Verlede maand
Koue tussen die Petersens erger as winterkoue
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste deel van ’n kortverhaal in twee dele uit die pen van KEITH MEYER. Dit handel oor Linda en Nico Petersen, ’n kinderlose egpaar van Herbertsdale. Toe hulle eendag ’n satellietskottel met die volle pakket kry, verander dinge in die huishouding ten kwade, want Linda raak by die dag slordiger. Geniet nou die eerste deel van “Die Winter van 2018”.

DIS ysig hierdie winter. Dit voel asof die koue en die sneeu daar buite sommer direk van die Noordpool af ingevoer is vir die dorpie Herbertsdale.

In die huisie van die egpaar Linda en Nico Petersen is dit ewe ysig koud.

Die egpaar, wat reeds 10 jaar getroud is, het geen kinders nie.

Hulle deel ’n liefde wat lank aankom – reeds van hulle hoërskooldae.

Linda is in Herbertsdale gebore en het skoonheidsprodukte van Beauty is Everything van die huis af verkoop.

Nico is nou al 10 jaar ’n cop in die dorp. Omdat hy by Riversdal se cop shop gestasioneer is, ry hy elke dag in en uit.

Die vroue van die omgewing was Linda se klante en sy het altyd gesorg dat hulle mooi lyk en lekker ruik.

Die Petersens se huis was seker die netjiesste in die township.

Alles was wel en die liefde tussen hulle was meer as wat daar sand op die strand is.

“Nico,” het Linda een middag gevra, “hoe lyk dit met ’n DStv-skottel met die volle pakket?

“Ek hoor die mense praat so van kykNET se sepies en dan kan ek nie saamgesels nie.

“ ’n Mens wil darem nie so uit voel nie.

“Ek hoor Arendsvlei is die main ding en dan is daar ook Binnelanders en Getroud met Rugby.

“Dis darem nie nice om altyd by ander mense te gaan TV kyk nie. Ons kanale is te min.”

Nico laat nooit sy vroutjie wag nie en daarom is die liefde ná 10 jaar nog net so witwarm soos die dag toe hulle getrou het.

Toe die boys van die plaaslike satellietwinkel die skottel kom installeer, het Linda se beker oorgeloop.

Binne weke was Linda amper letterlik aan die TV vasgegespe.

Gou-gou was dit nie net sepies nie, maar alle series was op haar menu.

Tyd vir haar huisie en die lekker kos wat sy altyd vir Nico gemaak het, het opgedroog.

Nico het gou agtergekom sy skeep haar huis af.

Die winterkoue was erger binne as buite.

Skielik was fast food ál kos wat hulle geken het.

Net ’n WhatsApp aan hom en hy moes Kentucky, Steers of Spur se duur take-aways van Riversdal saambring.

“Linda, ons huis was nog nooit so morsig nie.

“Jy lê heeldag voor’ie TV.

“Jy ken ál die karakters in die sepies en series.

“Jy raak even morsig met jou voorkoms.

“Nei, man, ek ken nie meer vir jou nie. Jy moet jou regruk anners sit ek DStv af,” het Nico gedreig.

Maar slim Linda het hom gou-gou oortuig om liewer ’n huishulp aan te stel.

“Dan kan sy sommer kos kook en die huis aan die kant maak, terwyl ek na die dorp se vroue omsien en steeds ons DStv enjoy.

“O, man, ’n mens betaal darem net te veel vir die subscription om nie alle channels te enjoy nie.

“Weekends kyk jy darem jou sport ook, nè, my king?”

Linda vra toe ’n vriendin se werklose dogter, wat twee jaar gelede in matriek was, om vir hulle te kom huishou.

“Dan kan jy sommer spaar om universiteit toe te gaan.

“Dis mos nog jou droom om ’n juffrou te word, nè, Lien?”

Lien het goed by haar ma geleer, want hierdie 19-jarige girly het soos ’n pro gewerk.

Huis aan die kant. Kos gekook. En as ’n bonus kon sy van die beauty products op special kry.

Die Petersen couple was nogal happy met Lien.

Die respek vir haar uncle Nico en antie Linda was mutual.

En sy het oukei gepay vir services rendered.

Tog het die distance tussen man en vrou begin vergroot.

Die TV het gemaak dat die egpaar al hoe minder gepraat het, want “jy steur my” en “ek kan nie volg wat nou daar gebeur nie” is gereeld gehoor.

Aan die ander kant het die pragtige Lien al meer en meer ’n oor vir haar boss gehad.

Gereeld het Nico teenoor die mooie Lien gekla Linda raak dan nou meer never mind.

So laks het Linda begin raak dat Lien selfs saam met Nico uit Herbertsdale gery het om in Riversdal te gaan shopping.

Dit is waar secret emotions tussen­ Lien en Nico begin posvat het.

“Dis nie maklik vir my nie, maar ek weet hierdie feeling is mutual, Lien.

“Dis gebore uit hierdie ongesonde circumstances tussen my en my vrou,” het Nico alles begin.

Die aantreklike Lien was eers skaam, maar soos die tyd aangestap het, het dinge tussen die lovers sterker gegroei.

Linda het op haar ou trant aangegaan en selfs luier en slordiger geword.

Toe, ’n paar maande later, net nadat Lien by die egpaar se huis uitgeval het, stuur sy hom ’n Whats­App.

“Nico, ek gaan nie môre kom werk nie. Ons moet alles stop. Dit stop nou.

“Vaarwel en dankie dat ek jou kon liefhê.”

Nou is die hel los. Nico weier om dit te aanvaar.

Skielik raak hy sommer violent in die huis.

Arme Linda weet nie wat klap so nie.

Sy wonder ook waarom Lien nie meer kom werk nie.

Lien spin vir Linda die storie dat sy haar jongmenslewe wil geniet.

Lien se ma aanvaar dit dan toe ook maar so.

“Kom ons gaan vir die naweek ’n bietjie weg Stilbaai toe.

“Dan huur ons ’n chalet en rebuild aan ons relationship,” vra Linda haar man.

Nico stem in.

Daardie Vrydagmiddag vertrek die couple Stilbaai toe.

Van die bure kom sien hulle af en wish hulle luck met die renewal van hulle wedding vows.

Die couple het net hulle goed vir die weekend uitgepak, toe Linda se selfoon lui, maar sy hoor dit nie.

Later die aand kyk sy vir die eerste keer na haar foon en sien 10 missed calls.

Dis almal van Lien se ma af. Dan sien sy ook die klomp Whats­Apps van haar vriendinne in Herbertsdale.

Almal vertel die verhaal van die jonge Lien wie se liggaam in haar ma se huis gekry is.

“Lien het haar opgehang met ’n belt,” lui die WhatsApps.

¦ Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? Stuur ’n SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters