28 dae gelede
Marky en Deidre face hulle baas en hy is woedend
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Speurkapt. Marky Marcus en sy kollega konst. Deidre Louw word ontbied om die dood van ’n bekende regter, Bennie Arends, in sy huis te ondersoek. Deidre vermoed dis ’n moordtoneel wat gelaat is om te lyk soos ’n selfmoord. Marky stem saam. En toe hulle die liggaam van nader bekyk, bemerk die twee ’n stukkie papier nog in sy hand geklem. Hulle vermoedens word bevestig toe hulle die stukkie papier uit die hand trek en lees wat daarop geskryf is: “Kry vir jou, Regter, kry vir jou...” Geniet nou hoofstuk 3 van Kry vir Jou... deur ELDRIDGE JASON.

‘EK DINK nie dit was selfmoord dié nie,” herhaal Marky.

“Ek het jou vroeër gehoor,” sê Deidre kortaf, maar voeg vinnig by: “Sorry, ek wil nie jou kop afbyt nie, maar as dit ’n moord was, maak dit my baie nervous.

“Jy weet wat dit beteken: ’n High profile-saak waarvan al wat ’n politician is weer ’n kenner gaan wees.”

Marky grinnik. “En waarin ons weer op die nuusbulletins gaan wees van al wat ’n TV-stasie is.”

“Ek kan nie sien hoe jy kan dink dis snaaks nie,” brom Deidre.

“Regter Bennie Arends was ’n struggle hero – ’n kader wat nog baie invloed en aansien in ANC-kringe gehad het.

“Wanneer ek so rondkyk, sien ek ’n lifestyle wat nie deur net ’n salaris onderhou kon word nie. Dít beteken ’n klomp geraamtes in die kas vir ons ondersoek.”

Marky knik. “Ek hoor jou. En om eerlik te wees, ek’s nie lus vir die sirkus wat nou gaan volg nie, maar iemand is vermoor, al is dit nou ook die liewe regter wat so vol van homself was.

“Hier is baie dinge wat nie sin maak nie, soos dat geen gedwonge toegang tot dié kasteel van ’n huis verkry is nie.

“Ek meen, die plek het ’n sekerheidstelsel wat skrik vir niks, maar die security-maatskappy is nie gekontak nie en op die oog af lyk dit ook nie asof enige iets gesteel is nie. So –”

“So, hy het sy killer geken,” val Deidre hom in die rede.

“Moet jy altyd so in my bek mors?” vra Marky kamma kwaad.

Deidre pruil haar lippe en sê: “Iémand moet dit doen.”

Marky staar na haar lippe en toe hy besef hy doen dit, kyk hy vinnig na die stukkie papier met die kriptiese boodskap.

“Ons sal Ndlozi moet inlig,” sê hy kortaf.

Deidre skud haar kop. “Eerder jy as ek. Ek het regtig nie lus vir ons SK nie. Anyway, jy is die senior.”

Marky beduie na die papiertjie en vra: “Wat dink jy was dit wat Arends vir hom moes kry?”

Deidre trek haar skouers op en sê: “Who knows? Dalk ’n lewe?

“Gepraat van dit, het die oorle’ regter familie gehad?”

Marky skud sy kop en sê: “Hy was ’n weeskind. Ouers dood in ’n kar-ongeluk toe hy sewe was. Hy was die enigste oorlewende.

“Hy het regte gestudeer toe hy in exile was.

“Hy is ná die ’94-verkiesing getip om as regter-president van die land aangestel te word, maar om een of ander rede het dit nooit gebeur nie.”

“Maar jy ken die oorle’ regter darem vetterig,” sê Deidre uit die veld geslaan.

Marky grinnik. “Toe ek hom jare gelede gedurende ’n ondersoek in sy chambers besoek het, het hy my een van die boeke gegee wat hy geskryf het.

“Hy’t gesê ek sal dadelik besef dat ek hom met meer respek moet behandel.

“Ek het net die eerste paar bladsye gelees, want ek het nie kans gesien vir die res oor ’n man wat homself ophemel nie.”

Deidre vra: “En het jy toe groter respek vir hom gehad?”

Marky snork hard en sê: “Die ou mense het altyd gesê ’n mens moenie sleg praat van die dooies nie, maar ek kan nie vir myself lieg nie.

“Bennie Arends se lewe was net oor Bennie, Bennie, Bennie ... Hy was een van daai ouens wie se roll-on onder sy arms nooit droog geraak het nie.”

Deidre frons. “Die saak wat jy destyds met hom bespreek het, hoe het hy daarin gefit?” vra sy.

Marky trek sy skouers op. “Een of ander kinderpornografie-sindikaat waarmee high profiles se name verbind is, insluitend syne, maar daar was nooit evidence nie,” antwoord hy.

“Kan dit wees ..?” vra Deidre en bly dan ’n oomblik stil. “Kan dit wees dat sy moord iets met daardie saak te doen het?”

Marky weeg dié vraag op, maar skud dan sy kop en sê: “Ek twyfel. Dit was meer as 10 jaar gelede. Wie sal vir so lank ’n grudge hê, maar nie daarop act nie?”

“You never know,” antwoord Deidre. “Dalk iemand wat geglo het karma slaan op die regte tyd toe?”

Marky skud sy kop heftig. “Hoogs onwaarskynlik,” sê hy, “maar ek sal dit tog oorweeg.

“Kom ons wrap hier op en gaan sien ons baas. En berei jou maar voor. Ons gaan vandag behoorlik uitgek*k word.”

Die sweet tap brig. Simphiwe Ndlozi behoorlik af toe Marky en Deidre by sy kantoor instap.

Die air con is tot Ndlozi se ergernis buite werking – al weer!

“Wat hoor ek van moord!? Is julle bef*k!?” skiet Ndlozi sommer vanuit die heup.

Marky en Deidre loer verbaas na mekaar.

“Hoe weet Brigadier?” vra Marky. “Ons het dan reguit van die toneel hierheen gekom om u eerste in te lig oor ons vermoedens.”

“Daai crime reporter van die Son het my gebel,” blaf Ndlozi, en vra dan: “So, julle het julle suspicions met niemand gedeel nie?”

“Niemand, ons sweer,” antwoord Marky terwyl hy sy kop skud.

“Dan sien Son mos regtig alles ...” probeer Deidre om die mood te lig, maar Ndlozi gee haar ’n panga-kyk wat haar die res van haar sin laat sluk.

“So? Staan julle net hier vir die show?” blaf Ndlozi. “Is dit net ’n liegstorie van ’n journo wat sensasie soek of is regter Arends regtig vermoor?”

Marky asem saggies uit en sê kalm: “Ek is bevrees ons het ’n sterk vermoede dis wel die geval, Brigadier.

“Die nadoodse ondersoek sal ons meer duidelikheid gee, maar die briefie –”

“Briefie? Watse briefie?” val die brigadier Marky in die rede. “Noudat ek daaraan dink, daai journo hét nogal iets van ’n boodskap genoem.”

Marky ignoreer dié inligting en vertel die brigadier oor hulle ontdekking van die stukkie papier.

Ndlozi kry ’n somber kyk in die oë en blaf skielik: “Moenie daar staan en ginnegaap nie. Gaan soek daai killer of gaan soek vir julle ’n ander job.”

  • Lees more verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters