9 dae gelede
Kenny val vir die drie vroumense se goeie acting
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Kenny het sy hande vol met die drie vroue, van wie een, Hester, ’n cop blyk te wees. Sy het die polieste gebel vir die stash drank en sigarette wat hy in sy huis versteek. Hoe nou gemaak? Geniet die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Die Girls van Lockdown Avenue”.

TERWYL die loeiende sirenes al nader klink, val dit my by dat Hester op laerskool altyd die piemper in die klas was.

As juffrou Maarman gou die klas verlaat het, moes ons vinger op die lip sit.

Hester is dan gevra om te kyk wie praat.

Sy was die een wat altyd eerste begin praat het, maar later almal gepiemp het. Almal, behalwe haarself.

En behoede jou as jou naam deur Hester genoem is. Dan het juffrou Maarman die lewende hel tussen jou boude uitgeknyp. True story.

En terwyl ek nou so staan en staar na Hester se smug gevreet, word ek daaraan herinner dat sy maar altyd ’n geitjie was.

Dit lyk Frieda en Jenny onthou ook hoe Hester hulle altyd laat suffer het.

Die twee vroue draai kwaad na Heilige Hester.

“Jy’t mos regtig ’n k*k gedagte,” sis Jenny. Ek sweer dis die eerste keer dat ek haar hoor vloek.

Voordat Hester iets snipperigs kan sê, vlieg Frieda om, spring op Hester se rug en begin met ’n vaart Hester se hare te trek.

Die arme vrou skree soos daai maer vark wat aan die tjank geraak het toe hy hoor hy kan nie in die trilogie van Gouelokkies en die Drie Bere saam met Keanu Reeves speel nie.

Sy mompel iets soos “social distancing” en kyk na Jenny vir hulp.

Jenny van der Block besluit egter in daardie stadium om alle quotes van Mother Teresa, wat sy op Facebook haar eie gemaak het, te ignoreer.

Sy beweeg vinnig in Hester se rigting en skop haar voete onder haar uit.

Hester, met die tierwyfie Frieda op haar rug, ploeg grond toe.

Mense, ek staan daar. Oopmond. Geskok oor die vrouegeveg wat hom voor my afspeel.

Everybody was tanga-fighting, ek sweer.

Ek het nie geweet of ek moet keer deur in te gryp of my hand voor my oë te hou nie.

Ek het onderklere gesien waarvan daar tog asseblief nooit maskers gemaak moet word nie.

Maar hierdie was ook vir my ’n gulde geleentheid om na binne te sluip en my meubels net ’n bietjie rond te skuif.

’n Mens moet die huis immers so nou en dan uit-turn, you know?

Ek is haastig na binne waar daar darem vir jou vinnig aandag gegee moes word aan bokse en bottels.

Dit was ’n getiengelieng hier en ’n getiengelieng daar.

Ek was gou-gou onder sweet, maar die wete dat daai polisievêns nie meer ver van hier af is nie, het as ekstra motivering gedien.

En net toe ek tevrede is dat al my meubels, so onwettig soos sommige ook nou mag wees, reg in plek is, het ek besef dat die gegil en geskrou buite bedaar het.

Ek het na die venster genael om te sien wat buite aangaan. Toe ek na buite loer, skrik ek my amper vrek toe ek gewaar dat die drie my deur die venster beloer.

Daar was ’n smile op al drie van hulle se gesigte. Daai selfde smile wat Eva op haar gesig gehad het toe sy vir Adam daai glas apple juice geskink het ...

“Jaaa, Kenny, mens kan sien jy kennie veel jokes nie!” skree Frieda van buite.

“Lekker uitgevang, nuh. Jy kan nou nie stry nie. Kyk daai klompie bokse drank en entjies wat jy nou try wegsteek.

“Dink jy jy gaan hemel toe met sulke gedagtes, ha?”

Frieda is die laaste een wat kan praat van hemel toe gaan. Dit sal my nie verbaas as haar foto daar by die poorte opgeplak is om vir oom Petrus te herinner om op die uitkyk vir haar te wees nie.

Maar ek moet admit: Die vroue het my ’n kop aangesit. Hóé het ek net nog nie geweet nie.

Wat baat dit ek wou veel langer my geheim wegsteek? Ek, Kenny, het immers die wêreld se drank en rookgoed in my huis gehad.

Ek het omgedraai en daai kas wat ek so met groot moeite rondgeskuif het, weggetrek.

Uit die gat in die muur het ek ’n bottel Jack en ’n halwe gros Camel uitgehaal.

Met oom Jack onder die arm en die entjies in die hand, het ek na buite gestap.

Frieda, Hester en Jenny van der Block het heel rustig op die stoep gesit.

Hul hare was deurmekaar en die klere half verskeur, maar dit het gelyk asof hulle iets agter hul rûe wegsteek.

Toe ek nader gestap kom, het hulle hul arms wat agter die rug was, stadig na vore gebring. In elkeen se hand was daar ’n moerse enamel-beker.

Ek het nog nooit sulke moeder-van-alle-beker-size bekers gesien nie. Met daai size bekers het ek besef hierdie Roamerstraat girls is op ’n mission om ál my drank op te suip.

Ek het vir elkeen so ’n bietjie geskink maar voorbarig soos sy was, het Frieda die Jack uit my hand gegryp en vir elkeen ’n stywer dop gegooi.

Voordat ek kon protesteer, het oom Sarel Langken met sy Nissan 1400-bakkie verbygery. Met ’n loeiende sirene op die dak.

Toe maak alles sin. Everything was making sentence, soos Mitchells Plain se mense sou sê.

Ek is uitoorlê sonder dat ek al ooit met enige van hierdie vroue kon gelê het.

“Dit was Frieda se plan,” het Hester probeer piemp-verduidelik.

“Ek is nie regtig in die polisie nie en hou skool in die Ravey.

“Maar toe ek vir my siek ma kom kuier, het ek vir Jenny en Frieda raakgeloop, en toe vertel Frieda ons hoe lekker lockdown jy hou.”

Frieda het met ’n gesigsuitdrukking waarmee sy haar verbeel het sy is Baby Jesus oor my afgeskeepte grasperk gestaar. Jenny het haar gesig in die moerse enamel-beker probeer verberg.

“Maar hoekom het julle my nie net straight kom vra nie?” kon ek nie anders as om te vra nie. “Was hierdie elaborate storie regtig nodig?”

“Kenny, djy net so vir ons drank en sigarette gee?” het Frieda gevra. “Djy wat so ingat is? Gie daai entjies hier.”

Toe Frieda haar bene optrek en lekker haar rook uitblaas, het sy weer na my gedraai.

“In hierdie moeilike tye van lockdown, moet ons rokers en suipers na mekaar kyk.

“Die kerke en NGO’s gaan nie na ons kyk nie.

“Het jy al ooit ’n rook-hamper gesien? Sorry, but ek is nie sorry nie. Dis nie ’n goeie ding om so alleen te suip en te rook nie.

“Ons belowe dat ons jou mooi gaan help, ons rook-kameraad.”

Wat kon ek maak as om maar net my kop te skud ... en nóg ’n bottel Jack te gaan haal.

Wat Frieda gesê het, is immers reg: Niemand worry oor 11 miljoen rokers wat skielik nou sonder hul twak is nie.

Caring is sharing. En wat is dan nou beter as om af te koel met drie goose’e? Oukei, twee.

Nugter of lockdown-dronk, ek bly ver weg van Frieda ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters