4 maande gelede
L. Otto ontvang 'n aanloklike aanbod van Onvriendelik
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oe, hierdie uncle se nerves is anderkant gaar! Dit lyk of ’n geveg tot die dood op L. Otto wag. Dis nou nadat sers. Onvriendelik by sy ma se huis opgedaag het. L. Otto kry deur ’n oop venster toegang tot sy ma se huis, maar sy kans om Onvriendelik te verras, is nul, want dié was hom te wagte. Die laaste strooi vir L. Otto was toe Onvriendelik hom met die vuurwapen slaan. Hy storm met moordgedagtes op die korrupte cop af. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van Meneer L. Otto van ELDRIDGE JASON.

DIE houe reën neer op sers. Onvriendelik.

L. Otto is soos ’n gekweste dier. Onvriendelik moet net keer vir sy wickets, maar sien elke keer sterretjies as L. Otto hom met ’n voltreffer uitoorlê.

As hierdie ’n boksgeveg was, was Onvriendelik lankal planke en droomland toe gestuur.

Maar hy veg verbete terug, wel wetend dat as hy hierdie fight verloor, hy net sowel sy loopbaan in die polisie en drome van sy eie crime empire koebaai kan soen. En die vakansie by Goudini Spa, waaroor sy vrou al so lank nag.

As hy net ’n lekker greep op sy pistool kan kry.

Maar L. Otto stoei oor dieselfde vuurwapen soos ’n besetene wie se duiwels ’n pastoor net nie kan uitdryf nie.

Een van L. Otto se stortvloed van vuishoue tref Onvriendelik tussen sy oë en die cop gee ’n sagte suggie. Sy greep op die Z88 verslap.

L. Otto gryp die vuurwapen en antie Minnie is met ’n groot gekreun en gesteun op.

Hy rig die wapen op ’n duidelike winddronk Onvriendelik.

“B-b-boetie, boetie,” stamel sy ma, antie Minnie. “Moet dit nie doen nie.”

Daar is ’n wilde kyk in L. Otto se oë. “Hoekom nie, Ma?” vra hy half oor sy skouer.

Hy durf sy oë nie van Onvriendelik afhaal en sodoende sy waaksaamheid verslap nie.

“Hierdie stuk etter sou nie twee keer dink om ons albei te vermoor nie. So, hoekom moet ons hom mercy toon?”

“Want ek het jou nie so grootgemaak nie,” sê antie Minnie sag en kom nader gestap. Sy sit haar hand op L. Otto se skouer.

“Ek is jou ma. Ek het jou hierdie lewe ingebring.

“En maak nie saak wat mense sê nie, ek weet daar skuil iets goeds in jou. Jy is beter as hierdie robbies poliesman.”

Sers. Onvriendelik gee ’n lelike lag. “Aauw, wat ’n touching oomblik,” sê hy sarkasties en vee ’n streep bloed met die agterkant van sy hand van sy mond af.

“Ek is skoons bewoë ná daardie speech. Maar die reality is, jy sal etter bly, L. Otto. Maak nie saak wat jy maak nie.

“Die gemeenskap sal jou altyd as ’n stuk gemors sien. En nou het jy nog ’n offisier van die gereg ook aangerand en van sy vuurwapen beroof.

“Ek sien al hoe dra jy weer ’n Pollsmoor outfit. Oranje pas immers by jou.”

Onvriendelik lag weer lelik, hierdie keer dat die spoeg spat. Daar is ’n rand van wit skuim om sy mond.

L. Otto gril. So lyk ’n mens wat nie al sy varkies in ’n wendy-huis kan hou nie, dink hy met afkeer.

Sers. Onvriendelik beur swaar orent. L. Otto laat hom begaan, maar hou die vuurwapen sekuur op die cop gerig.

“Jy het my lekker bygekom, n**i, ek moet jou jou due gee,” sê Onvriendelik. Hy lag, maar die haat in sy oë vertel ’n ander storie.

“Ek is nie ’n k*k ou nie en om dit te bewys, is ek bereid om ’n deal met jou aan te gaan.

“Jy is nogal ’n ou wat ek in my business kan gebruik.

“Help my om van die ware Grootbaas ontslae te raak, en ons albei raak stinkryk.”

“Stinkryk mense ruik nie lekker nie. Hulle geld laat hulle van binne af vrot,” antwoord L. Otto kil.

“Dink jy regtig ek wil my lewe bou op die as van ander wie se lewe verbrand het?”

“Wat is jy dan nou holier than thou?” kap Onvriendelik snedig terug. “Jy weet net so goed soos ek hierdie is ’n fight wat jy nie op jou eie kan wen nie.

“Of jy nou wil of nie, jy het my nodig. Jy gaan my nodig hê as iemand vir jou moet cover wanneer my kollegas op jou toeslaan.

“En glo my, hulle gaan hard op jou afkom. Klip, kliphard.”

Of hy dit nou wil admit of nie, moet L. Otto toegee Onvriendelik het ’n punt beet.

Baie sien hom as die skuim in die gemeenskap.

En vir Onvriendelik, wat ook as ’n ouderling in die kerkraad dien as hy dit nie mis het nie, het hulle net die grootste agting.

Dit gaan sy woord teen dié van Onvriendelik wees. En hy wat L. Otto is, weet nou al hy gaan in so ’n geval loshande verloor.

Dit gaan nie eens ’n photo finish wees nie. Mense gaan een kyk na sy verlede gee en al die sondes van sy jeug teen hom hou.

Hy sug swaar en tot antie Minnie se skok hou hy die Z88 na Onvriendelik toe uit.

“Jy wen,” sê hy in ’n gelate stem. “Ek sal jou help en jou partner wees. Maar eers moet ons my ma hier wegkry.”

“Boeta, wat maak jy nou?” vra antie Minnie verontwaardig, maar voordat L. Otto antwoord, val Onvriendelik hom in die rede.

“Vir die eerste keer in sy lewe gebruik hy sy verstand, Antie.

“Laat hom tog toe om vir ons te wys dat hy ook ’n brein het wat nie net suurstof opgaar nie.”

Onvriendelik draai na L. Otto. “Ek sal jou dié bakleiery vergewe. Maar onthou: God forgives, I don’t.

“As jy net daaraan dink om my te double-cross, kom ek terug vir jou ma.

“Maak nie saak waar jy haar wegsteek nie, ek sal haar opspoor en dae lank torture, totdat jy soebat ek moet haar van kant maak.”

Antie Minnie se hand gaan geskok na haar mond. “Om te dink jy dien ook nog in die kerk.

“Jy is mos van die bose af, kind. Ek sal vir jou bid. God het die sondaar lief.”

Onvriendelik gee ’n lelike laggie en draai dan na L. Otto.

“Kom ons maak dat ons hier wegkom voordat jou ma my in holy water verdrink.

“Jy gaan my nou na Die Grootbaas toe vat en onthou, geen speletjies nie.

“Ek gaan nie ’n sekonde huiwer om jou soos ’n hond vrek te skiet nie. So, beware.”

L. Otto draai na sy ma. “Alles gaan fine wees, Ma. Ek promise.

“Gaan kuier vir ’n paar dae vir antie Gerty en as Ma Ma se oë uitvee ... Ons sal mekaar weer sien.”

Die trane dam in L. Otto se oë op en hy stap na die voordeur.

Hy hou nie daarvan om vir sy ma te lieg nie, maar hierdie is ’n noodleuen.

Hy self weet nie of hy die dag van môre gaan sien nie.

Nog voor die son vandag opkom, is dit hy, Onvriendelik en die ware Grootbaas.

Maandag: Slot

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters