2 maande gelede
Klein Lee-Conner se adoption staan einde se kant toe
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” deur ERNEST LOTH. Geniet die slothoofstuk.

T ERWYL Valencia huis toe ry, wentel haar gedagtes om haar toekoms vorentoe met James. En die moontlike aanneming van Lee-Conner.

Is die aanneming van die kind die aangewese ding om te doen?

Doen hulle nie ’n onreg aan antie Klara, wat Lidia, haar dogter, verloor het nie?

Sal sy wat Valencia is, die baba en James se toestand kan hanteer?

Moontlik, dink sy, mits June, haar suster, kom hand bysit. Sy sal June so gou moontlik moet vra.

Op die oog af lyk dit soms vir mense asof sy sterk is en almal gooi dit altyd voor haar kop deur te sê hoe sterk sy is, maar hulle weet nie regtig hoe dit binne-in haar gons nie ...

Dit gons omdat sy haar werk as assistent-redakteur van die tydskrif opsy moet skuif.

Sy het elke oomblik by die werk geniet.

Die selektering en redigering van die artikels, die onderhoude wat sy soms voer, die geskarrel in die kantoor en hoe elkeen net fokus op wat hulle moet doen om die nuutste uitgawe te laat verskyn.

En dan, die uiteindelike finale produk – netjies op die rakke.

Sy self skryf so af en toe ’n rubriek.

En dan is daar nog Jamie-Lee, wat wag op die uitslag van haar aansoek om by UCT medies te gaan swot.

Die ding van haar pa het die finale besluit by haar dogter laat bly – om dokter te word. Om siekes gesond te maak ...

Sy is net bly Jamie-Lee is ook in haar noppies oor die moontlike aanneming van Lee-Conner.

Die feit dat sy uit die bloute ’n broertjie gaan kry, maak haar heelwat excited.

Snaaks hoe die lewe soms uitdraai. Nie altyd soos ’n mens wou hê dit moet verloop nie.

Net as jy dink jou lewe beland in ’n doodloopstraat, maak dit skielik ’n U-turn ...

Geen mens het beheer oor die omstandighede wat soms voor opduik nie.

Met haar geloof in God, glo sy, sal sy die mas opkom.

Sy het so baie geleer in dié tyd. Dat mense wat jy vertrou, foute maak en dan is jy teleurgesteld.

Maar mens moet ook nie onmoontlike standaarde aan ander stel nie.

Een verkeerde daad kanselleer nie alle goeie dade uit nie. Elke mens bly feilbaar.

Sy het haar eie feilbaarheid leer ken en geleer om te vergewe.

Sy het eenkeer gelees dis baie beter om te vergewe as om te onthou en te berou ...

Vergifnis, het sy geleer, maak jou en ander vry van die verlede.

Sy is dankbaar dat die Here James gespaar het. En die baba.

’n Mens kyk nuut na dinge as jy met dankbare oë kyk.

Jy sien in jou pyn en angs iets wat jou laat onthou van die genade van God wat jou liefhet.

Dit help jou om aan te hou, besef sy. Al wil jy sink.

Sy gaan nie bang wees vir die skaduwees nie, want dit sê vir haar daar is êrens lig naby.

Valencia besef die lewe is vol pyn en hartseer en ons sal nooit by die punt kom waar ons kan sê ons verstaan waaroor dit alles gaan nie.

Daar is sekere dinge wat ons net deur pyn en hartseer kan leer.

’N PAAR maande ná haar ontmoeting met Ben Baxter, gil Jamie-Lee van blydskap.

Haar aansoek om aan UCT medies te studeer, is goedgekeur.

Valencia voel die blydskap van haar dogter saam met haar.

Ook James het haar ’n stewige druk gegee en gesê: “Veels geluk! Dit sal gerusstellend wees om ’n dokter in die familie te hê.”

Sy reageer: “Dan kyk ek sommer mooi na Daddy se gesondheid ook!”

James belowe dat hulle vanaand ’n paar tjoppies kan braai.

Valencia het ’n traan weggevee. Sy let op dat James nie meer depressief voorkom nie.

Waarskynlik help die sessies by die sielkundige baie.

Hy is ook beweegliker en hou hom besig met praktiese take in en om die huis.

Hy werk nog so hier en daar tuis as argitek vir sommige van sy ou kliënte.

Gelukkig is daar darem niks met sy brein verkeerd nie.

Behalwe dit het hy ’n ander kreatiewe sy ontdek – hy kan skilder!

Valencia het vir hom skoon, geraamde skilderdoeke by ’n kunswinkel gekoop, akrielverf in basiese kleure, ’n palet en terpentyn, asook goeie kwassies.

Hy verdiep hom in die nuut ontdekte talent. Sy kom agter hy’s lief vir abstrakte werke.

Dis interessant om agter hom te staan en te sien hoe hy werk. Hoe hy die wit doek omskep in nuanses van kleur met sy ligte en sterk verfhale.

Sy sien hoe hy die verskillende kleure op sy palet meng ...

Die reuk van terpentyn en akrielverf hang in die spaarkamer wat sy vir hom ingerig het.

Sy is ook bly dat hy sy eie raamwerk doen en dink selfs om ’n eenman­uitstalling in die toekoms vir hom te reël, maar James wil niks daarvan hoor nie.

Die beste nuus is toe antie Klara uiteindelik besluit hulle kan Lee-Conner amptelik aanneem.

Die talle dokumente en papiere is geteken met die samewerking van ’n welsynwerker.

Dit was egter ’n hartseerstorie toe antie Klara van Lee-Conner moes afstand doen. Daar is trane gestort.

Antie Klara besef egter sy moet weens haar gesondheid afskeid neem van haar rol as ma vir klein Lee-Conner. Maar hy bly haar kleinkind.

Sy sou hom graag self wou grootmaak. Sy’t gedink sy het nog die krag en energie daarvoor.

Maar toe Lee-Conner een aand so aanhoudend huil as gevolg van ’n koliekwind en koorsig raak, het dit aan haar lyf gevat toe sy heelaand moes opbly.

Veral haar rug en bene was seer.

Sy weet Valencia en James sal mooi na Lee-Conner kyk.

“Wees verseker, antie Klara, jy is en bly nog Lee-Conner se ouma.

“Ons sal hom altyd bring vir ’n kuier by sy ouma. Hy kan ook naweke as hy ’n bietjie groter is, by sy ouma oorslaap. Ons sal al sy goedjies saamstuur vir die naweek.”

Antie Klara smile van oor tot oor. Trane blink in haar oë.

“En ons deur sal altyd oopstaan vir antie Klara om vir hom te kom kuier,” sê Valencia en sluk die knop in haar keel.

Deur die trane sê antie Klara: “Baie dankie, Valencia. Dankie, James.”

Jamie-Lee gee vir antie Klara ’n paar tissues aan.

“Dankie, my kind,” sê antie Klara.

Dan praat James: “Ons moet ook vir antie Klare bedank dat antie Klara besluit het dat ons Lee-Conner kan aanneem as ons eie ... Ons sal goed na hom kyk.”

“Ek weet, James. Mag die Here julle seën. Kyk mooi na hom.

“Elke kind is ’n ongelooflike wonderwerk. So ’n klein mensie is ’n stukkie nuwe lewe wat God aan ’n ouerpaar toevertrou. En julle twee het nou twee kinners!

“Die beste geskenk wat jy as James vir jou kinners kan gee, is om hulle ma lief te hê ...”

Valencia en James se oë skiet terselfdertyd vol trane.

Toe antie Klara nader stap en Lee-Conner in Valencia se arms lê, het sy ook geweet dat hulle lewe nooit meer dieselfde sal wees nie.

Voor antie Klara vertrek, sê sy: “Terloops, Whitey het hom bekeer. Hy sal nog vir julle kom vergifnis vra.”

Valencia en James sug saam …

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters