6 maande gelede
Kinna wil Doppies vermy, maar voel sleg en roep hom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Stiena vervies haar vir die mense se nare maniere. Sy wonder hoekom almal so ongeskik met mekaar is. Dis net die gestremde Doppies wat altyd vriendelik is en sê dit gaan goed. Geniet hoofstuk 3 van NICOLETTE FOULDIEN se verhaal Krismis­ in Riemvasmaak­.

ANT Betta maak haar oë oop. Haar mond voel soos skuurpapier. Kurkdroog. Een nadeel van die pille. Hulle hou darem die nagmerries weg.

Dis genoeg as jou lewe reeds ’n nagmerrie is terwyl jy wakker is. Eendag gaan sy net genoeg sluk sodat sy nooit weer haar oë hoef oop te maak nie. Intussen ploeter sy maar voort.

Sy beur regop en skuifel na die wateremmer en swets toe sy die kokkerot daarin sien dryf.

Riemvasmaak se peste sien nie eens kans vir die lewe hier nie. Sal die blerrie dink nou ko’ selfmoord pleeg in haar wateremmer.

Sy skep die insek met ’n lepel uit en gooi die res van die water in die wasskottel. Sy beur die sinkdeur oop. Sy trek haar oë skrefies teen die skerp sonlig.

Dis nog nie 07:00 nie, maar die son begin al bak. Sy loop kop omlaag na die kraan langs die sementtoilet op die hoek.

Slegs een toilet en een kraan vir elke tien gesinne. Die toilet is reeds beset, maar gelukkig staan daar net drie seuntjies met wateremmers by die kraan.

“Toe! Kom, kom! Oumense eerste!” verjaag sy hulle.

Hulle hardloop ’n ent weg en begin haar koggel.

“Ant Betta, kepetta, stink na kekka!”

“Voertsek! Plaas julle ma julle vrek gelê en jul nageboorte grootgemaak het! F*kk*f!” Sy skiet van die water na hulle.

Hulle spat uitmekaar en hardloop jillend weg. Betta weet die ongemanierde goed se ouers gaan weer voor haar deur kom skel as hulle dronk is. Plaas van leer die kinders maniere.

Dis nou skoolvakansie, nou is hulle erger. Ledigheid is die duiwel se oorkussing.


KINNA draai steunend op haar ander sy. Haar hele liggaam pyn. Gisteraand was hulle weer rof met haar.

Een het selfs ’n bottel in haar probeer opdruk. Sy kom kreunend orent. Hoeveel kan haar gebroke liggaam nog hanteer?

Hoe lank voordat hulle moeg word vir die speletjie en nie meer plesier daaruit put nie? Wat gaan hulle dan met haar doen? Haar net so los?

Stiena wikkel haar saggies tussen die seuns uit. Dis vandag haar laaste dag by die werk.

Dis breaking up. Twee dae voor Kersfees. Sy glimlag toe sy dink aan vroeër tye. Daar was ’n tyd om na uit te sien. Giffie het bonus gekry en hulle kon gaan shop.

Hope nuwe klere en speelgoed vir die tweeling. Nuwe tapyte, gordyne en verf vir die drievertrekhuisie wat hulle by Giffie se antie gehuur het. Hulle het eenvoudig maar goed gelewe. Die beste van alles – hulle was gelukkig.

Die deur kraak oop. Sy trek die voorskoot oor haar rok aan en kyk na Giffie met leë oë.

Die woorde tussen hulle het opgedroog. Dis nog net haar hart wat vasklou aan dit wat eens was.

“Djy kommie laat nie en djy bring daai geld. Ek lat my nie weer vir ’n gat vat nie.

“Verstaan djy?”

Sy knik net en buig oor die slapende kinders. Soen elkeen saggies op die voorkop.

Sy loop verby Giffie sonder om na hom te kyk. Hulle soengroet lankal nie meer nie.

“Môre, ant Betta,” groet Stiena toe sy verby die ouvrou loop.

Betta kyk geïrriteerd op.

Sal sy nou blerrie vroegoggend in die bekeerde meid vasloop.

“Môre, Stiena. Koebaai, Stiena,” groet ant Betta kortaf en loop vinnig verder.

Sy is dors en nie eens Stiena se gepreek oor lewende waters sal haar vanoggend red nie.

Sy moet ’n buyer loop soek vir daai ketel.

Stiena skud net haar kop. Dan sien sy Kinna oor haar deur leun.

“Môre, Kinna. Gaan dit goed vandag?”

Die vrou staar haar net stom aan. Dis of sy Stiena nie eens hoor of raaksien nie. Stiena vererg haar.

“Nou ja, Kinna. Dit gaan goed met my ook.

“Dankie dat jy vra. Koebaai en lekker dag vir jou.”

Stiena stap verder. Sy voel spyt oor haar sarkasme, maar wat is dit met hierdie mense?

Hoekom is almal gedurig so onbeskof met mekaar?

Ses maande lank woon hulle almal saam hier in Riemvasmaak se nuwe blink blikhokkies, maar hulle is steeds vreemdelinge vir mekaar.

Sy probeer haar bes om vriende te maak, maar die een dag gesels hulle lekker met jou en die volgende dag is hulle onbeskof.

“Hi, Sjtiena.”

Haar gesig verkreukel in ’n glimlag toe sy Doppies sien.

“My jinne, Doppies! Hallo. Hoe gaan dit met jou?”

Hy kyk haar met blink oë aan.

Sy linkerhand se krom vingers trek krampagtig saam.

Kwyl loop uit sy skewe mond toe hy antwoord.

“Dthit ga ghoeth, Sjtiena.”

Hy kyk skaam af grond toe en boor met sy sleepvoet in die los sand.

“Ek is bly, Doppies. Wag, ek gaan laat wees vir werk.

“Ek bring vanmiddag vir jou ietsie lekkers, nè?” belowe sy teen haar beterwete en draf vinnig verder.

Kan jy nou meer? Die een mens in Riemvasmaak wat nie kla en skel nie is die erg gestremde Doppies.

Heeldag dwaal hy maar so rond op soek na doppies of blink goed om op te tel.

Almal ken hom en is al gewoond aan hom. Dis net die kinders wat hom soms terg en met klippe gooi as die grootmense nie kyk nie. Tog sal hy altyd sê dit gaan goed met hom.

Kinna kyk op toe sy Doppies se stem hoor.

Sy het nie nou die krag vir hom nie. Sy staan terug en stoot die deur toe. Ná ’n paar sekondes kla haar gewete haar aan. Sy maak weer die deur oop.

Hy is al ’n paar treë weg. Dalk moet sy hom maar laat begaan.

“Doppies!” roep sy dan tog.

Sy gaan weer sukkel om van hom ontslae te raak, maar sy weet hoe voel dit om deur almal verstoot te word.

“Kom! Ek maak vir ons koffie en iets om te eet.”

Doppies se gesig trek heeltemal skeef soos hy glimlag. Sy help hom op die trappie na binne en trek ’n stoel langs die tafel uit.

“Is jy lus vir mieliepap?”

“Dophies lieph phe mieliephap.”

Stiena glimlag vir hom en haal die laaste bietjie mieliemeel, koffie en suiker uit die koskas.

Hoe sê die Woord? Gee jou laaste vir jou naaste.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters