10 dae gelede
Kollega se plan maak oom Basil se nerves gaar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oom Basil Talmakkies is heel gemaklik met die lewe op die platteland. Maar sy vrou, Naomi, nie. Dié karring aan dat oom Basil-hulle Kaap toe trek ter wille van hulle twee dogters, wat regte bedorwe brokkies is. Oom Basil skop vir ’n vale teen die karre, maar moet uiteindelik besgee. Tog is hierdie skuif nie goed vir sy gesondheid nie, met sy vrou en dogters wat daarop uit is om hom finansieel te ruïneer. Gaan skuld nog oom Basil se dood beteken? Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se Die High-flyers.

OOM Basil geniet nie meer die lewe nie.

Niks is meer vir hom lekker nie. Hy mis die Weskus en sy rustigheid. Die vriendelikheid van sy mense.

Hier in die grote stad ken niemand van groet nie.

As jy dit waag om te groet, kyk hulle jou agterdogtig met ’n wat-soek-jy-gevreet aan.

Sy kollegas by sy nuwe job is ook anderkant nasty.

Hy wat oom Basil is, het nooit geweet mense kan so afgunstig en rugstekerig wees nie.

Dis ’n geskinder van vroeg in die oggend tot tjailatyd.

Hy verkoop ook nie so baie karre soos wat sy bestuurder wil hê nie.

Die bestuurder het klaar begin skimp dat hy oom Basil in die pad gaan steek as dinge nie verbeter nie.

Gepraat van verbeter, daar is ook geen beterskap in sy geldsake nie. Sy bankbalans is op life support.

Sy bank, by wie hy al oor die 40 jaar bank, stuur die vieslikste e-mails en SMS’e.

Hulle bel hom glad by die werk, maar hy hou maar sy phone op silent.

Hy werk met baie mense om hom en hy het al gesien hoe sommige van hulle onbeskaamd ander se gesprekke afluister.

Hy wat oom Basil is, wil nie die talk van die office wees nie.

Nee wat, dit gaan nie goed nie. Veral ook nie as Naomi leef asof hulle familie van die Guptas is nie.

Oom Basil sug. Hy kan sy vrou nie verstaan nie. Sy ding skaamteloos mee met hulle nuwe bure, die Kardoessins.

Om dinge nog moeiliker te maak, het sy twee dogters, Leandra en Lee-Shandra, vriende gemaak met die twee Kardoessin-dogters, Lara en Tamara.

Oom Basil skud sy kop. Destyds is kinders met die helm gebore, maar hy sweer Lara en Tamara is met die spieël gebore.

Daai twee gaan nie by die huis uit sonder ’n spieël nie. En dit bly ’n selfie-vattery met hulle sel­fone.

Hy wat Basil is, ken net van telegram, maar al wat hy uit Lara en Tamara se monde hoor, is Instagram, Instagram, Instagram.

Klink maar vir hom soos kitskoffie wat per gram geweeg word.

Sy ever end was nou die aand toe Naomi haar foon antwoord en haarself as “Naomi Telmarks” voorstel.

Hy wat oom Bear is, het amper sy valstande ingesluk.

“My liefie Bear,” het antie Naomi pruilmond gesê toe sy die mengsel van skok en afkeur op sy gesig bespeur.

“Telmarks klink baie meer gesofistikeerd as Talmakkies. Dit laat ons belangrik klink.”

“Dis seker nie belangriker as ons immer kwynende bankbalans nie,” het oom Basil gegrom.

Antie Naomi het bo uit gekraai van die lag. “Oe, my liefie Bear, jy is baie snaaks, snaakser as Trevor Noah.

“Ek is seker jy kyk baie goed na ons geldsake. Ek het volle vertroue in jou.”

Oom Basil het ’n kramp in een sy gekry en dadelik besef dit is van al die spanning wat sy liggaam verduur.

Hy is immers ook nie meer vandag se kind nie.

Daar was net een ou by die werk in wie hy kon confide. Frankie. Frankie de Ridder.

Frankie, wat gedink het hy is elke vrou se ridder op ’n wit perd.

Maar hoewel Frankie ’n car salesman is, besit hy g’n kar of perd van sy eie nie.

“Hoekom geld op karre mors as jy kan Uber?” het Frankie oom Basil gevra toe die oom hom hieroor pols.

Oom Basil kon maar net sy kop skud. Hoekom dan karre verkoop as jy geen nut daarvoor sien nie? het oom Basil gewonder, maar eerder besluit om dit nie aan Frankie te vra nie.

Frankie – so het oom Basil maar van die office gossip uitgemaak – is geskei.

Geskei van ’n vrou wat hou van spa en salon treatments en om kinders in peperduur privaat skole te sit.

En dit is maar eintlik die rede hoekom Frankie nie eens ’n kraai kon afford nie.

“Oom moet Oom se voet dwars sit,” het Frankie gesê nadat hy na oom Basil se klakous-verhaal geluister het.

“Wie dra die broek? Oom moenie so met Oom laat mors nie.”

Oom Basil het hom met hangskouers en leepoë aangekyk.

“Frankie, jý van alle mense behoort mos te weet dat vroue ons deesdae net toelaat om die broek te dra om werk en kerk toe te gaan.

“Verder moet ons ons mos graf toe werk, en dan? Dan wanneer ons ses voet onder is, vat hulle ’n ander man en spoil hom met óns geld.”

“ ’mm,” Het Frankie gesê en sy hand onder sy ken gesit.

“Ek weet nie hoekom Oom dink ek behoort so ’n situasie te verstaan nie, maar nou ja. Oom is ook mos nie meer ver van kens af nie.

“Anyhow, ek verstaan wat Oom bedoel, maar moenie worry nie. Ek het ’n plan.”

Oom Basil het Frankie skepties beloer.

In die kort tydjie wat hy hier werk, het hy al besef Frankie is vol planne. Maar min van hierdie planne werk ooit uit.

“Oom moet nou baie mooi na my luister en presies doen soos ek sê.

“Oom sal sien hierdie is die enigste manier om nie vroegtydig in die graf te beland nie.”

En oom Basil het na Frankie. geluister. En geluister ...

En hoe meer die oom van Frankie se plan gehoor het, hoe meer het hy besef Frankie het dalk iets hier beet.

Besides, wat het hy om te verloor?

Naomi en die kinders is dan anyway besig om hom finansieel te ruïneer.TOE oom Basil die aand by die huis kom, val antie Naomi, Leandra en Lee-Shandra amper flou van verbasing.

Voor hulle staan ’n man wat hulle net vaagweg herken. Uitgevat in die duurste designer suit.

En in die driveway staan ’n splinternuwe Range Rover wat menige buurman met jaloesie deur die gordyne laat loer.

“En nou?” vra antie Naomi toe sy finally haar stem terugkry. “Wat gaan dan nou aan?”

Oom Basil het vol vertroue gegrinnik. Als vir die show, want diep binne hom was sy nerves gaar.

“Nee,” het oom Basil stadig afgesak, “if you can’t beat them, join them.

“Van nou af gaan ek nie toelaat dat julle my beat nie. You only live once.

“Kom ons maak die lewe ’n paartie waar die DJ se musiek nooit ophou klop nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters