26 dae gelede
Luke wil niks hoor toe Mabuza oor Zenlee praat
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! “ ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet die sesde hoofstuk!

LANK nadat Moses weg is, sit Luke nog in dieselfde posisie. Hy kyk terloops na die selfoon in sy hand.

Hy verwag ’n oproep van Mabuza. Hy hoop nie Mabuza mors sy tyd nie. Sy grootste uitdaging is tyd. Hy leun agteroor terwyl sy gedagtes terugdwaal na daardie spesifieke aand toe hy die strandhuis verlaat het.

Hy probeer om nie aan Zenlee te dink nie. Dit sal sy denke beïnvloed en hy het ’n koelkop nodig vir wat voorlê.

Hy moes sy hande van haar afgehou en die aantrekking tussen hulle geïgnoreer het, maar hy moes haar eenvoudig syne maak.

Hy moes sy hart gee waarna sy liggaam smag.

Daar is ’n rede hoekom hy nie sommer ’n vrou in sy lewe toelaat nie.

Hy skud sy kop. Hy kan haar seker nie kwalik neem dat sy hom haat nie.

Hy kan maar net hoop dat sy eendag verstaan.

Hy was uiters versigtig toe hy Zenlee strandhuis toe gevolg het.

Hoe is hy gevind? Selfs nadat hy hom by haar aangesluit het, was hy steeds versigtig.

Hy het elke oggend gedraf om op dié manier die gebied te fynkam.

Saans wanneer sy slaap, het hy uitgesluip en minstens twee uur op die stoep waggehou. Net ingeval.

Hy voel sleg oor die feit dat hy slaappille in haar tee moes gooi, maar dit was vir haar eie beswil.

Zenlee is ’n speurder en sou mettertyd iets agterkom. Tog was die tydjie saam met haar een van die beste tye van sy lewe.

Daardie noodlottige dag het hy die vars spore naby die agterdeur gesien.

Hy het die spoor gevolg en later op die onbekende voertuig naby die hoofpad afgekom. Daar was drie ouens.

Hulle was aanvanklik onbewus van sy teenwoordigheid en hy het skuiling agter ’n duin ingeneem. Hulle moes iets agtergekom het, want skielik het die drie oorhaastig verdwyn.

Dit was toe nie Bryan Cupido wat dié keer agter hom aan was nie. Daarvan was hy seker toe hy die nommerplaat nagaan.

Vir die res van die dag was hy op sy hoede. Teen die aand se kant moes hy aan ’n plan dink. Hy het geweet hulle gaan iewers in die nag toeslaan. Zee was sy grootste kopseer.

Hy moes haar weer van die pille injaag en hoop sy skrik nie wakker nie. Hy het sy bedenkinge gehad om dit in haar wyn te gooi, maar hy kon nie vinnig genoeg aan ’n nuwe plan dink nie.

Nadat Zenlee op die mat omgeslaan het, kon hy tot aksie oorgaan. Hy moes haar eers in die bed sit. Daarna kon hy sy vuur­wapen uithaal.

Toe het hy die huis se ligte verdoof en gewag. Langer as ’n uur was daar nie ’n beweging nie.

Toe hoor hy die sagte voetval naby die agterdeur. Hy het hom na die kombuis gehaas, maar die persoon was reeds weg.

Op die kombuisvloer het hy die nota ontdek. Die instruksies was duidelik en hy moes dit tot op die laaste letter volg, anders sterf sy ma.

Soms vergeet ’n mens jou verlede. Ironies genoeg vergeet die verlede nie sommer van jou nie.

Hy het ’n tydjie voor die bed gaan staan om na Zenlee te staar.

Terwyl sy in ’n diep slaap verkeer het, het hy sy sak geneem en sy motorfiets tot anderkant die duine gestoot. Van daar het hy die langpad na die Oos-Kaap aangedurf.

Sy liggaam was oormoeg, maar sy gedagtes helder toe hy ná byna 1 000 km in Cradock aankom.

Hy het by die plaashuis ingestorm en van vertrek tot vertrek gesoek, maar nêrens was daar ’n teken van haar nie.

Die huis was in ’n toestand van algehele chaos.

Van daardie oomblik af het hy gewag. Totdat die ontvoerders ’n paar uur gelede kontak gemaak het.

Die gelui van sy selfoon ruk hom uit sy gedagtegang. Hy swiep met sy vinger oor die groen knoppie.

“Mabuza, ek hoop jy het goeie nuus vir my,” sê Luke.

“Ja, ek het. My man in Port Alfred is reeds op pad in jou rigting. Ek vra om verskoning vir die delay, maar hy moes met ? gangster van Oos-Londen onderhandel vir ’n goeie prys.

“Jy skuld my big­time, Luke. Ek moes die cash uit my sak flash.”

“Ja, ek weet. Ek sal jou betaal binne die volgende week of twee. Kon hy kry waarna ek soek?”

“Met die hand­granate by het die prys opgegaan.

Die kaliber wapens wat jy soek, het die ouens in Oos-Londen nog nie. Anders sou jy nog ? dag of twee moes wag vir een om dit uit Joburg te bring. Toe sê ek hulle moet gee wat daar is.”

“Dis reg, solank die patrone genoeg is, het ek nie ’n probleem nie,” sê Luke.

“Ek stuur die kontaknommer van die ou sodat julle kan reël vir ’n ontmoeting. Of moet hy plaas toe kom?”

“Nee, ek sal hom iewers langs die pad ontmoet. My pa se bakkie staan en roes blykbaar net.”

“Dis goed so. Luke­, oor Zenlee ...”

“Ek wil dit nie hoor nie, Mabuza. Doen waarvoor ek betaal,” sê Luke koud.

“Eendag gaan ek en jy mekaar raakloop, my vriend, en dan sal ek vergeet van lojaliteit en al daardie goed. Zee is my girl.

“Vat jy aan haar, dan vat jy aan my. Jy skuld haar at least ’n apology.

“Daai girl is ’n wrak oor jou.”

“Wat tussen my en Zenlee gebeur het, is tussen my en haar. Hou jou daaruit.

“Ek het jou reeds gevra om na haar te kyk. Sorg dat niks met haar gebeur nie.

“Doen jy jou deel en los die drama vir ’n ander dag.”

“Die hekke van die hel sal oopgaan as iemand try om aan Zee te vat,” sê Mabuza.

Luke glimlag. Hy weet Zenlee is veilig.

Die crush wat Mabuza op haar het, is legendaries.

Die eerste dag toe hy by die eenheid in Groenpunt aankom, was dit een van die eerste stories wat hy moes aanhoor.

Hy kon nie laat blyk dat hy Mabuza reeds ken nie.

“Dankie, Mabuza. Ons praat weer,” beëindig Luke die oproep.

Kort ná die oproep ontvang hy die ou se nommer van Mabuza.

Hy skakel die nommer en reël met die ou ’n ontmoetingspunt.

Toe lig hy sy lyf en beweeg die huis in.

Terwyl hy hom gereed kry, gaan een gedagte deur sy kop.

Die Hilton-broers het die verkeerde man aangevat.

Dié keer gaan hy hulle totaal en al uitwis.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters