3 maande gelede
Marky en Deidre try om dots in die moorde te connect
 ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Tweede moord, hierdie keer op ’n bekende Afrikaanse rapper, laat Marky en Deidre besef hulle het dalk met ’n reeksmoordenaar te doen. Maar wat is die verbintenis tussen ’n vermoorde regter en die rapper? ’n Papiertjie met die woorde “Kry vir jou” is op al twee moordtonele gevind. Geniet nou hoofstuk 5 van Kry vir Jou, deur ELDRIDGE JASON.

MARKY sit by sy lessenaar en vryf oor sy oë toe Deidre voor hom kom staan.

Sy het ’n vel papier in die hand en begin dit dadelik lees.

“Djy’t geko soese tief innie nag . Mette vrag gattas om vi’ my op te tel. But kaantie, djy maak djou laat. Cos why ... An my kant issie law ennie staat.”

Marky sug. “As daai jou attempt is om die police force te los en eerder ’n poet te wil word, moet ek nou al vir jou sê djy maak jou laat. Nog voordat djy begin.”

Deidre lag hardop, maar hou dan haar hand voor haar mond wanneer mense in hulle kantoor nuuskierig in hulle rigting kyk.

“Jy is amper so funny soos Trevor Noah,” sê sy.

“Maar ek het nie enige planne om my day job te verlaat nie. Hierdie is die lirieke van een van NastyBoy G se songs.”

“Wat ’n klomp k*k,” vaar Marky uit. “En jy sê hierdie ou is famous?

Deidre knik. “Anderkant famous, maar dis eintlik die konteks van hierdie woorde wat my aan die wonder gesit het.”

“Hoe so?” vra Marky en laat rus sy ken op sy ineengestrengelde hande.

“Hierdie is die woorde uit NastyBoy G se hit song ‘Djy maak djou laat’,” verduidelik sy.

“Hy het hierdie song geskryf toe hy daarvan beskuldig is dat hy jong meisies wat saam hom in die song se music video was, bedwelm en verkrag het.”

Marky fluit deur sy tande. “Wat het van die saak geword en hoekom weet ek dan nie hiervan nie?”

“Dit was in die tyd toe jy op verlof was, Kaptein.”

“En as jy nou so serious is?” vra Marky verbaas.

Deidre trek haar skouers op. “Ek is nie dom nie,” antwoord sy dan. “Ek weet daar is mense wat dink ons werksverhouding is darem net te cosy. Ek hou maar net die blink kant bo.”

Marky grinnik. “Laat die mense loop k*k.”

Hy sê dit aspris hard genoeg sodat die res in hulle kantoor dit hoor.

As sy kollegas dit hoor, steek hulle dit baie goed weg, want almal is die ene konsentrasie terwyl hulle na hulle rekenaars se skerms staar.

Marky draai terug na Deidre, wat hom geskok aangaap.

“So, wat maak NastyBoy G se lirieke so interessant?” vra hy. “Het dit enigsins met ons saak te make?”

“Ek dink so ... ’m ... Kaptein,” antwoord Deidre en sit die papier voor hom neer.

“Wat vir my baie interessant is, is dat ons oorle regter Bennie Arends die saak teen NastyBoy G verhoor en dit toe uitgegooi het.

“Ek het ’n bietjie gaan google en gelees Arends het bevind die staat het nie ’n sterk saak nie en die omstandigheidsgetuienis is nie genoegsaam om NastyBoy G skuldig te bevind nie. Dit was nie lank daarna nie toe die liewe regter en NastyBoy G saam gekiek is op ’n social event.”

“Toeval?” vra Marky. “Is dit nie maar blote toeval dat albei in die verlede al van seksverwante misdrywe beskuldig is nie?”

Deidre skud haar kop. “Is dit nie ’n sekere kaptein wat my vanaf dag een geleer het daar is nie iets soos toeval nie?

“ ’n Sekere kaptein wat nie nou die dots wil connect nie?”

Marky trek sy skouers op. “Klink vir my of daai sekere kaptein ’n medalje verdien,” grap hy.

Deidre trek ’n stoel nader en kom sit by Marky se lessenaar.

“Die stories het maar altyd geloop dat regter Arends betrokke is by ’n netwerk wat op jong meisies prey. NastyBoy G het ook glo ’n voorliefde vir jong meisies gehad.

“Wat is die kanse dat een so ’n meisie wat in hulle kloue was dalk revenge kon geneem het?”

“Nie onmoontlik nie,” antwoord Marky en frons. “Maar ek neem aan daar moes baie van hierdie meisies gewees het.

“En dit, my liewe, formele kol­lega, beteken baie ondersoekwerk vir ons. Kry solank alle dockets oor die bewerings teen die regter en NastyBoy G in die hande en dan –”

“Het dit al aangevra, Kaptein,” val Deidre hom met ’n smile in die rede.

“F*kk*t,” ek het jou veels te goed getrain,” sê Marky en lag.

“Sodra daai dockets op jou desk beland, maak jy werk daarvan en kom sê my as jy op iets interessants afgekom het.”

Hy staan op en gryp sy verweerde polisiejas wat oor sy stoel hang.

“En waarheen gaan Kaptein?” vra Deidre. “Moet ek ál die werk alleen doen?”

Marky grinnik. “Ek het jou mos mooi getrain en hoef nie jou hand vas te hou nie.

“Besides, ek het ’n afspraak wat ek nie kan misloop nie.”MARKY vervies hom dat hy nie maar eerder na sy afspraak gestap het nie.

Dit is immers nie ver van hulle gebou af nie en dit neem hom amper ’n halfuur om parkeerplek te kry.

Vies stap hy die gebou binne en pyl op die ontvangsdame af.

“Dokter Jansen, asseblief,” sê Marky.

“Het u ’n afspraak?” vra die ontvangsdame koel.

Natuurlik het ek ’n afspraak! Sal ek dan uit verveeldheid ’n blerrie sielkundige kom sien?

Hy uiter hierdie gedagtes nie hardop nie, blaas sy asem stadig uit en sê dan met groot moeite en geduld: “Die dok verwag my en, ja, ek het ’n appointment.”

Die jong meisie is min gespin met sy houding en wys aan hom om op een van die duur leerbanke te gaan sit. Marky gehoorsaam vies.

Hy verstaan nie hoekom hy dok Jansen moet kom sien nie, maar Ndlozi het maande gelede al hierop aangedring.

“Jy gaan sien ’n kopdokter of ek fire jou,” het Ndlozi gedreig.

Niemand anders op kantoor weet van sy problems en dat hy nou ’n sielkundige moet sien nie. Nie eens Deidre nie.

’n Saaikollodjis, het hy altyd gespot. Iemand wat kolle saai. En nou is hy, Marky, op f*kk*n 45-jarige ouderdom die een wat sielkundige hulp nodig het.

Ndlozi glo vas die werk en al sy stres mors met sy kop. Maar dit was mos net een keer dat hy Ndlozi een aand dik gesuip en met sy dienspistool teen sy kop gebel en gedreig het om sy brein weg te blaas. Dit was net die een keer en het nie weer gebeur nie.

“Dokter is reg vir u,” sê die ontvangsdame steeds in haar koel stemtoon.

Marky sug en staan swaar op. Hy kan maar net hoop Deidre maak meer vordering as hy.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters