3 maande gelede
Marky se baas vlieg hom in oor moordondersoek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Marky gee Deidre opdrag om deur die dock­ets van ’n ou verkragtingsaak te gaan. NastyBoy G is van verkragting aangekla, maar regter Arends het die saak uitgegooi. Marky kan Deidre nie dadelik help nie, want hy moet ’n sielkundige sien. Ná sy afspraak kom Marky agter hy het ’n oproep van Deidre gemis. Die voicemail van haar laat Marky besef NastyBoy G se victim was niemand anders nie as hulle bevelvoerder se dogter. Marky kan Deidre nie in die hande kry nie en wonder wat aangaan. Geniet nou hoofstuk 7 van Kry vir Jou deur ELDRIDGE JASON.

DIT voel vir Marky asof sy bors besig is om toe te trek.

Hy ruik ’n rot. ’n Rot wat blykbaar hier by sy polisie­stasie werksaam is.

Cynthia Ndlozi… wannabe-model. Dogter van brig. Simphiwe Ndlozi. Na bewering verkrag deur NastyBoy G, maar toe gooi die vermoorde regter Bennie Arends die saak uit.

NastyBoy G en regter Arends word albei kort ná mekaar vermoor en die brigadier rek nie sy bek hieroor nie.

En nou antwoord Deidre nie haar selfoon nie.

Hy wat Marky is, neem aan sy het Cynthia gaan sien.

Marky blaai weer deur die dossier en kry waarna hy soek – Cynthia se adres.

Hy skryf die adres haastig op ’n stukkie papier neer en druk dit in sy sak.

Sy mind is opgemaak. Hy gaan ook ’n draai by Cynthia maak.

Toe Marky ’n halfuur later by Cynthia Ndlozi se woonstelkompleks stilhou, val sy mond wawyd oop.

Hulle kan maar net sowel ’n geldgatte-woon-hier-bordjie voor die gebou geplant het, dink hy vies.

Waar kry Cynthia dan die geld om lekker cosy in die skadu van Tafelberg te woon?

Hy twyfel of brig. Ndlozi juis ’n kleinhuisie vol geld verdien.

Marky stap met lang hale die gebou binne. Die plek lyk massief en hy merk dadelik die ontvangs-gedeelte op.

“Good day, Sir,” groet die ontvangsdame. Haar oë dwaal na sy flenter-jas en verbleikte jeans.

Verbeel hy hom of sien hy afkeuring in haar oë?

“Good day,” groet Marky terug. “I’m here to see Miss Cynthia Ndlozi.”

“Does she know you’re coming?” vra die ontvangsdame en loer agterdogtig na hom.

Dis vir Marky duidelik mense van sy gebrek aan statuur kom nie gereeld hier nie.

Hy skud sy kop. “I’m a police officer and would like to have a word with her. I know her father.”

Die meisie tel die telefoon langs haar op en skakel ’n nommer.

Marky draai om en drink die weelde rondom hom in.

Eendag wanneer hy die PowerBall wen, kom koop hy ook vir hom ’n flat hier tussen die ice cream-k*kkers, dagdroom hy.

“Miss Ndlozi says she is actually on her way out, but she can see you for a few minutes,” onderbreek die meisie sy gedagtegang.

Sy beduie Marky in die rigting van die hysbakke en dan, asof sy met ’n kind praat, vertel sy veels te breedvoerig aan hom op watter vloer om af te klim.

Marky knik net en stap na die hysbakke.

Hy gaan maar nie wonder oor hoekom hulle gesprek in Engels moes plaasvind as die meisie duidelik self meer Afrikaans as Engels is nie.

Op die sesde vloer gekom, is hy verbaas toe hy uitklim en Cynthia Ndlozi gewaar.

“My pa is ook op pad hierheen. Ek het hom gebel en gesê jy is hier,” sê sy in vlot Afrikaans nog voordat hy hom kan voorstel.

Sonder ’n verdere woord draai sy om en stap haar woonstel binne.

Marky het geen ander keuse as om haar te volg nie. Cynthia maak die deur agter hulle toe en wys aan Marky om die gang af te stap.

Daar gekom, bevind hy hom in ’n sitkamer wat groter as sy hele woonstel is.

“Waarmee kan ek help?” vra Cynthia koud, maar voordat Marky kan antwoord, gaan sy voort: “Jammer as ek nie drup van gasvryheid nie, maar ek het nie veel ooghare vir die polisie nie.

“My pa is nou wel ’n cop, maar die res van julle boesem nie juis veel vertroue by my in nie.”

Marky trippel verleë rond en weet nie wat om te sê nie.

“Jy kan sit as jy wil,” bied Cynthia traag aan. “Maar moenie dink ek gaan vir jou koffie of enige iets aanbied nie.”

Marky bly staan. Cynthia se gebrek aan gasvryheid steek hom dwars in die krop en besides, sy holle gaan nie gemaklik voel om op daai peperduur couch te sit nie.

Hy vervies hom in die stilte vir die openlike vyandigheid van die jong meisie voor hom.

Sy is nou wel sy baas se dogter, maar jis, dit kos mos niks om goeie maniere te hê nie.

“My kollega… Deidre Louw, sy was vroeër hier by jou.”

Marky merk ’n effense ruk­beweging van Cynthia se kop op.

Verbeel hy hom of lyk sy effe vaal in die gesig? Cynthia herwin gou haar pose.

“Ek weet nie van wie jy praat nie,” antwoord sy kortaf. “My pa het gesê–”

“Jou pa het gesê ek moet my werk doen en dit is wat ek besig is om te doen,” val Marky haar in die rede.

Skroef haar, dink hy vies. Two can play this game as sy vir haar kwaai wil hou.

“Ek neem aan jy weet NastyBoy G en regter Arends is albei onlangs vermoor?”

Weer ruk haar kop effentjies. Verbeel hy hom of bewe haar onderlip?

“’m, So op die nuus gesien, ja,” antwoord Cynthia ontwykend.

Daar is ’n klop aan haar voordeur en Marky kan nie anders as om die verligting op die jong meisie se gesig te bespeur nie.

Brig. Ndlozi storm binne soos ’n bul wat rooi gesien het.

“Marky Marcus, wat te hel dink jy doen jy?” bulder die brigadier al van ver af.

“Het jy niks beters om te doen as om my dogter te kom harass nie? Wat het sy buitendien met jou werk te doen?

“Het jy nie opdrag gekry om die killer vas te trek nie?”

“Maar dit is juis wat ek besig is om te doen, Brigadier,” sê Marky. Hy is as aan met sy bevelvoerder se uitbarsting.

“Louw het ’n boodskap op my selfoon gelos dat sy op ’n verband afgekom het tussen die moord op Arends en NastyBoy G en jou dogter.

“Sy claim nou Deidre was glad nie hier nie, maar Deidre het in haar voicemail gesê sy kom hierheen.”

“Wat probeer jy sê?” bulder brig. Ndlozi. “Dat my dogter lieg?”

“Ja, Brigadier,” sê Marky uitdagend. “Maar dis nie al wat ek sê nie. Ek glo dis nie net sy wat vir my lieg nie, maar jý ook.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters