21 dae gelede
Lucy Ferr pluis uit waarheen Elijah en Jay op pad is
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah weet nou dat Jay, wat ’n lid is van die CTRA, ’n groep wat veg teen die total domination van die masjiene wat die mensdom wil beheer, sy dogter is. Hy het nou ál sy memories, maar kry nog ’n skok toe Jay hom meedeel Lucy Ferr, ’n eens goeie vriendin van hom en sy vrou, aan die stuur van die robots se geheime komitee is wat alle lewe op aarde wil uitwis. Geniet nou hoofstuk 9 van ELDRIDGE JASON­ se “Dromers”.

ELIJAH stap op en af in die knap vertrekkie.

Sy geduld is aan die dun kant. Hoeveel dae word hy nou al hier aangehou?

En wat het van sy pêl, Elton-John van der Berg, die Rocket Man, geword?

Elke keer as hy Jay hieroor uitvra, skram sy weg.

Sy kan hom dan nie in die oë kyk nie en mompel net die een of ander verskoning wat hy nou nog nie kan uitmaak nie.

Toe hy sowat ’n week gelede na Elton uitvra, het sy net gesê hy is oukei.

Dit was die dag toe die CTRA hom en Elton hierheen gebring het.

Noudat hy sy memories terug het, is hy onrustig.

Wat hom meer tot onrus stem, is Lucy Ferr se verraad.

Hy kan nou nog nie glo dat sy dít aan hulle gedoen het nie – dat sy wat Lucy Ferr is, die lewe geskenk het aan sy en Sylvie se kind, net om haar te wil vermoor.

Watter mens doen so iets? Hoe siek kan iemand wees?

En hoekom het hulle oor die jare nooit geweet Lucy is eintlik ’n monster in training nie?

Sylvie was mal oor Lucy. Toe hulle nog gevry het, het hy altyd gevoel Lucy probeer ’n wig tussen hulle bring.

Sylvie het sy worries afgelag en gesê hy sien goed wat nie bestaan nie.

As ’n man in love is, luister jy net love songs en praat nie terug as jy weet wat goed is vir jou nie.

Maar nadat hy gehoor het wat Jay te vertel het… Nou weet hy sy vermoedens was oor die jare in die kol.

As Sylvie altyd vir haar ’n rok of toppie by Mr Price gaan koop het, het Lucy ’n paar dae later vir haar ook dieselfde top gaan koop.

Dit het hom een keer uitgefreak toe sy ’n ou gedate het wie se naam ook Elijah is.

Maar weereens het Sylvie dit afgelag en gesê haar vriendin probeer maar net haar weg in die wêreld vind.

Hy swaai vinnig om toe die kamertjie se deur met ’n kraakgeluid oopgaan.

Jay. Daar is ’n paniekerige trek in haar oë.

“Die Organisasie weet van hierdie wegsteekplek,” sê sy in ’n gejaagde stemtoon.

“Ek weet nie wie onder ons hulle met inligting voer nie, maar ’n swaar gewapende taakmag is op pad hierheen.

“Ons moet gaan, maar ek weet nie waarheen nie.”

’n Gevoel van deernis kom in Elijah se gemoed.

Ten spyte van die dringendheid van die situasie kan hy nie die beskermende drang ignoreer wat hy in hom voel opstoot nie.

Die jong meisie voor hom is haar ma se ewebeeld.

Uitgeknip Sylvie. Hy sal ’n mens uitmekaar skeur wat Jay leed sal wil aandoen.

“Ek weet waarheen ons kan gaan,” antwoord Elijah kalm.

“Dis immers waar ál ons antwoorde lê. Maar ons sal seker maar vir Elton-John moet...”

“Daai gaan ’n probleem wees,” val Jay hom in die rede en trippel ongemaklik rond.

“Ek het nie geweet hoe om dit vroeër te verduidelik nie, Daddy.

“Maar Elton-John is skoonveld. Al vir dae.

“Dit sal my nie verbaas as hy die een is wat ons by Die Komitee en Lucy Ferr gaan verraai het nie.”

Daar is ’n rooi blos op haar wange.

“Kom ons maak dat ons hier wegkom,” sê Elijah en kry haar aan die hand beet.

“Ek sal later verduidelik, maar ek glo nie Elton sou ons verraai het nie.”

“Nou waarheen gaan ons?” vra Jay.

“Die wêreld daar buite is ’n stukkende plek. Hulle het als verwoes. Als.”

Elijah lig sy dogter se ken op en vee die traan wat oor haar wang rol met die agterkant van sy een hand af.

“Daar is ’n plek in hierdie wêreld wat nog nie stukkend is nie,” sê hy amper in ’n fluisterstem.

“PSR B1620-26… Ek weet waar die sleutel tot hierdie planeet begrawe is. Dis ons enigste kans. Kom!”

Die twee haas hulle by die vertrek uit. Jay kan sweer sy hoor die gezoem van drones in die verte…

LUCY hoor weer ’n geskuif agter haar en dan klink die blikstem weer op: “Enige nuus?”

Sy draai haar traag om. “My Leier, ons beste troepe het op hulle skuilplek toegesak.

“Kan u dit glo, hulle kruip al die tyd weg onder die ou R300-brug op die destydse N1-snelweg, wat meegegee het en–”

“Ek stel nie belang in julle geskiedenis nie,” val Blikstem haar kil in die rede.

“Oor die jare het geskiedenis jou spesie nie gehelp om beter mense te word nie.

“Pleks daarvan om uit die foute van die geskiedenis te leer, het julle net voortgegaan om dieselfde foute oor en oor en oor te begaan.

“Julle geskiedenis maak my naar. Bepaal jou by die feite.”

“Natuurlik, My Leier,” antwoord Lucy Ferr gedweë.

Die Leier knik stram en beduie aan haar om voort te gaan.

“Ons span fynkam die gebied op soek na Elijah en Jay.”

Die gate in sy gesig wat supposed is om oë te wees, verkleur bloedrooi. Hier en daar skiet ’n vonkie.

“So Elijah weet van sy dogter?” vra Die Leier in ’n onheilspellende stemtoon.

Lucy Ferr voel ’n rilling langs haar ruggraat afhardloop.

“En hoekom weet ek nie hiervan nie?”

Maar voordat Lucy Ferr kan antwoord, gaan hy voort: “Maar wag, ek weet. Want jy het alles onder beheer.

“Dit is so duidelik soos hierdie flou daglig van julle planeet dat jy nie in beheer van gebeure is nie. Ek wed jou Elijah en Jay is nie meer in daai kamp nie en is lankal weg.

“Die vraag is: Weet jy waarheen hulle op pad is?”

Lucy Ferr sluk hard aan die knop in haar keel.

“My Leier, ek dra net u beste belange op die hart,” probeer Lucy Ferr gevreet koep, wel wetend dat Die Leier glad nie ’n hart het nie.

“My bron is uiters betroubaar,” antwoord Lucy ná ’n ruk en bly dan weer stil. Sy sal haar woorde baie mooi moet kies, besef sy maar alte goed.

“PSR B1620-26 is binne ons bereik. Ek het ’n vermoede dis waarheen Elijah en sy dogter op pad is en–”

“Nou maak dat jy daar kom,” val Die Leier haar kil in die rede.

“En gaan finish Elijah. Nou!”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters