6 dae gelede
L. Otto laat arme Onvriendelik panic by die baas se plek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In ’n poging om sy ma se lewe te red, stem L. Otto in om saam met die korrupte cop sers. Onvriendelik te werk. L. Otto besluit om Onvriendelik te gaan wys waar die ware Grootbaas bly. Onvriendelik is vol crime-ambisies en dis sy droom om die ware Grootbaas se empire oor te vat. Daar wag egter ’n nare verrassing op een van die mans. Maar watter een? Geniet nou die slothoofstuk van Meneer L. Otto van ELDRIDGE JASON.

DIE sonnetjie steek al sy tong uit toe L. Otto en sers. Onvriendelik Stellenbosch binnery.

L. Otto is deur Onvriendelik aangesê om die polisiekar te ry.

Hy wou eers protesteer, maar Onvriendelik wou niks verstaan nie.

“Die politicians ry ons, so ons ry hierdie karre klaar,” sê Onvriendelik toe ewe vriendelik.

Vandat L. Otto besluit het om saam met hom te werk, is die cop baie nice en het tydens hulle hele trip grappe gemaak.

“Wat noem ’n mens dit as jou pay heelmaand hou?” wil Onvriendelik op ’n slag weet.

“Ek weet nie,” antwoord L. Otto geïrriteerd.

Hy hou nie daarvan dat hy en Onvriendelik nou vriendeliker is as baie mense op Facebook nie.

“Jou verbeelding,” sê Onvriendelik en kraai van die lag. “As jy dink jou pay hou heelmaand, dan is dit jou verbeelding.”

L. Otto vind dit nogals snaaks, maar hy gaan dit nie vir Onvriendelik wys nie.

En hier ry hulle nou Paradyskloof binne. Op pad na die ware Grootbaas.

Onvriendelik fluit deur sy tande. “Nou hoeveel keer moet ’n man dan die Lotto wen om hiér te kan bly?” vra hy in verwondering.

Toe L. Otto nie antwoord nie, gaan Onvriendelik voort.

“Nei, ou L. Otto, ons twee se skip gaan nou ook inkom.

“As ons Die Grootbaas uit die weg geruim het, bou ons vir ons ’n empire en kom bly ook hier.

“Ek is nie ’n onredelike mens nie en sal jou 15% van die business gee.

“Ek gaan nog aanhou my werk doen sodat mense nie suspicious raak as ek dan nou ewe skielik hierheen trek nie.”

“Jy kan altyd sê jy het die Powerball gewen,” antwoord L. Otto en hou dan by die hekke van ’n kasteel van ’n huis stil.

Onvriendelik draai paniekerig na hom.

“Is djy djas?” vra die cop met groot oë.

“Ek het gedog jy het ’n plan. Jy kan mos nie so oop en bloot hier opdaag nie. Het jy ’n death wish?”

“Relax,” sê L. Otto en glimlag. “Ek weet wat ek doen.”

“Jy beter weet wat jy doen,” kap Onvriendelik terug. Die smiles van hom van vroeër is nou long gone.

“Anders is dit witbiene vir jou taanie.”

L. Otto maak sy mond oop om iets te sê, maar bly stil toe hy ’n wag gewaar wat in hulle rigting gestap kom. Die wag se een hand is nie ver van sy sy af nie.

L. Otto draai sy venster af.

Die wag buk af, loer na die insittendes en draai dan sonder ’n woord om. Dan wink hy aan iemand wat in die sekuriteitshokkie sit om die hek oop te maak.

Peperduur hekke swaai swierig oop.

Onvriendelik loer agterdogtig na L. Otto.

“Hoe lyk dit dan hierdie mense ken jou?” vra hy. “Was jy dan al voorheen hier?”

L. Otto antwoord hom aanvanklik nie en ry binne. Dan skakel hy die kar af en draai na Onvriendelik.

Daar is ’n kilheid in sy oë wat Onvriendelik bang maak. Hy pluk sy vuurwapen uit en rig dit op L. Otto. Maar binne oomblikke is daar ’n groep van so tien gewapende mans rondom die kar. Hulle vuurwapens is almal in Onvriendelik se rigting gemik.

“Watter k*k gaan hier aan?” vra Onvriendelik paniekerig. “Is dit jou idea van ’n grap?”

L. Otto glimlag, min gespin met die wiegende vuurwapen-loop wat in sy rigting gepoint word.

“Ek weet nie hoe goed was jy in Wiskunde op skool nie, maar jy is supposed om te besef dat jy nie ’n kat se kans staan nie.

“My ouens skiet jou nou na k*k. Ek moet net die opdrag gee.”

“Jou ouens?” vra Onvriendelik oorbluf. “Is jy ... is jý ...”

“Maar natuurlik is ek die ware Grootbaas,” val L. Otto die dom-stom cop in die rede.

“Hoe het jy dan gedink hoe weet ek waar hierdie huis is? Of het jy al weer nie gedink nie?

“Nes jy gedink het jy kan my empire wat ek so swaar aan gewerk het vir jouself toeëien?”

“Maar Donnie ... Donnie Louw – hy het dan opdrag gegee dat ons jou moet uithaal.”

“Donnie Louw se p**s,” sê L. Otto kras.

“Ek moes hom jare gelede daar in Louw-se-Bos gelos het en hom nie die kans gegee het om vir my te kom werk nie.

“Ek het altyd geweet Donnie is uitgevreet, maar nooit gedink hy sal so ver gaan om my uit te haal nie. Ek is iemand wat glo om self my werk te doen sodat niemand k*k aanvang nie.

“Ek moes uitvind met wie Donnie gekonkel het om my uit te haal.

“En toe ek besef dis jy en dat jy planne van jou eie het om my besigheid oor te vat ...

“Wel, meneer, ek kon mos nie net agteroor sit en oorgee nie. Wat sou my manskappe van my dink?”

“Maar, maar ...” stamel Onvriendelik. Hy is meteens wasbleek.

“Maar, maar is nie maer of vet nie,” sê L. Otto koud.

“Ek pasellie hierdie trade, het jy my? Die ou wat dink hy kan my kom overthrow, moet nog gebore word.

“Jy was die hele tyd nie nice met my nie, het my aangerand, k*k vertel en selfs my ma gedreig.”

Onvriendelik lek oor sy kurkdroë lippe waarvoor g’n potjie Zambuk nou kans sien nie.

“Dis klaar nag vir Donnie,” gaan L. Otto voort.

“Whatever van sy f*kk*n lyf oorgebly het, swem nou saam met die visse. Jou wannabe grootbaas- planne stop hier. Hierdie is jou eindstreep.”

Onvriendelik is so in ’n waas van skok dat hy nie eens agterkom hoe een van die ouens die kardeur oopmaak en die vuurwapen uit sy hand vat nie.

“Jy ... jy sal nie hiermee wegkom nie,” prewel Onvriendelik. “Ek is ’n geregsdien–”

“Ek dien nie die gereg nie, ek ís die gereg,” val L.Otto hom kil in die rede.

L. Otto maak die kardeur oop en draai na Onvriendelik.

“Vir die heel, heel laaste maal: Ek is nie L. Otto nie, ek is menéér L. Otto.”

Hy klim dan uit en smyt die deur agter hom toe, en stap weg sonder om een keer terug te kyk.

Sers. Onvriendelik voel hoe ’n traan langs sy wang afloop.

Wat vir ’n cop is hy dan as hy nie hierdie sien aankom het nie?

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters