16 dae gelede
Lucy Ferr neem Jay gevange en gee Elijah ’n taak
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Elijah en sy dogter, Jay, daag by ’n klein vissersdorpie op, kliphard op ’n mission om Die Komitee vir eens en altyd uit te vat. Maar wat Elijah aanvanklik as ’n ou vriend aansien, draai uit as ’n camouflage. Dis toe niemand anders as die gehate Lucy Ferr nie. Is hierdie skaakmat vir Elijah en Jay? Geniet nou hoofstuk 12 van ELDRIDGE JASON se futuristic verhaal, “Dromers”.

JAY word sonder seremonie deur een van die androids uit die voertuig gepluk.Sy skop en trap vir ’n vale, sonder enige sukses.

Dan word sy hardhandig teen die grond gegooi.

Elijah beur vorentoe, maar ’n android tree blitsig vorentoe en slaan hom met die kolf van sy geweer plat teen die grond.

Elijah probeer weer vinnig orent kom, maar dan reën die skoppe en trappe op hom neer.

“Dis nou genoeg!” blaf Lucy Ferr ná ’n ruk haar bevel.

“Ek is seker hy besef nou hy moet hom gedra.”

Elijah beur swaar orent. Hy vee met die agterkant van sy hand die straaltjie bloed af wat langs die kant van sy mond afloop.

Die haat gloei in sy oë toe hy Lucy Ferr aangluur.

“Jy kan maar kyk, maar stukkend kyk, sal jy my nie,” sê Lucy Ferr min gespin.

“Jy weet hoekom ek hier is, Elijah.

“Gaia, Terra, Planeet PSR B1620-26... Need I say more?”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” antwoord Elijah kortaf.

Lucy Ferr wink in die rigting van een van die wagte by Jay.

Sonder ’n woord begin hy dan haar arm draai. Jay gil toe ’n ondraaglike pyn deur haar hele liggaam skiet.

“Los haar uit! Sy het niks gemaak nie,” smeek Elijah.

Weer knik Lucy in die wag se rigting en weer draai hy Jay se arm.

Hierdie keer gil sy nie net nie, maar bars in trane uit.

“Oukei, oukei!” sê Elijah aan Lucy. “Jy het jou punt gemaak. Wat wil jy weet?”

“Wel,” antwoord Lucy smalend. “Ek is bly om te sien ek kon jou arm draai om jou samewerking te gee.

“Jy behoort te weet dat Die Komitee nie jokes maak nie. Nog minder is daar enige genade vir verraaiers soos jy.”

“Wat het met jou gebeur?” vra Elijah en skud sy kop verdwaas.

“Nes Sylvie en ek, was jy jare lank gekant teen tegnologie wat eendag ons lewe gaan oorneem en die mens in slawerny gaan dompel.

“Eers was dit 3G, toe 4G, 10G ... en elke keer het jy gesê tegnologie is nie net ’n duiwel wat ons aanbid nie, maar ’n duiwel wat ons eendag aan die stert gaan byt.”

Lucy gee ’n lelike laggie.

“My oë het oopgegaan. Die robots is die antwoord.

“Hoeveel kanse het die mens nou nog nodig om alles op te f*k, huh? Maar jy is besig om my tyd te mors.

“Nommer Twee!”

Elijah se oud-kollega skiet vorentoe.

“Ons gaan terug Basis 9 toe met Jay. Jy vergesel Elijah en laat hom nie onder jou oë uit nie.”

Dan draai sy na Elijah. “Jy gaan wys Nommer Twee presies hoe jy by daai plek uitkom, hoor jy my?

“Ek gaan nie doekies omdraai nie – die hele Basis 9 gaan opgekommandeer word om daai planeet te destroy en die wonderlikste van alles is dat jy ons gaan help.

“Maar just in case jy ander planne begin kry, Jay bly by ons.

“Jy het 24 uur om saam met Nommer Twee na Basis 9 terug te keer.

“Ek het dalk vir Jay hierdie lewe ingebring, maar ek sal nie twee keer dink om haar weer hierdie lewe uit te vat nie.”

Voordat Elijah kan antwoord, begin die grond meteens onder sy voete skud. ’n Groot skeur verskyn en word al hoe wyer.

’n Vliegtuig wat vir Elijah nes ’n reuse-mot lyk, kom te voorskyn.

Nes ’n regte voël laat sak die vliegtuig sy vlerke.

Twee androids kry Jay aan haar arms beet en dra haar in die rigting van die aircraft.

“Ek kom jou haal, ek belowe,” skree Elijah bo die lawaai.

Hy is nie seker dat Jay hom gehoor het nie en bal sy vuiste. Dan voel hy ’n hand op sy skouer. Lucy.

“Hierdie is ’n battle wat jy nie gaan wen nie,” fluister sy in sy oor.

“As jy destyds net wou sien hoe ek jou gesmaak het, was jy nie nou in K*kstraat Nommer Een nie.”

Dan stap sy in die rigting van die mot-gedrog van ’n vliegtuig.

Oomblikke later skuif die deur toe en die vliegtuig trek met ’n vlerkgeklap weg.

Dan is daar net ’n suisgeluid voordat die vliegtuig in die niet verdwyn.

Nommer Twee loer na sy horlosie en draai dan na Elijah.

“En hier ontmoet ons weer,” sê hy in sy boring, neutrale stem.

“Ek neem aan jy weet ons het nie tyd om te verkwis nie?”

Elijah skud sy kop en begin stap.

Nommer Twee stap haastig agter hom aan en val dan by sy pas in.

In stilte stap die twee in die rigting van die strand, in die rigting van ’n massiewe sandduin.

Elijah loer om hom rond. Geen mens in sig nie.

Al die mense wat hy dus vroeër gesien het, was deel van Lucy Ferr se camouflage scam.

Sonder om op Nommer Twee te wag, begin hy die duin bestyg.

Halfpad op voel dit asof sy bene wil ingee. Die sweet stroom langs sy rug af, maar hy beur vorentoe.

Hy het Jay belowe hy gaan haar kom red. Hy durf haar nie in die steek laat nie.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, staan hy op die kruin van die sandduin. Elijah staan gebukkend met sy hande op sy knieë en haal hard asem.

Nommer Twee kom langs kom staan. Daar is nie ’n druppel sweet op sy gesig nie.

“Hoekom as mens so swaarkry as jy effortlessly soos ek deur hierdie planeet kan wandel?

“Ek kan nie verstaan dat jy so onnosel is nie.”

Elijah haal hard asem. “W-w-wie s-sê menswees het nie sy benefits nie?” vra hy in ’n gejaagde stemtoon.

Nommer Twee frons.

“Ek verstaan nie, sal seker ook nooit nie. Maar ons het albei ’n opdrag.

“Wat gaan jy nou doen?”

“Nou gaan ek doen wat ek al lankal moes doen,” antwoord Elijah.

“O?” vra Nommer Twee en lig sy wenkbroue.

“En wat is di–”

Voordat die android kan besef wat hom getref het, pluk Elijah blitsig ’n swaard uit sy sy en in dieselfde beweging swaai hy dit vinnig en hard in Nommer Twee se rigting.

Vir die eerste keer sien Elijah hoe ’n android ook met ’n trek van verbasing op sy plastiek-gesig kan spog.

En toe rol Nommer twee se kop die duin af ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters