11 dae gelede
L. Otto se hart klop in sy keel toe sy ma gil
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Tammy slaag daarin om die cops te ontwyk. Nie een van sers. Onvriendelik of konst. Koekemoer het ’n clue dat L. Otto in die wasgoedmandjie wegkruip nie. Met skok en afgryse hoor L. Otto dat Onvriendelik sê hy gaan L. Otto slaan op die plek waar dit die seerste maak. L. Otto besef ook onmiddellik Onvriendelik gaan sy ma leed aandoen. Hy jaag daarna na sy vervreemde ma se huis, waar hy hulpeloos moet toekyk hoe sy ma die korrupte cop haar huis binnenooi. Is hy te laat om sy ma te red? Geniet nou hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON­ se Meneer L. Otto.

HY SLUIP om die huis en voel tegelyk skaam en simpel oor hy soos ’n dief in die nag om sy eie ma se huis sluip.

Maar daar is nie nou ’n ander nommer nie. Sy ma is in gevaar.

Sers. Onvriendelik is nie by sy ma om oor koeitjies en kalfies te gesels nie.

Hy is daar om uit te vind of sy ma weet waar hy hom bevind. En Onvriendelik sal nie skroom om geweld te gebruik om sy antwoorde te kry nie.

Dít kan hy nie aan sy ma doen nie. Nie in honderd jaar nie.

Hy was nog nooit ’n modelseun vir sy ouers nie. Maar pleks van hom soos die res van sy familie te verwyt en af te skryf, het sy ma hom altyd probeer bystaan.

Dit is nog diep donker, maar gelukkig ken hy die jaart soos die rugkant van sy hand. Hy het homself immers in sy kinderdae ure lank agter in dié jaart vermaak.

Hy het daar alleen krieket gespeel. Alleen gedroom oor hoe hy eendag die krieketwêreld aan die brand sou speel.

Maar toe brand hy mos sy eie drome met drugs en crime uit.

L. Otto skud sy kop verwoed. Daar is nie nou tyd vir wonder oor “as” nie. As is verbrande hout.

Hy stap tot aan die kant van die huis waar sy ou slaapkamer was. Nes hy gehoop het, is die venster oop. Ou gier van sy ma wat behep is daarmee dat vars lug te alle tye in die huis moet wees.

As kind het hy hierdie reëling gehaat, want wie wil dan nou met ’n oop venster slaap? Maar vandag is hy dankbaar oor hierdie oop-venster-gedagtes van sy ma.

Met groot moeite hys hy homself tot op die vensterbank.

Dit is nie meer met dieselfde gemak as wat hy destyds by die venster kon uitklim om laataand jol toe te gaan nie. Dis ’n gesukkel soos min en L. Otto voel hoe die sweet hom aftap. Sy wonde klop dat die rook draai.

Onvriendelik het my behoorlik gekarnuffel, dink hy wrang. Hy maak gou ’n mental note om Onvriendelik dieselfde guns terug te bewys.

Sy six-pack van destyds het ontwikkel in die tjoep van nou. Maar agteros kom ook in die kraal. Met tjoep-pens en al.

Hy slaak ’n sug van verligting toe hy ná ’n gestoei met die vensterraam finally in sy ou kamer is.

Vaagweg hoor hy stemme en koppies wat klink.

Ma is wraggies besig om vir daai etter koffie of ’n ding te maak, dink hy kwaad.

Dan hoor hy ’n koppie wat op die vloer kletter – en sy ma wat gil.

L. Otto se hart klop in sy keel.

Die Vader weet, as Onvriendelik sy ma seermaak ... Hy sal daai etter met sy kaal hande verwurg.

Hy haas hom na die kamerdeur en pluk dit oop.

Die bloed in sy are stol amper toe hy in die loop van Onvriendelik se Z88-pistool vaskyk.

“Ook maar jou tyd gevat, nè,” sê Onvriendelik. Sy oë is koud, deep-freezer-koud.

“Kom,” wink hy met die loop van sy pistool. “Kom sê hallo vir jou liewe ma.”

Die korrupte cop staan opsy sodat L. Otto kan verbykom en vooruit stap.

L. Otto stap reguit kombuis toe, waar sy ma met ’n koppie tee voor haar sit.

Haar gesig helder op toe sy hom sien, maar daar is skrik in haar oë toe sy gewaar dat Onvriendelik ’n vuurwapen op hom rig.

Onvriendelik wink in die rigting van die kombuisstoel en L. Otto gaan sit sonder om teë te stribbel.

’n Mens hou nie vir jou slim met iemand wat ’n gun in sy hand het nie. Dít het hy al jare gelede geleer. Jy hou jou bek en hou jou platter as ’n Minora blade.

“Is dit dan nou regtig nodig, Konstabel?” vra L. Otto se ma, antie Minnie.

“Wanneer daar met skuim gewerk word, is sulke dinge nodig, mevrou Otto,” antwoord sers. Onvriendelik stram. “Jou seun ken die drill. Ek kan geen kanse met hom waag nie.”

“Maar jy het dan gesê jy soek hom net om met hom te praat,” sê antie Minnie vererg.

“Hierdie Z88 van my kan baie goed praat,” antwoord Onvriendelik en grinnik. Hy draai na L. Otto.

“Die tyd vir praat is verby,” blaf hy kil. “Ons kan nie langer mekaar se tyd so mors nie.

“Ek en jy weet albei Donnie Louw is nie Die Grootbaas nie.”

L. Otto gaap hom verbaas aan.

“Het jy dan gedink ek het dom gekom?” vra Onvriendelik vermakerig.

“Jou gesig lyk so, ja,” kap L. Otto terug. “Jy’t dan so ’n lekker vet aanpassingsklas-gevreet.”

Onvriendelik trek sy skouers op. “Beledigings gaan nie jou gat red nie,” sê hy ongeërg.

“As jy my nie gaan sê wie Die Grootbaas is nie, gaan ek jou ma voor jou oë stukkie vir stukkie opkerf.”

Antie Minnie trek haar asem geskok in. L. Otto bal sy vuiste.

Sy blik wyk nie ’n oomblik van Onvriendelik nie. Die twee mans weeg mekaar op.

In sy verwaandheid bevind Onvriendelik L. Otto veels te lig in die broek, veels te swaar om die belt.

L. Otto sien Onvriendelik weer veels te lig in die kop, veels te gewapen in die hand.

“Hoekom is jy so op ’n mission om die ware Grootbaas se identity uit te vind?” vra L. Otto.

“Ek kan seker maar honest wees met jou,” antwoord sers. Onvriendelik smalend. “Dis mos nie asof jy en jou ma forever gaan lewe nie.

“Daar is ’n nuwe top dog in town. Ek is moeg daarvan om ander se holborsel te wees.

“Dis tyd dat ek self die kitaar slaan. As ek Die Grootbaas kan elimineer, is hierdie alles my territory.”

“Wow,” sê L. Otto kamma beïndruk. “ ’n Cop met ambisie. Net jammer daar gaan niks in daai kop van jou aan nie.”

Binne ’n paar lang hale is sers. Onvriendelik by L. Otto en slaan hom met die loop van die vuur­wapen deur die mond.

L. Otto sien rooi. Hy gee ’n grom soos watse leeu en storm vorentoe.

Sy optrede vang Onvriendelik onkant en voordat hy weet wat klap, tref L. Otto se eerste vuishou hom teen sy oogbank.

L. Otto hoor sy ma gil. Maar Rex die hond binne hom ken nie van hok toe gaan nie.

Vandag is die dag dat hy Onvriendelik dood donner.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters