29 dae gelede
Luke besef al sy sondes het hom eindelik ingehaal
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! “ ’n Man Soos Luke” is Gwendoline Kordom se jongste skryfstuk. Geniet die vyfde hoofstuk!

DIE gebrul van die ysterperd onder sy gewig is een van die min dinge in die lewe wat hom genot verskaf. Hy hou van die geraas wat die enjin maak.

Dit en die geknars van die bande wanneer hy op ’n gruispad tot stilstand kom. Maar vandag vind hy geen genot in die rit met sy Suzuki nie.

Hy moes eenvoudig sy motorfiets bestyg en vir ’n rukkie wegkom, al was dit nou om dorp toe te gaan.

As hy langer op die plaas moes vertoef, sou hy van sy kop af raak. Hy het lelik opgeneuk. En nou moet die persoon wat hy die liefste het, die prys betaal.

Hy moes geweet het sy sondes sou hom die een of ander tyd inhaal. Hy is nie ’n engel nie, maar wie op aarde is?

Hy moes al dinge doen – lelike dinge – en dit in die naam van die gereg. Dit alleen het hom in die proses baie vyande besorg.

Toe hy destyds die mag betree het, was dit met sterre in sy oë. Sy pa was jare lank die polisiekaptein in Cradock. En hy het natuurlik in sy voetspore gevolg, maar dit was nie genoeg nie.

Hy was van kleins af ’n man van aksie en het onmiddellik verder gegaan.

Hy wou in ’n taakmag wees, dwelms uitroei en bendebase uit die gemeenskap kry.

Hy moes nee gesê het toe Bryan Cupido met die eerste aanbod kom. Hy was die uitblinker in die span.

Die onderhandelaar, die gevegskunsstoeier en die analiseerder het hom raakgesien.

Die verkeerde mense. Toe Bryan aan hom verduidelik hoeveel geld hy vir een opdrag kry, was hy in. Niemand met gesonde verstand sê nee vir so baie geld nie.

Hy kon uiteindelik die plaas koop waarna sy pa smag. Solank niemand uitvind waarmee hy besig is nie.

Hy het daarna die wêreld platgereis, elke derde maand sy oë in ’n ander land oopgemaak. Hy was nie net ’n huursoldaat nie, hy was ’n moordenaar wat aan ryk, korrupte hoëkoppe se eise moes voldoen. Die betaling was uitmuntend. Toe hy ’n paar jaar gelede teruggekeer het nadat hy maande in die buiteland rondgeswerf het, het die Pirates hom opgesoek.

Groot was sy verbasing toe hy Bryan Cupido daar raakloop. Hy word toe saam met Bryan ingelyf as ’n taakmaglid, maar agter die skerms moes hulle steeds opdragte uitvoer.

Waar sy hart moet wees, is ’n donker gat. Te veel moorde, te veel siele, te veel demone wat hom treiter.

Die laaste teiken was Ricky Japhta. Toe hy misluk, stuur die Pirates Bryan agter hom aan. Hy het die eerste aanval oorleef. Ook die tweede.

En toe kom Zenlee.

Hy verloor amper beheer oor die motorfiets en dwing sy gedagtes weg van haar. Sy fokus is weer op die pad.

Hy verminder spoed toe hy die bekende afdraai na die plaas sien. Klippe spat in alle rigtings toe hy versnel.

Minute later kom hy met ’n sierlike swaai voor ’n ou plaasopstal tot stilstand. Die enjin ruk met ’n slag dood.

Hy ruk die helmet af en draf die trappe twee-twee kaf. Op die stoep sak hy in die naaste stoel neer. Sy oë beweeg stadig oor die landskap.

Die droogte van die laaste jare het die plaas ’n lelike knou toegedien. Hy sal binnekort van die werkers moet laat gaan.

Sy geld is bevries en dit beteken sy hande is afgekap.

Moses, die bestuurder en een van die betroubaarste werkers, kom vinnig in sy rigting aangestap.

Terwyl hy die trappe klim, gaan Luke se oë stelselmatig oor hom.

Moses se verrimpelde bakkies is op ’n plooi getrek. Hy haal sy hoed eerbiedig af toe hy uiteindelik voor Luke staan.

Luke staar na sy verrinneweerde hande wat nou die hoed krampagtig tussen sy vingers vasknyp.

“Middag, Luke,” sê hy in sy diep stem.

Luke knik.

“Ek wil nie ’n oorlas wees nie, maar die mense word bekommerd.

“Hulle kla hulle het nie kos in hulle huise nie. Van hulle dreig om te staak as die agterstallige lone nie inbetaal word nie.

“Ek kom nie vir moeilikheid nie, maar moes jou waarsku wat hulle beplan.”

“Ek kom so pas uit die dorp. Die situasie bly dieselfde.

“Ek kon daarin slaag om van my ander bates los te maak, maar sal binne sewe werksdae kontant ontvang,” verduidelik Luke.

“Intussen het ek met Gawie gereël vir kos hampers om die mense te help totdat ek in staat is om die salarisse te betaal.

“Ek doen my bes en het gereken op julle lojaliteit, maar so leer ken ’n mens die hart van ’n ander wanneer probleme opduik.

“Dra dit asseblief so oor,” sê Luke.

“Ek is jammer oor mevrou Stanfield en bid vir haar veilige terugkoms.

“Jy weet jy kan op my staatmaak vir enige iets Luke,” sê Moses boetvaardig.

“Dankie, Moses. Jammer as ek ? bietjie kras voorgekom het.”

“Ek verstaan jou posisie, Luke. Ek bid dat sy binnekort gekry word.”

“Ek betwyfel dit sterk. As sy teen hierdie nog lewe, sal dit ’n wonderwerk wees.

“Jy is mos ’n ou man met baie wysheid. Dink jy sy leef?” vra Luke bitter.

Moses skud sy kop. Hy het Luke ’n paar jaar gelede ontmoet.

Uit die staanspoor kon hy sien dié jong man het ’n troebel gemoed. Iewers in sy lewe moes hy baie swaarkry beleef het.

Nie die swaarkry wat jou laat honger ly nie, maar die swaarkry wat jou siel vernietig.

Sy ouers het jare lank alleen op die plaas geboer voordat Luke eendag uit die bloute hier opgedaag het. Hulle moes altyd lofsange aanhoor oor hulle enigste seun.

Groot was hy sy verrassing toe hy Luke vir die eerste keer ontmoet. Hy is met die helm gebore, daarom kon hy die dooie siele in Luke se oë sien.

Maar wie is hy om hom te kruisig? Maak nie saak watter daad jy op die aarde pleeg nie, by die Here kom jy nie verby nie.

Nou het Luke se sondes hom ingehaal en die lieflike Magdalena moet daarvoor betaal. Arme Duke draai in sy graf om.

“Die lewe en dood is nie in die hande van die mens nie, Luke.

“As jou ma nog leef, sal dit ’n wonderwerk wees.

“Jy sê jy het nie ’n idee wie agter haar ontvoering sit nie?” vra Moses.

“Nee, ek weet nie,” sê Luke, maar vermy Moses se blik terwyl dié nadenkend na hom staar.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters