2 maande gelede
Laksman stuur ’n waarskuwing aan Ghost en sy span
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug. Jeppo het dit sy lewens­missie gemaak om as laksman op te tree vir gemeenskappe wat gatvol is vir misdaad. Jeppo is nou op die spoor van Rudi Geduldt, skynbaar ’n suksesvolle sakeman met besigheid oral in die Wes-Kaap.
Min mense weet Geduldt bedryf onder die naam “Ghost” boonop die grootste hijacking-sindikaat in die provinsie. Jeppo se ondersoek lei hom na Ghost se huis, waar hy vyf naakte meisiekinders red. Geniet nou hoofstuk 3 van die jongste verhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dit Op die Spoor van Ghost.

IN DIE donker voorkamer tas een van die skurke na die ligskakelaar en skakel die ligte aan.

“Is djy djas, Jontas!! Daai indringer kan ôs sien!” sis een van sy makkers. Dié mol om die lig weer af te skakel.

Maar daardie een sekonde toe die ligte aan was, het Jontas genoeg gesien. Sy oë rek groot en die wit van sy oë skyn duidelik in die donkerte.

“Ouens, het julle dít gesien?! Die hele huis is besaai met ôs dooie broese!” fluister hy dringend.

“O jarra, waar?!” gil ’n ander een luidkeels.

“Sjuut, jou tief! Wil djy ôs vrek hê?! Daai gemors wat hier toegeslaan het, is nog hier iewers in die huis!” sis ’n ander boef met die naam “Gemors” op sy voorkop getattoe.

“D-daar lê drie onder by die trap en een aan die bokant!” gaan Jontas voort.

“Dit kan nie een man se werk wees nie! Die baas het nege manne hier gelos om die huis en die meisiekinders op te pas.

“Daai indringer kon nie almal alleen sat gemaak het nie! Hier in die huis skuil ’n hele army!” gaan Jontas verder gal af.

“Ek dink ôs moet eerder die baas gaan inlig–”

“Hei, die meisiekinders! Die baas maak ôs vrek as hulle weg is!” val een ou Jontas in die rede.

Hy storm halsoorkop deur die donker voorhuis en mol vir die trappe.

“Hei Hennie, is djy bef*k! Djy gat vrekgemaak word!” gil Gemors agterna, maar Hennie verdwyn teen die donker trap op.

Dit is vier vreesbevange boewe wat onder in die voorhuis staan en luister hoe hulle makker daar op die boonste verdieping voortstorm.

Skielik hoor hulle ’n dowwe geluid daar bo en ’n gesmoorde kreet. ’n Vinnige geskuifel van voete is hoorbaar.

Dit klink asof ’n stoeiery daar bo aan die gang is.

En toe, al gillend, stort Hennie van die boonste verdieping af en val met ’n dowwe plofgeluid in die voorhuis hier onder.

Die oë van die vier stuks hier onder is al teen dié tyd gewoond aan die donkerte. Hulle sien die donker figuur wat daar bo rondbeweeg.

“Skiet die ding sat!” gil Gemors.

Almal lig hulle vuurwapens gelyk op en die skote klap dat dit goed gaan.

Ná ’n goeie sarsie hou hulle op.

Hulle staar geskok na een van hulle makkers wat nou hier langs hulle lê en ruk.

Om sy kop is ’n plas bloed wat stadig groter word.

Gemors stel vinnig ondersoek in en sien sy rukkende makker is in die agterkop geskiet.

“Hei, een van ons het per ongeluk vir Maaikie geskiet!” sak hy geskok af.

“Die d**s moes per ongeluk voor ’n gun inbeweeg het!” spoeg Jontas uit.

Skielik tuimel Jontas agteroor en hy laat ’n massiewe blerts bloed en harsings teen die muur agter hom.

Gemors en die laaste oorblywende boef ruk gelyk om toe hulle besef hulle onsigbare teenstander het ook vir Jontas bokveld toe gestuur.

Hulle sien die donker figuur daar aan die onderpunt van die trap staan.

’n Dowwe klapgeluid klink toe op.

Die tweede laaste boef kry toe sy beurt om warmplek toe gepos te word en Gemors is die laaste een wat agterbly.

Vreesbevange trek Gemors die sneller op die naderende figuur, maar sy vuurwapen maak net leë klikgeluide.

Paniek pak Gemors beet. Hy swaai om en storm met ’n kragwoord by die deur uit.

Buite in die voorste kar sit Ghost en wag op sy manne.

Hy ruk regop in die agtersitplek toe hy Gemors al gillend uit die huis sien storm.

“Daar’s ’n hele gang daar in die huis! Hulle is oral!” gil Gemors, terwyl hy ooplê na die kar.

Asof in slow mo­tion, sien Ghost en sy bestuurder hoe Gemors grond toe val.

Hulle staar geskok na die stukkies kopbeen, gemeng met harsings en bloed, wat op die voorruit spat.

Terwyl Gemors sy laaste doodsroggel gee, staar Ghost-hulle na die figuur wat daar van die voordeur af in hulle rigting aangestap kom.

Die lang, swart jas en die stetson-hoed op die kop is die eerste ding wat Ghost opval.

En dís toe hy besef hy is nou van aangesig tot aangesig met die groot legendariese Die Laksman.

Hy besef sommer onmiddellik hy en sy bestuurder is in groot gevaar.

Altesaam 14 van sy manne is vanaand hier deur die Laksman doodgemaak en hy is next …

“Ry! Ry!” gil Ghost op sy bestuurder.

Die bestuurder sit die ryding onmiddellik in trurat en stamp die dooie lyfwagte se kar hier agter hulle uit die pad.

Toe sit hy voet neer en spin daar weg.

Deur die agterruit sien Ghost hoe die Laksman ’n ent agter die voertuig aanhardloop.

Die Laksman gaan staan toe wydsbeen in die pad en gluur hulle agterna.

Ghost draai hom terug in sy sitplek en lê agteroor. “Dit is nou een gróót gemors!” sug Ghost hardop.

Hoe is dit moontlik dat die Laksman van sy dinge as Ghost uitgevind het?

Nie eens die polisie of die Valke kon iets teen hom hê nie, want sy sindikaat operate deeglik.

Hulle los ook geen leidrade nie.

Maar hy gaan nie nou daaroor tob nie.

Hy moet net uitwerk hoe hy nou met die Laksman-probleem gaan deal.

Hy weet as die Laksman op jou spoor is, dan is dit nag!

Dit is ’n woedende Jeppo wat ’n entjie verder die straat af in sy motor begin klim.

Vir oulaas kyk hy na Ghost se brandende huis.

Hy skakel die motor aan en trek vinnig weg.

Ghost het vanaand deur sy vingers geglip, maar hy wat Jeppo die Laksman is, gaan nie rus voordat hy daardie gemors verdelg het nie …

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters