13 dae gelede
L. Otto hoor Die Grootbaas gaan troefkaart speel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! L. Otto is dankbaar dat Tammy, sy eksmeisie, hom toelaat om in haar flat te gaan skuil. Sy is mos diep kwaad vir hom omdat sy destyds alleen in die tronk moes gaan boet vir hulle sondes. Met haar terugkeer na die flat vertel Tammy egter aan hom sy het twee cops oor hom hoor praat in die pub waar sy werk. L. Otto besef onmiddellik hierdie cops, sers. Onvriendelik en konst. Koekemoer, moes uitgefigure het daar is ’n connection tussen hom en Tammy en het haar na alle waarskynlikheid agtervolg. Dis ook nie lank nie of hy en Tammy hoor ’n gevroetel aan die woonstel se voordeur. Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se verhaal Meneer L. Otto.

‘WAT mean jy as jy sê jy het Die Grootbaas se lewe gesteel?” vra Tammy en frons.

L. Otto trek sy skouers op. “Jy sal nie verstaan nie en daar is nie nou tyd om te verduidelik nie,” antwoord hy kortaf.

“Besef jy dan nie Onvriendelik kan enige tyd hier ingestorm kom nie? Ons moet aan ’n plan dink om hier weg te kom. En vinnig ook.”

Tammy kom voor hom staan en point byna haar vinger in sy oog.

“Jou grootste probleem is dat jy nooit tyd het om dinge uit te sort nie,” sê sy met ingehoude woede.

“So was dit ook toe ek nog mal genoeg was om met jou uit te gaan.

“Jy het later nie eens meer tyd vir my gehad nie, geen tyd vir ons verhouding nie.

“Hoekom dink jy werk niks ooit vir jou uit nie? Tyd het ook nie meer tyd vir jou nie.”

“Kan ons later hierdie gesprek hê?” vra L. Otto.

“Ek wil nie snaaks wees nie, maar as ons nie nou hier wegkom nie, gaan daar nie ’n later wees nie.”

Tammy gooi haar hande in die lug. “Ek worry nie meer nie,” sê sy gelate. “Hulle kan maar daai voordeur aftrap for all I care.

“Hulle is anyway op soek na jou en nie na my nie.

“Moenie vir my kom bytel by die stront wat jy aangevang het nie. Stront wat dan nou, volgens jou, ’n staatsgeheim is.”

“Liewe genade tog,” sê L. Otto en blaas sy asem hard uit.

“Jy ken ook nie van let go nie, nè.

“Nou goed, as jy dan moet weet, ek ken die identity van Die Grootbaas. En as dit uitkom … dit sal die einde van sy lewe wees.

“Hy gaan dan boet vir amper elke liewe georganiseerde misdaad wat in hierdie land gepleeg is. So te sê krepeer in die tronk.”

“Maar ken hierdie cops Onvriendelik-goeters dan ook nie Die Grootbaas nie? Werk hulle dan nie vir hom nie?”

“Dis waar almal die fout maak,” antwoord L. Otto en gee ’n skewe glimlag. Dis ’n smile wat nie sy oë liggies laat ophelder nie.

“Daai vetsak-jong wat so die bevele blaf en maak asof hy die show run, is net ’n front.

“Jy het al so hittete gat met Die Grootbaas se ouens geskuur. Het jy al enige iemand behalwe Donnie Louw gesien wat hom voorhou as Die Grootbaas?”

Tammy skud haar kop.

“Donnie Louw is nie Die Grootbaas nie,” verduidelik L. Otto soos wat ’n grootmens iets aan ’n kind verduidelik.

“Donnie wil almal laat glo hy is die big show.

“Maar die eintlike grootmeneer is niemand anders nie as –”

’n Groot slag klink op toe die voordeur meegee.

“Langs my slaapkamerdeur loop ’n brandtrap,” sê Tammy vinnig.

L. Otto wonder vies hoekom Tammy nie vroeër so gesê het nie.

My jinne, hulle is dan hoe lank in haar slaapkamer. Hulle kon mos lankal ’n get geslaan het.

Dit is met inspanning dat L. Otto met lang hale na die venster stap.

Hy is verlig toe hy sien dit is nou daai old-school vensters wat opskuif.

“Jy eerste,” sê hy vinnig aan Tammy.

Sy skuur by hom verby. Hy hoor naderende voetstappe en moet homself keer om Tammy by die venster uit te stoot.

Daar is nie tyd vir hulle albei om weg te kom nie. Hy besef dit maar alte goed.

“Maak dat jy wegkom en kry my op die spot waar ons ons eerste date gehad het,” sê hy haastig aan Tammy.

“Maar wat van jou –”

“Vergeet my en dink ’n slag aan jouself,” val hy haar in die rede. “Ek los die venster oop. Gaan nou.”

Toe Tammy uit sy sig verdwyn, loer L. Otto haastig om hom rond.

Wegkruipplek in Tammy se slaapkamer is soos om asem op te hou en te droom dat iets soos ’n honest politician bestaan, dink hy vies.

Dan val sy oog op Tammy se groterige wasgoedmandjie. Hy stap vinnig daarheen, gooi ’n paar goedjies uit en vou sy lyf met moeite om in die mandjie te pas.

Dan gooi hy ’n paar kledingstukke oor hom. Hy is ook nie ’n oomblik te vroeg nie, want Tammy se slaapkamerdeur vlieg oop.

Hy hoor voetstappe in die rigting van die oop venster beweeg.

Volgende vloek iemand kliphard van ma se goeters. Onvriendelik. Sersant Onvriendelik.

Skietpyne hardloop soos panga-houe deur L. Otto se lyf.

Hy kners op sy tande en voel hoe die wonde wat hy vroeër met moeite versorg het, erg aan die klop gaan. Dan hoor hy nog voetstappe.

“Die Grootbaas gaan nie hiervan hou nie.”

Koekemoer se stem.

“Die Grootbaas se gat,” antwoord Onvriendelik kras.

“Hy is anyway nie Die Grootbaas nie. Te f*kk*n onnosel om te besef dat ek dit lankal uitgefigure het.”

“Maar hoe –”

“Hoe-hoe sê die uil,” val Onvriendelik hom in die rede.

“Ek hoef ook nie alles aan jou te explain nie.

“In hierdie business moet jy jou huiswerk deeglik doen, en dit is wat ek gedoen het.

“Jy gaan terug polisiestasie toe en vind alles oor hierdie Tammy-tief uit. Wie haar family is, waar sy uithang, met watter soort toiletpapier sy haar gat afvee – die laaste liewe lot.”

“En jy, Sarge?” vra Koekemoer. “Wat gaan jy maak?”

“Dis nie eintlik jou besigheid nie, maar ek gaan die ware Grootbaas sien.

“Ek raak nou moeg vir L. Otto se k*k.

“Die Grootbaas moet nou sy troefkaart speel. L. Otto weet dit nog nie, maar ander se bloed gaan nou op sy hande wees.

“Hy wou mos. If he wants to run with the dogs, he can’t piss like a puppy.”

Die twee cops stap die vertrek uit.

In die wasgoedmandjie loop die trane skaamteloos oor L. Otto se wange.

Hy weet presies wat Onvriendelik bedoel.

Hy weet waar Die Grootbaas hom nou gaan slaan, maak dit die seerste.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters