23 dae gelede
Mabuza sê vir Zee Luke het darem ’n deurbraak gemaak
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet nou die negende hoofstuk!

ZENLEE stap met bewerige bene die nagklub in Bell­ville binne.Haar oë vang die spieël in die voorportaal.

Die bloedrooi mini en rooi stiletto’s laat haar soos ’n goedkoop tert vertoon.

Geen wonder die wag by die deur het haar met afsku aanskou nie.

Sy voel asof die swart pruik nog in posisie is.

Toe ’n besope kalant nader beweeg en suggestief teen haar skuur, mik sy uit sy pad.

Op daardie oomblik pyl die lenige wag op haar af.

Voordat sy kan reageer, het hy haar arm in ’n stywe greep beet en marsjeer met haar in die rigting van die badkamer.

Sy wag totdat hulle die half­donker gang bereik voordat sy tot aksie oorgaan.

Sy bring die rooi hak hard op sy voet neer en slaan hom met haar elmboog in die oog.

Voordat hy tot verhaal kom, het sy reeds ’n hou teen sy lugpyp geplant.

Hy steier teen die muur.

Agter haar weerklink Mabuza se bekende lag op.

“Ek het jou onderskat, inspekteur Zee.”

Hy stap haar met ’n breë glimlag tegemoet en beduie met sy kop na bo.

“Kom, my kantoor sit bo.”

Sy volg hom woordeloos teen ’n stel trappe op.

Aan die bopunt sluit hy ’n donker metaaldeur oop.

Toe hulle binne is, bied hy haar ’n stoel aan.

“Wat de hel soek jy by Bryan Cupido?

“Het ek jou nie uitdruklik gevra om te vergeet van hierdie mense nie?

“En wat is die storie met die outfit en pruik? Dit help nie jy wil jou nou wegsteek nie,” trap Mabuza haar uit.

“Ek móés eenvoudig oor Luke se agtergrond gaan delf,” antwoord Zee oorbluf oor Mabuza se tirade.

“Ek wil ten minste weet met watter monster ek in die bed gespring het.

“Bryan Cupido het ’n waghond op my spoor.

“Ek het die klere as vermomming aangetrek en ’n Uber gebruik om my hier af te laai.

“Ek kon darem iets uitvind by die Pirates se kantore en het besluit om Kaptein te nader met die inligting.

“Nou is ek hier om te hoor of jy weer iets van Luke gehoor het.”

Mabuza sug.

Die vroumens is darem hardkoppig, dink hy.

“Jy gaan niks van dié aard doen nie, Zee.”

“Ek moet die inligting aanmeld en dan ’n lasbrief kry om die Pirates se kantore te deursoek,” sê sy.

“Dink jy julle sal iets kry? Die lasbrief sal dalk nie eens toegestaan word nie.

“Die proses om een te kry, sal in elk geval net uitgerek word om die Pirates kans te gee om van die info ontslae te raak.

“Jy het nie ’n idee wie almal hierby betrokke is nie, Zee,” verduidelik Mabuza.

“Nou, sê my dan wie almal betrokke is, Mabuza.

“Moenie vergeet dat ek jou kan toesluit vir dwarsboming van die gereg nie,” antwoord Zee gefrustreerd.

Mabuza smile net oor haar dreigement.

“I am the only one that’s got your back, girl.

“Daardie info wat jy onder oë gehad het, is die rede hoekom jy nou hier sit.

“Ek stuur twee ouens om vanaand wag te hou.

“Ek sal seker maak jy is veilig. Moenie worry nie.”

Hy vryf oor sy kop.

“Solank jy net stilbly, sal jy veilig wees.”

“Mabuza, ek kan nie net stilbly nie. Al kos dit my lewe, sal ek sorg dat geregtigheid seëvier.

“Hoe kan jy verwag dat ek net stilbly?

“Dit is dan juis my werk om sulke tipe mense agter tralies te sit.

“Jy is natuurlik deel van die bedrog,” sê Zee met ’n verslaentheid in haar stem.

Dis asof Zenlee op daardie oomblik­ besef sy voer ’n verlore stryd.

Mabuza probeer haar gerusstel.

“Luke is binnekort terug. Hy het uiteindelik ’n deurbraak gemaak.

“Wag eerder totdat hy terug is voordat jy enige verdere­ stappe doen.”

Zenlee wonder of Mabuza ook die opgewonde klop van haar hart hoor ...

DIE biep van Luke se selfoon ruk hom uit die slaap. Hy gryp met bewerige vingers daarna.

Toe spring hy op en gryp sy stewels voor die bed en trek hulle haastig aan.

In die badkamer spoel hy sy gesig met koue water af.

Daarna gryp hy na die sak waarin die wapens versteek lê.

Die tyd op sy polshorlosie lees 02:45.

Hy spring in die bakkie wat voor die agterstoep wag.

Naby die afgesproke plek bring Luke die bakkie tot stilstand.

Hy gryp die sak en beweeg geruisloos deur die veld.

Op ’n heuwel gooi hy die sak langs hom neer.

Van hier af het hy ’n onbelemmerde uitsig oor die grondpad.

Die maan se silwer skynsel besorg hom net genoeg lig.

Hy sien die kopligte van ’n motor in aantog.

Dan haal hy die geweer uit die sak en neem sy posisie in.

Luke wag totdat die silwer dubbelkajuit-bakkie spoed verminder. Toe korrel hy. Die bestuurder se kop ruk agteroor.

Toe die passasier na die stuurwiel gryp, is Luke se vinger reeds om die sneller. Nommer 2 se kop word flenters geskiet.

Die deur vlieg oop toe die bakkie tot stilstand ruk. Nommer 3 duik vinnig op die grond en skarrel naarstig na skuilplek agter die bakkie.

Luke gooi die geweer neer en hardloop koes-koes teen die steilte af.

’n Paar meter van die bakkie af pluk hy ’n pistool langs sy sy uit.

Toe die nommer 3 sy kop uitsteek, ruk die koeël deur sy skedel.

Op die grond lê Scott Hilton.

Luke se oë beweeg stadig oor die toneel voordat hy wegstap.

So 30 km verder sien hy die wit plaashuis waar sy ma na bewering aangehou word.

Hy bring die bakkie tot stilstand. Dan gryp hy die geweer en nader die huis vanuit ’n westelike rigting.

’n Stilte begroet hom toe hy die breë stoep betree.

  • “Ek het lank gewag vir hierdie dag,” kom die stem van Ben Hilton skielik vanuit die donker huis.Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters