Verlede maand
Layla sukkel om die vorige aand se ou te vergeet
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 7.

SY GAAN by die kombuisdeur in wat ant Minnie vir hulle oopgelos het en in die kamer val sy uitasem op die bed neer.

Trane stroom warm oor haar wange. Wat het haar besiel?

O, Here, vergewe my! pleit sy na Bo.

Wat het ek gedoen? Wat is besig om met my te gebeur?

Ek is maar net ’n paar uur van my ouerhuis af weg en kyk in watter verdoemenis ek myself laat beland. Dis mos nie wat ek geleer is nie.

Ag, Vader, help my! Ek is nie meer die mens wat ek gister was nie! Hoe gaan ek my ouers in die oë kyk?

Sy moes een of ander tyd tussen haar kwelgedagtes ingesluimer het. Sy word vroeg wakker.

Sy staan traag op en stap die gang af na die badkamer waar sy vir haar ’n skuimende bad tap.

Sy moet iets doen om haar kop skoon te kry en hoop net die bad sal help.

Sy lê ’n lang ruk met toe oë, maar elke keer verskyn die glimlaggende gesig van die man wat sy gisteraand gesoen het voor haar geestesoog om haar aan haar sonde te herinner.

Sy begin verwoed haar hare was om besig te bly en haar aandag af te lei.

Dit blyk egter ’n onbegonne taak te wees, besef sy toe sy later op die stoep uitstap.

Sy gaan sit op die plat kantmuurtjie, gooi haar hare vooroor en begin dit met lang hale droog borsel.

TY LAAT sak die motor se enjin- kap nadat hy die water en olie nagegaan het.

Gister was daar nie tyd nie, want hulle is kort ná hul aankoms deur Timmy se ligsinnige kleinniggie en haar suster na die pub gesleep. Hy was nog nooit in sy lewe so verveeld en geïrriteerd nie.

Gelukkig was die ander meisie daar. Layla. G’n naam het al vir hom so mooi en beskrywend geklink nie. Layla. Hy kan dit oor en oor sê.

As dit nie vir haar was nie, was hy nou al op pad terug. Slegs die wete dat sy nog hier iewers is, is genoeg om sy makkers en die vrou met haar uitgelate twee dogters daar binne te verduur.

In die huis slaap almal nog al is dit reeds ná 10:00.

Hy was sy hande by die buitekraan voordat hy agter om die huis stap om die jaart te verken.

Dié mense se tuine is mooi en hy verkyk hom aan die welige plantegroei. Hy wil dit nie eintlik aan homself erken nie, maar diep in sy wese is hy ’n natuurmens.

Hy steek dit egter goed weg. Dis nie iets wat jy met vriende soos syne kan deel nie.

Hy gewaar ’n beweging by die huis langsaan en steek dan verstom in sy spore vas. Op die stoep sit ’n meisie vooroor gebuig met haar welige bos rooibruin hare soos ’n skild voor haar.

Haar nek is lank en slank en daar is iets grasieus aan elke beweging wat sy maak.

Hy stap verdwaas nader.

“Layla..?”

Haar bewegings verstil onmiddellik.

Sy kan haar ore nie glo nie. Vir ’n ruk sit sy doodstil en gooi dan haar hare met een kopswaai agteroor.

“Ty?” Hul oë ontmoet en vir haar lyk dit asof sy ligbloues vonke uitstraal.

Ty word ingetrek deur die donker dieptes van haar sagte bokkie-oë en dit voel asof hy besig is om oor ’n afgrond te tuimel.

“Jy is nog mooier as wat ek gedink het ...” sê hy mymerend.

“Ty? Wat maak jy hier?”

Haar oë is vraend en dit lyk eers asof hy haar nie hoor nie, want sy oë dwaal verkennend oor haar gesig en dan af na haar lyf.

Heelnag het hy aan haar gedink en hier staan sy voor hom, mooier as wat hy in sy wildste drome kon dink. Sy het die liggaamsbou van ’n godin.

Nie maer soos ander meisies van haar portuur nie. Sy het natuurlike rondinge op die regte plekke.

As hy kon skilder, sou hy dit hier en nou wou doen. Sagte krulle omraam haar ovaalvormige gesig en val sag oor haar skouers.

Die kort rokkie kleef aan haar borste waar die hare dit nat gevlek het en waar die soom eindig, steek twee volmaak bruingebrande bene uit.

Haar klein voetjies is kaal en die toontjies met die enkele toonringetjie, so tippies tiener, is meteens vir hom vrek mooi.

Hy sukkel om sy oë van haar weg te skeur.

“Ek ... ek ... sorry,” probeer hy hom regruk. “Ek is hier langsaan tuis.”

“O, so dis van júlle wat Tessa gepraat het?”

“Seker, ek weet nie. Ek weet net daai een is glad nie lekker hier bo nie.”

Hy maak ’n sirkelbeweging langs sy kop en Layla se gesig verkreukel in ’n glimlag. Ty verwonder hom aan die kuiltjies wat in haar wange verskyn elke keer as sy dit doen.

Hy wil sy hand na haar uitsteek en daaraan raak, maar hy weet hy moet hom inhou.

Hy kan nie bekostig dat sy weer soos gisteraand skrik en op die vlug slaan nie. Met haar moet hy versigtig te werk gaan.

“Ja, sy het nogal erg te kere gegaan oor julle. Veral oor jou.”

“Oor my? Ag, nee wat! Ek is jammer, maar sy is wragtig nie my tipe nie. Te kinderagtig.”

Hy wip gemaklik op die stoepmuurtjie en neem langs Layla plaas asof dit die natuurlikste ding is om te doen.

“Het jy toe gisteraand my vriendin Menta ontmoet?” vra Layla nuuskierig.

“Ja, voordat ek jóu ontmoet het.

“Hulle het opgemerk jy is weg en ek het aangebied om buite te gaan kyk met die verskoning dat ek ook wou lug skep.”

“En jy sê my niks?’’

“Ek moes ’n meisie gaan soek het, nie ’n bosnimf nie.”

“Bosnimf?” vra sy uit die veld geslaan.

“Ja, Layla. Dis wat ek daar gekry het.

“’n Bosnimf so reg uit die strokiesverhale wat my ma kleintyd vir my voorgelees het. Dit het my lank geneem om uit te vind haar naam is eintlik Layla.”

Layla voel die warm blos oor haar wange versprei en kyk skaam weg. Ty buig oor en met sy vingers liggies onder haar ken draai hy haar kop terug.

“Jy is mooi, Layla ... en ek hou van jou.”

Hy sien die ongemak in haar oë kruip en is dadelik spyt oor sy woorde.

Hy weet hy moet versigtig met haar werk, maar hy kan homself nie beheer nie. Hy trek sy hand terug en staan vinnig op.

“Ek moet die ander gaan wakker maak. Die manne wil gaan kyk hoe Villiersdorp lyk.”

Hy spring rats van die stoepie af en draai dan weer na haar.

“Kan ek jou later weer sien, Layla?”

Daar is smeking in sy oë.

Sy weet dis verkeerd. Sy moenie, maar sy knik onwillekeurig.

Die glimlag laat sy blou oë vernou en Layla voel hoe iets aan haar hart ruk toe hy oor die heiningdraad spring en vir oulaas waai voordat hy om die hoek van die huis verdwyn.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters