4 maande gelede
Konflik tussen Geduldts word op spits gedryf
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van ’n storie in twee dele uit die pen van die immer gewilde SALMON SMITH. Dit is ’n boodskap aan die jeug en is geïnspireer deur die onlangse Jeugmaand. Dit gaan oor Brendon, ’n jong seun wat die skool los ná sy pa se afsterwe. Hy raak betrokke by dwelms en gangsterism. Hy maak sy arme ma se lewe hel. Lynette, sy suster, is woedend oor al die dinge. Natuurlik kan so ’n gevaarlike lewenswyse op niks goeds uitloop nie.

‘HET Mammie toggie weer daai ding gaan uitbail nie?”

Lynette bewe van woede terwyl sy haar ma aangluur.

Brenda Geduldt kyk haar dogter met ’n moedelose uitdrukking op haar gesig aan.

Dit lyk asof sy Tafelberg op haar skouers dra.

Die plooie in haar gesig en grys hare op haar kop is allesbehalwe van ouderdom.

Nee, dis van al die probleme wat Brendon, haar seun, vir haar gee met sy dwelmgewoontes.

Ná haar man se dood so drie jaar gelede wou Brendon nie meer skoolgaan nie.

Hy slaap tot wanneer die son in sy gat skyn, sit op die hoeke en meng met die semels daar buite.

Nou gee hy haar al haar hel op aarde en sy sit met die hande in die hare. Sy weet nie meer watter kant toe nie.

“Hy is ’n nikswerd-gemors wat in die tronk hoort!” onderbreek Lynette haar ma uit haar gedagtegang.

“Linnie, moetie so van jou broer praatie, asseblief!” sug Brenda.

“Ja maar, Mammie, dis nou al die hoevilste keer dat Brendon by mense se huise inbreek en in die selle beland. Maar Mammie breek elke keer Mammie se bene vir hom.

“Mammie moet lat hy gaan bad! Daai jong wil dan nie regsê nie!”

“Nee, my kind. Ek kan mossie lat Boeta tronk toe gattie!”

“Hoevil geleenthede het hy nie nou al gekry nie, Mammie?!” kap Lynette terug. “Hy was al in elke rehab hier in die Kaap, maar hy tik nog en vang stront aan.

“Die laaste keer, toe vat hy wragtig aan een van die susters se holle. Toe skop hulle hom uit die rehab. Dan kry Mammie nog daai jong jammer!” kla Lynette.

“Djý! Wie’s djou jong, ha?!” klink ’n stem vanuit die gang.

Lynette en haar ma se koppe ruk om en hulle sien Brendon in die gang afkom.

Daar is woede op sy gesig terwyl hy sy suster aangluur.

“Djy dink sieke omlat djy gestudy het en ’n kwaai job het, nou skyn die son uit djou gat!”

Hy kom staan voor Lynette en maak ’n gangster-teken met sy hand. Hy druk dit in haar gesig.

“Maar ek sê nou vi djou, djou ma se …!”

“Boeta! Gedra djou!” kap Brenda hom kort voordat hy sy sin kan klaarmaak.

“Dan moet djy praat met die dogter van djou! Sy werk op my gat!” spoeg hy in sy ma se rigting.

“O, nou ‘djy’ en ‘djou’ jy nou al glad vir Mammie!” kap Lynette terug. “Niks respek nie!”

“Hei, laat ekke liewerste hie wegkô voor ek ’n moord pleeg!” tier Brendon voort.

Hy skuur by Lynette verby en verdwyn vloek-vloek na buite.

Die volgende aand kom Lynette uit die werk en tref haar ma in trane in die voorhuis aan.

Sy plaas onmiddellik haar handsak op die kombuistafel en haas haar na haar ma.

“Wat gaan aan, Mammie?!” vra sy bekommerd.

Brenda vee vinnig haar trane af. “Ag nee, dis sommer niks, my kind,” antwoord sy.

Maar Lynette ken van dikhou. “Dis nie niks nie, Mammie. Hoekom huil Mammie? Is dit weer daai sleg etter van ’n jong?!”

“Ag, my kind, ek soek mos nie moeilikgeid nie!” keer Brenda vinnig­.

“Wat het hy dié keer gemaak?” vra Lynette en sy probeer haar humeur beteuel.

Sy kyk in die voorhuis rond om te kyk of die flatscreen-televisie en die ornamente wat sy nou die dag gekoop het, nog daar staan.

“Hy het al my breekgoed vanoggend gesteel en daar by die bhai oppie hoek gaan verkoop,” snik Brenda.

’n Woede kom sit in Lynette. Sy staan dadelik van die rusbank af op.

“Dis nou die laaste strooi, Mammie! Ek bel nou die boere vir hom!”

Brenda se kop ruk op. Sy kyk smekend na haar dogter.

“Nee, asseblief, Linnie! Moetie jou broer innie tronk sittie!”

“Nou, vir hoe lank gaan Mammie nog sy dinge tolerate?! Vir hoe lank wil Mammie nog suffer?!

“Mammie lyk al oud van sy nonsens!

“En dan bly Mammie nog op­cover vir hom.

“Waar is hy nou?!”

“Hojaaaa!! Hie’s hulle nou!” klink ’n stem skielik van buite af op.

Brenda en Lynette se koppe swaai in daardie rigting.

Brendon kom kiertsregop by die deur ingestap.

Sy oë sit groot en stokstyf in sy kop.

En ’n moerse, lelike grynslag ontsier sy gesig soos die vars gerookte tik met sy kop smokkel.

“Hei, waa’s my vriete?!” vra hy bar.

Nog voordat Brenda kan antwoord, spring Lynette vorentoe en slaan Brendon met haar handsak deur sy lelike tikgevreet.

Hy steier agteruit teen die kombuistafel vas.

“Voetsek jou gemors! Jy’t g’n respek nie! Steel jou ma se breekgoed, dan kom soek jy nog kos!”ontplof sy.

“Linnie, asseblief!! Ek soekie moeilikgeid nie!” probeer Brenda nog keer, maar die woedende Ly­nette stuur nog ’n paar houe deur en dis voltreffers.

Brendon storm by die huis uit om weg te kom van sy verwoede suster.

Daar buite in die jaart draai hy om en sy oë spoeg vuur terwyl hy Lynette aangluur.

“Djý! Djy dink djy’s die merrim hie innie huis oor djou gelerentheid!

“Maar ekke sê nou vi djou, dit was djou laaste slat gewies, djou tief!

“Ekke gat nóú jongens haal wat djou vanaand goed kan n***!”

“Boeta!!” dawer Brenda se stem hom tot stilswye.

Brendon swaai om en hardloop doelgerig by die hekkie uit, die straat in.

’n Woedende Lynette hardloop nog agter haar broer aan en wil net haar hand na die hekkie uitsteek, toe iets gebeur wat die lewe van die Geduldt-gesin vir ewig gaan verander.

Sy stop vierkant in haar spore toe sy sien wat nou hier voor haar gebeur.

Haar mond val oop van skok en haar oë rek so groot soos pierings.

Toe skeur haar angswekkende gil deur die woonbuurt …

  • Lees volgende week die slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters