19 dae gelede
Kenzie se funeral laat haar pa met ’n skuldgevoel
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Dis ’n nuwe week en tyd vir ’n splinternuwe verhaal. “Nemesis” is ELDRIDGE JASON se jongste pennevrug.

Geniet die eerste hoofstuk!

AS JY dom is, dan moet jy k*k.

Dit is seker die grootste les wat hy van sy pa geleer het.

Dít en dat hy ’n good-for-nothing misoes in die lewe is.

En hier waar hy nou lê, kan hy nie anders as om te dink dat sy pa reg was nie.

Want dom was hy om haar alleen te los om oor die pad winkel toe te stap. Hy moes saam gestap en gaan kyk het waar sy draai toe dit donker begin raak het.

Maar nee, hy wou mos eers alleen sy halwe button gaan rook voordat sy vriende hom kom soek het.

En nou sit hy hier. Reg voor in die kerk. In ’n suit wat ’n size te groot vir hom is en hom diep ongemaklik laat voel.

Die predikant praat dat die spoeg spat, maar hy neem nie ’n woord van die boodskap in nie.

Sy oë is vasgenael op die wit kissie voor hom. Die kissie wat hulle ná die diens in die Belhar-begraafplaas gaan bêre. Die laaste rusplek van sy lieflingnooi, sy hart se punt.

Langs hom snik Rachel. Dit laat hom net al hoe meer kriewel.

Rachel ... vandat hulle Kenzie se lykie gaan uitken het, kon hy haar nog nie een keer in die oë kyk nie.

Daarvoor voel hy veels te f*kk*n skuldig. Hy bestraf homself. Hy is in die huis van die Here. Hy kan nie so wil vloek nie, selfs al is dit net in sy gedagtes.

Hy skrik effens toe hy hardop sug. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Rachel afkeurend vanuit haar sakdoek sy kant toe gluur.

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dreun die predikant se stem deur die klein kerkie.

Hy raak bewus daarvan dat hy sy vuiste bal. Naaste liefhê? Daai etter vergewe wat sy Kenzie so gebreek het? Never!

Hy wip van die skrik toe Rachel liggies aan hom stamp. Hy staar verdwaas na haar.

“Doeminie wil hê die familie moet voor kom staan. By Kenzie se kis,” prewel sy.

Haar stem klink lusteloos. Nes haar oë. Die lewenslus en grappige glinstering in haar oë is lankal gone. Al van laas week af toe hulle Kenzie se lykie in ’n ou fabriek gekry het.

As tikkoppe nie vir scrap gaan skarrel het nie, het hulle seker nou nog na haar gesoek.

Daai etter van ’n Rowan ... Om te dink hulle was brasse.

Hy en Rowan was saam op skool en het gereeld oor en weer gekuier.

Rowan se vrou het hom gelos oor sy button-rokery en hy het meer en meer by hulle huis kom lam ... En earth.

Maar min het hy geweet watse k*k broei in Rowan se kop as hy so dik gebutton was ...

“Rudy, jy moet kom.”

Rachel se woorde ruk hom na die harde werklikheid terug. ’n Werklikheid waar hy besig is om afskeid te neem van sy pragpoppie.

Sewe jaar lank het sy hom met haar bekkige sêgoed ge-entertain.

Nou lê sy in die wit kissie voor hom. So opgesmash dat hulle nie eens ’n open casket kan hou nie.

Hy sug weer swaar en staan traag op. Vir die eerste keer merk hy nou ook werklik die res van die familie op. Daar is antie Mercia, Rachel se ma, wat hom ál die k*k van sy lewe gee.

Sy’s ’n besige vrou wat altyd haar snawel in hulle sake druk. Perform nou deur die hardste te huil. Maar laas maand het sy nog vir Kenzie k*k vertel.

Antie Minnie staan ook daar met haar kierie en moerse groot kerkhoed. Rachel se antie. Diep bekeer, maar is elke aand met kierie en al by die GrandWest Casino.

Violet, Rachel se suster, staan ook daar met rooigehuilde oë.

Violet ... Die eintlike een wat hy gesmaak het, maar wat hom reguit gesê het sy stel nie in ’n button-kop belang nie.

Sy kan haar baie verbeel, hierdie skoonsuster van hom. Uitsoekerig met ’n giftige bekkie.

Net gisteraand nog wou sy weet waar hy dan was dat hy nie kon agterkom dat Kenzie nie by die huis is nie.

Besige meid! Is dit dan nie erg genoeg dat hy alleen weet dat hy gesit en earth het terwyl Rowan met Kenzie die pad gevat het nie.

Daar is geen familielede van hom nie. Hy praat al jare nie saam met sy drie broers nie.

Twee van hulle mang vir life vir hulle gangster-gedagtes.

Die derde een is ’n pastoor in Eersterivier wat dink hy is heiliger as die pous.

Maar eintlik is hy ’n p–.

“Op die wolke van die hemel sal ons Jesus weer ontmoet …”

Hy weet nie wat hom meer irriteer nie – die dominee se stem wat klink soos ’n pot wat met ’n teelepeltjie uitgekrap word of die tamboeryn wat die man heel uit beat uit teen sy been klap.

Toe die koortjie eindelik klaarmaak, mik hy om te gaan sit, maar die predikant kry hom aan die skouer beet.

“Dit sal goed wees as een van jy of Rachel ’n paar woordjies sê,” fluister die predikant in sy oor.

Hy gril vir die fyn spoegdruppeltjies wat hy teen sy oor voel.

“En jy kan mos sien in watter toestand Rachel is. So, ek stel voor dat jy die leiding neem en namens julle twee ’n paar woorde sê.”

En so asof almal deel van ’n komplot uitmaak om hom te kruisig, gaan ál die ander mense sit.

En daar staan hy soos kiepie alleen langs Kenzie se kis.

Agter in die kerk hoor hy ’n kind huil. In een van die middelste rye raak ’n antie aan die proes.

Sy keel voel droog. Sy handpalms voel soos ’n geyser wat lek.

Hy lek oor sy droë lippe en maak keel skoon.

“Hierdie ... Hierdie is die seerste seer.

“Mense ... Mense sê daar is ’n plan met alles in hierdie lewe, maar ek weet darem nie so mooi nie.

“Ek is kwaad, want Kenzie ... Kenzie het nie verdien om so ’n wrede dood te sterf nie.

“Ek is kwaad vir die Here, want waar was Hy toe Kenzie hom nodig gehad het?”

Sy blik ontmoet dié van Violet. En waar was jý? lees hy in haar oë. Die panga-kyke onmiskenbaar.

Dan voel hy hoe die dominee die mic uit sy hand neem.

Hy stribbel nie teë nie. Daarvoor is hy te dankbaar, want woorde het hy nie eintlik om sy seer te beskryf nie.

En vir die bekkoerante kan hy mos nie sê hoe die skuldgevoel en selfverwyt hom uit die slaap uit hou nie.

Hy gaan sit weer langs Rachel en skram weg van die teleurstelling in haar oë.

Maar wat was hy supposed om te sê? Hy is mos nie een wat met sy feelings op sy mou rondloop nie.

Toe hulle later agter die klein, wit kissie die kerk uitstap, vang sy blik dié van ’n ou wat hom ’n deep freezer-kyk gee. ’n Rilling hardloop langs sy ruggraat af ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters