Verlede maand
Layla voel om net uit die raserige plek weg te kom
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 5.

‘MENTA! Haai, wanneer het jy gekom?” Twee jong meisies, in hul 20’s, nader hulle vanuit ’n ander voetpaadjie.

“Hallo, julle. Vanmiddag al.

“Wag, laat ek julle voorstel.”

Sy draai na Layla.

“Dis my vriendin Layla. Sy kuier vir twee weke by my.

“Layla, dis Santa en Wendy.” Hulle groet oor en weer voordat hulle saam stap in die rigting van die pub, waar harde musiek reeds opklink.

Layla loop stil na hul vrolike geskerts en luister terwyl sy alles om haar waarneem. Sy moet weer aan haarself erken; die plek is verruklik mooi.

Hulle is nou terug in die hoofpad en stap deur ’n hek met ’n boog vol rankrose bo hul koppe.

Weerskante van die paadjie is netjies gesnyde grasperke en in die middel daarvan ’n yslike fontein­ met twee sementganse waaruit dun straaltjies water spuit.

Onder twee reuse-wilgerbome is ’n houtbruggie en langs dit ’n bankie waarop jy kan sit om na die pragtige spuitfontein te kyk.

Dit is al sterk skemer en Layla verbeel haar hoe mooi dié toneeltjie in die maanskyn sal lyk.

Sy was nog altyd ’n romantikus en hou daarvan om droombeelde vir haarself op te tower.

Hulle nader die deur en sy is self nog meer verbaas om die plek van binne te sien.

Sy weet dis hoe ’n regte bar in die stad sal lyk al was sy nog nooit voorheen in een nie. Dis ’n reghoekige vertrek en teen die een muur staan twee kroegmanne voor rakke wat vol drankbottels gepak is.

Dit verbaas Layla. Na haar wete mag drank nie tydens lockdown verkoop word nie.

Dit lyk asof die mense hier hul eie reëls maak. Ronde tafels met stoele is oral langs die mure staangemaak sodat die middel, wat dien as dansbaan, oop lê.

Die rooi sementvloer is blink gepoleer en glad. Die vertrek ruik na ontsmettingsmiddel en vloerpolitoer.

Daar is al heelwat groepies wat om die tafels vergader en so hier en daar beweeg paartjies al op die dansbaan.

Dis egter duidelik dat almal nog aan die opwen is.

Die twee meisies neem saam met Menta en Layla om een tafel plaas.

“Nou ja, wat gaan ons drink?”

Layla voel hoe die bloed uit haar gesig dreineer. Drink! Dis iets waaraan sy glad nie gedink het nie.

Nee! Sy kan nie! Al sê hulle ook nou wat! Almal se oë is skielik op haar gerig.

“Toe? Wat gaan jy vat, Layla?”

Menta se gesig is vraend.

Ek? Nee ... nee dankie ... ek is nie ... dors nie.”

Die twee meisies bars uit van die lag en Menta gluur haar dreigend aan.

“Layla sal dieselfde as ek drink, dankie, Wendy.”

Die twee meisies stap na die bar en Menta draai woedend na Layla. “Hoe kan jy, Layla?

“Hulle bied aan om ons vir die aand te treat en jy sê nee dankie!”

“Maar ek wil nie drink nie, Menta! Ek het nog nooit!”

“Vir alles is daar ’n eerste keer, Layla! Jy kan nie die hele aand hier sit en simpel lyk nie! Wat dink jy moet die mense van ons dink? Álmal drink.

“Dis nie ’n sonde nie. Ons is jonk! Vergeet asseblief net vir een maal in jou lewe jy is ’n pastoor se kind!” vaar Menta woedend uit.

Layla kyk net haar vriendin geskok aan.

Sy weet nou vir seker sy moes nooit gekom het nie! Dié mense is nie haar tipe nie. Hulle verstaan nie dat sy anders is nie.

Die twee meisies is terug voordat sy haar vriendin kan antwoord en sy staar net stil na die botteltjie bier wat voor haar neergeplaas word. Die plek raak stadig voller en deurentyd kom vreemdelinge na hul tafel om Menta te groe. Layla word om die beurt aan almal voorgestel.

Die meisies drink al hul vierde dumpie bier toe sit sy nog steeds met haar eerste. Die vloeistof is aaklig en bitter en dreig om haar te laat naar word, maar sy sluk langsaam en gedwee.

Sy voel lighoofdig en sukkel om te fokus teen die tyd dat Tessa en nog ’n meisie daar kom sit.

Tessa wys deur die skare na die mans wat by die bar staan en die meisies is so opgewonde oor die vooruitsig van ’n ontmoeting met die nuwe aankomelinge dat geeneen opmerk toe sy stil opstaan en na buite gaan nie.

Die vars lug slaan haar asem skoon weg en sy voel dankbaar hoe die neweligheid lig en die naarheid effens bedaar.

Toe sy genoegsaam herstel het, stap sy oor die grasperk na die fonteintjie en neem op die bankie onder die bome plaas. As Menta wil paartie, dan moet sy maar.

Sy wat Layla is, het genoeg vir een dag gehad. Soveel skielike veranderinge kan haar brose gestel nie verduur nie.

Al moet sy heel aand hier buite sit en na die volmaan bo haar kop staar, sal sy dit doen. Dit stem haar rustig en is ver beter as die geraas en suur reuk van bier wat nou binne die bar hang.

Iewers begin ’n kriek skril skree en ’n paddakoor volg kort op sy hakke. Ná die geraas daar binne klink dit soos die mooiste musiek in haar ore.

Sy sluit haar oë en laat sak haar kop agteroor tot op die rugleuning.

“Mag ek maar?” Layla se kop ruk op van skrik soos die stem haar onkant vang.

Haar eerste instink is om te vlug, maar dan onthou sy almal se versekering dat dit veilig is hier.

Sy kyk op na die man wat nou langs haar staan, maar sy kan nie veel van sy gelaatstrekke uitmaak nie omdat die volmaan nou reg agter sy lang gestalte is.

“Kan ek maar hier langs jou sit?” herhaal hy sy vraag en Layla kan net onseker knik.

Sy is nie gewoond daaraan om met vreemdelinge te meng nie en weet nie hoe om die situasie te hanteer nie.

Al wat sy wil hê, is rus en vrede en nou word dit weer deur iemand versteur.

Sy wonder vlugtig hoe lank sy al hier buite sit, want sy het so een geword met haar omgewing en die geluide van die natuur dat alles rondom haar vervaag het.

Sy kyk vlugtig na haar horlosie. Kan dit al bykans ’n uur wees?

“Ek’s Tyrone, maar my vriende noem my sommer Ty. Jy kan ook as jy wil.”

Hy steek sy hand uit na die steeds verbaasde Layla, wat dit huiwerig neem. Sy palm voel sag en warm.

“Layla,” kry sy die enkele woord uit.

“Lay... la. Layla.” Sy kan hoor hoe hy die naam met sy tong voel.

“Layla. Dis ’n mooi naam.

“Klink soos ’n helder stroompie water wat oor rivierklippies kabbel.”

Layla kyk nou direk na die man.

Alles aan hom is vir haar vreemd.

In die maanskyn sien sy die helderwit van sy tande en iets wat blink weerkaats toe hy vir haar glimlag.

Sy kyk ongemaklik weg.

“Dankie,” onthou sy darem om te antwoord.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters