2 maande gelede
L. Otto reik uit na al een wat hy steeds vertrou
 ~ 

HAAI, Sonlanders! L. Otto is diep in die dinges. Hy slaag daarin om sers. Onvriendelik onkant te betrap en katswink te slaan. Hierna verras hy konst. Koekemoer en dwing hom om Onvriendelik en homself te boei. Koekemoer is glad nie impressed nie en waarsku L. Otto hulle grootbaas gaan net meer die hel in wees. Maar wat het die arme L. Otto dan verkeerd gedoen? Geniet nou hoofstuk 3 van Meneer L. Otto van ELDRIDGE JASON.

DIS koud. Vrek koud.

Die weerburo het nie gespeel toe hulle gesê het ons gaan dié week deur kouefronte gekasty word nie, dink L. Otto.

Sy tande klap teen mekaar. Die klere aan sy leef is so sopnat en kleef aan hom dat hy voel of hy ’n skinny-oorpak aanhet.

Teen dié tyd het Onvriendelik en Koekemoer se makkers hulle seker al bevry en is kliphard op soek na hom.

Hy het maar die polisiestasie gebel en gesê twee cops breek by sy huis in.

Dit het hom bitter lank gevat om ’n phone-hokkie te kry waarvandaan hy die polisie kon bel.

Hoekom is hierdie phone-hokkies in vandag se tye so skaars?

Hy wou nie van sy eie selfoon bel nie, uit vrees dat hulle hom sou kon trace.

Hierdie selfoon baat hom anyway niks nie, want die battery is vrek en die foon is boonop sopnat gereën.

Dis nou al seker meer as ’n uur dat hy in die stegie staan en die agterdeur van die Winners Pub&Grill dophou.

Hy wag vir haar. Sy kom trek altyd ’n skyf hier agter.

Maar vanaand blyk sy nie lus vir rook te wees nie. Het sy dan nou haar hart vir die Here gegee? wonder hy benoud.

Hoe langer hy hier staan, hoe beter raak sy kanse om in een of ander longontsteking-advertensie te speel.

Dan, so asof die gode nou eers gedagte gekry het van sy bestaan, gaan die agterdeur met ’n kraakgeluid oop.

Hy herken dadelik die skraal silhouette-lyfie. Sy het ’n hoodie-top op. Hy hoor haar vloek toe sy haar siggie wou aansteek en die wind die vlam doodneuk.

“Vloek gaan jou nie hemel toe vat nie,” sê hy.

Sy wip van die skrik, loer verskrik rond en kyk dan stip na die donker kol waar hy skuil.

“Die hemel is nie gemaak vir etters soos ek en jy nie,” sê sy, dan spook sy weer met haar lighter.

Sy slaag uiteindelik daarin en steek haar sigaret aan. Hy staar na haar gesig, wat deur die vlam van die aansteker opgehelder word.

Hy staar met verlange na die dimples in haar wange, haar aanloklike mond ... Sy oë dwaal oor haar fietse lyf, ’n lyf wat eens op ’n tyd syne was.

“Al wat loer, kry op sy moer,” sê sy en blaas haar entjie-rook die koue nag in. “Hoe lank staan jy al hier, peeping Tom?”

Hy grinnik verleë, maar bly stil. Mense wat in die nood is, het nie veel van ’n woordeskat nie.

“Ek neem aan jy is in die k*k,” sê sy en vat weer ’n diep trek van haar Camel Light.

“Dis tog al rede hoekom jy hier in die reën sal wag.”

Hy maak sy keel skoon. “Jy is reg, Tammy. Die gattas ... die gattas soek my.”

Hy sien hoe haar kop ruk. “Ag, L. Otto, jy wil ook nie jou dinge laat staan nie. Kan jy sien hoekom ek jou gelo–”

“Ek het niks gemaak nie,” val hy haar in die rede. “En hou op so hard praat. Wil jy hê mense moet weet ek is hier?”

“Wil jy my insleep by whatever jy nou weer involved in is?” kap sy terug.

Hy kom uit die skadukol gestap en kom staan voor haar. Daar is ’n pleitende blik in sy oë.

“Die Here hoor my, ek het niks gemaa–”

“Die Here het nie meer lus vir jou k*k nie,” val Tammy hom in die rede. “Moenie sy Naam so gebruik nie.

“Eenmaal ’n liegbek, altyd ’n liegbek. Watter k*k het jy nou weer aangevang dat die polieste jou soek?”

Hy vermy haar vraende blik.

“Ek ... ek kan nie sê nie,” antwoord hy ontwykend. “Nie nou al nie, want hierdie is iets waarby ek jou nie wil betrek nie.”

“O? Maar dis baie nice van jou,” antwoord Tammy sarkasties.

“Jy wil my nie involve nie, maar jy kom hier na my werk toe. Nou, waar pas dit in?”

L. Otto skud heftig sy kop.

“Dink jy ek sou hierheen gekom het as ek ’n choice gehad het?”

Tammy blaas haar entjie-rook weer uit en trap die stompie dood.

“Dis goed om te weet ek was jou laaste option,” sê sy koel.

“Hierdie option is nie meer avail­able nie. Kry jou ry en gaan kry vir jou iemand anders wat lus is om na jou flou verskonings te luister.”

Sy maak aanstaltes.

“Tammy, asseblief. Ek smeek jou. As jy my nie gaan help nie, is ek vanaand ’n dooie man.

“Daar is niemand anders wat ek trust nie. Ek trust jou. Met my lewe.”

Tammy se hand verstyf op die deurknop.

“ ’m, Dieselfde trust wat gemaak het dat ek vir jou part moes gaan mang het?

“En wat kry ek toe vir ’n dankie toe ek weer buite is, hè?

“Jy was skoonveld en ek moes my lewe weer oorbegin. Ek het maar nou vir ’n paar maande hierdie job.

“Ek wil dit nie verloor nie. Ek moet my blyplek hiervan betaal, want nadat ek vir jou k*k gaan mang het, wil my familie f*kk*l meer met my te doen hê nie.

“So, moenie met jou k*k kom dat jy my nodig het nie, want waar was jy toe ek jou nodig gehad het? Waar was jy?”

Hy laat sak sy kop. Sy skouers hang. “Ek het die pad gevat. Gedog jy is beter af sonder my.

“Ek is net bad luck en jy het soveel meer in die lewe verdien.

“Ek is jammer oor alles, Tammy. Sorry dat ek altyd ’n doos was.

“Maar weet dat ek nooit bedoel het om jou seer te maak of jou in die tronk te laat beland nie.

“Jy het alle reg om my weg te wys en ek het geen reg om enige iets van jou te vra nie.

“Jy is reg. Wat nou met my gaan gebeur, is my eie skuld.

“My sondes het my ingehaal en ek verdien om vrekgemaak te word. Tot siens.”

Hy draai om en stap stadig weg. Hy hoor haar saggies vloek.

Sy sopnat skoensole knars oor die sanderige oppervlak.

“Oukei, f*kk*t, f*kk*t!” sê Tammy. “Jy weet ook net hoe om met my kop te smokkel, maar ek sweer hierdie is die laaste keer.

“Jy kan solank by my plek gaan skuil. As jy weet waar ek werk, dan weet jy seker ook waar ek bly.”

Sy slinger ’n bossie sleutels na hom toe. Hy gryp dit dankbaar.

“Dankie, Tammy,” prewel hy.

Sy snork onvroulik deur haar neus. “Moenie vir my dankie sê nie. Ek weet sommer nou al ek gaan ever sorry wees oor hierdie besluit van my.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters