Ons operasionele kamer is net hier om die draai.”

Marky volg haar en sukkel om sy oë van haar swaaiende heupe te hou.

Hierdie girl is vol drama, maar sy is gebou om te hou, dink hy.

Sy stop so vinnig dat hy amper in haar vasloop. Daar is ’n beterweterige glimlaggie op haar gesig. So asof sy weet hy het heeltyd geloop en haar stêre dopgehou.

Sy gee ’n kloppie aan die deur en maak dit dadelik oop.

Marky let die maer puisiegesig-ou op wat voor ’n hele vrag TV-skerms sit. Dit vertoon verskillende vloere en gange in die gebou.

“Lucian, dié polisieman wil graag ons footage van vroeër sien,” sê die meisie sonder om die twee mans aan mekaar voor te stel.

Lucian frons en draai sy stoel om. “Ek kan dit mos nie net vir enige Jan Rap en sy maat gee nie. Daar moet eers toestem–”

“Toestemming se gat,” val Marky hom in die rede. “Daar is ’n lewe op die spel. Wil jy hê ek moet sorg dat jy in Pollsmoor opeindig vir dwarsboming van die gereg?”

Lucian se oë raak pieringgroot. ’n Rooi kol slaan vanuit sy nek af uit en laat die puisies in sy gesig nog geler vertoon. Marky gril.

“Ek soek jou hulp, boetatjie. Of wil jy eerder met ’n pot Vaseline êrens gaan vakansie hou?”

Lucian draai haastig om en tokkel met sy vingers op die sleutelbord voor hom.

Marky draai na die meisie. “Hoe laat was konstabel Louw hier?”

’n Oulike fronsie verskyn tussen haar oë soos wat sy kliphard try om te dink.

“So tussen ... 13:00 ... 14:00?” sêvra sy.

Marky knik. Dit maak vir hom sin, want daardie tyd was hy by sy afspraak by dok Jansen.

“Oukei,” sê hy aan Lucian. “Fast forward jou images so van 13:00.”

Marky staar verdiep na die skerms terwyl die beelde vinnig verbyflits. Dan sien hy Deidre na die ontvangsdame toe stap.

“Stop!” gil hy. “Daai is die meisie wat ek soek. Rewind so ’n bietjie.”

Lucian gehoorsaam, daai vakansie in Pollsmoor nog vars voor sy geestesoog.

Marky voel hoe sy hart kliphard in sy borskas bons toe hy sien hoe Deidre met die ontvangsdame praat.

Dan, nes die ontvangsdame gesê het, gaan Deidre op na die sesde vloer, waar sy uitklim.

Die CCTV-beeldmateriaal wys hoe Deidre aan Cynthia se deur klop, hoe sy binnegaan en hoe die deur agter haar toegemaak word.

“U verstaan natuurlik dit is so ver ons surveillance strek. Privaatheid van ons tenants, mos,” sê Lucian. Hy ontwyk Marky se blik.

Hulle hou ’n paar minute lank die beeldmateriaal van die volgende uur in die gang dop, maar daar is g’n teken van Deidre nie.

“So, sy het nooit by daai woonstel uitgekom nie ...” prewel Marky.

Hy draai na Lucian. “Ek reken jy is ’n perv en ek laat my nie flous dat jy nie oë in daardie flat het nie. Wys my wat in die mooie juffrou Ndlozi se flat aangaan of dis aan in Japan.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters