10 dae gelede
Kenny strip hom lelik oor Hester se gatta-gedagte
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die lockdown is nie ’n tyd vir sissies nie. Nee kyk, in hierdie tyd kou ’n mens harde, harde bene. Twee vroue, Jenny en Frieda, daag by Kenny op oor hulle ’n rookdingetjie soek. Maar nie lank daarna nie, daag nog ’n vrou op, ’n ou skoolmaat van hulle, Hester. Hester wat in Amerika gewoon het en nou claim sy is in die polisie. Maar wat soek sy daar? Geniet die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Die Girls van Lockdown Avenue­”.

‘POLISIE, polisie, polisie?

“Ag nai, mêrim, moet nou nie so spiteful wies nie...”

Dis die woorde van oem Adam Small se “Oppie Parara” wat nou ná Hester se onthulling deur my kop maal.

“So jy is ’n gatta?” vra Frieda in ’n skril stemmetjie.

Daar is ’n ongemak aan haar bewegings te bespeur.

Frieda was nog altyd allergies vir die polisie.

Sy slaan gewoonlik bommels uit net as sy polisiesirenes hoor.

Seker maar uit vrees dat hulle op pad is vir iets wat sy weer aangevang het.

“What is a gatta?” vra Hester heel verstrooid.

“Oe, ê-ê,” sê Frieda en gooi haar hande in die lug.

“Mens kan sommer sien jy was ’n speelgoed-cop in die States en met dié dat jy selfs op skool nie in ’n lekker state of mind was nie, sal ek nogals likes om te hoor presiese watse soort gatta jy is.”

Ek kan nie anders as om uit te bars van die lag nie. ’n Mens moet Frieda haar due gee.

Sy mag nou wel so skelm soos die dood wees, maar sy het haar moments waarin dit wat sy sê, absoluut sin maak.

Jenny van der Block gluur my beskuldigend aan. Maar hoe dan nou ook anders?

Jenny en Hester was destyds op skool in ’n kliek wat hulle die Golden Girls genoem het.

En van waar ek nou staan, lyk albei van hulle anyway nou na antie Dorothy en antie Blanche van daai show.

Oukei, oukei, hulle is nog nie so oud nie, maar sterk op pad daarheen.

“Ek is nie net enige cop nie,” hap Hester na Frieda.

Frieda sit haar hande in haar sye. “Oe, so jy, Miesies Fênsie, kan Afrikaans praat?”

Hester raak weer bloedrooi in die gesig en draai hulpeloos na my.

Wat moet ek nou maak? Vir Frieda maniere leer terwyl haar ouers en die samelewing dit nie kon regkry nie?

Jenny kyk ook nou na my met ’n gaan-jy-niks-maak?-uitdrukking op haar gesig.

Ek dink ek begin nou finally daai song “Under Pressure­” van Queen verstaan.

Um boom ba bay

Ba ba boom ba be be...

“Kenny!”

Jirre, sal ek dan nou nie uit daai song uit wakker skrik met Frieda se geskreeu nie?

“Kenny, blerrie slaap jy al weer oop oë soos op skool?

“Nei, man, kom by, asseblief.

“Ons sit hier met ’n situation.”

“So please understand my situation,” sou antie Judy nou gesing het.

Maar hierdie situation? Hoe is dit dan nou my besigheid?

Ek maak keel skoon. Darem nie so baie soos wat ’n oud-prez altyd gedoen het voor sy nuwe sarsie liegtery nie.

“Hester, wat maak jy eintlik hier?” vra ek toe.

Hester frons. “I’m here because of my investigation,” antwoord sy.

Ek kan nie anders as om swaar te sug nie. Ek het eenkeer ’n TV-program van Noddy gekyk waar hy ook sing van investiga­tions. Sekerlik kan dit nie dieselfde ding wees nie?

“The illegal smuggling and trading of cigarettes is rife in our communities,” sê Hester in haar mooiste Ingels.

“Dit is rof ja,” chime Frieda in. “Mense is rof met mekaar van lus kan wees vir ’n skyf.”

As ek nou op ’n stoel gesit het, sou ek definitief afgeval het.

“I have reason to believe that there is a smuggler residing right here in Roamer Street.”

“In watter jaar?” chime Frieda weer in en toe almal vraend na haar draai, sak sy af: “Issie ek nie. Issie eens my borrie nie.

“Is hierdie vrou wat hier praat van ’n year.

“As sy van plan is om van die jaar twenty-plenty te praat, klap ek haar nou in ’n koma.”

My proes is uit voordat ek dit kan keer.

Jenny bars uit van die lag en ek kan sien dat selfs Hester met moeite sukkel om haar smile te onderdruk.

Daai oomblik is dit duidelik dat Frieda se ouers verniet skoolfonds betaal het en compensation moet kry.

Hester herwin weer haar pose en draai na my.

“I was sent to come and speak to you. On friendly terms.

“But I can assure you we have a search warrant ready and waiting so be signed off.”

Ek smile nie meer nie. Search warrant? Vir my? Wat? Wil die mense dan nou sê ek verkoop tik of ’n ding?

“Wat try jy sê?” vra ek aan Hester.

Ek spoeg die woorde uit, ja. Ek is kwaad man.

As ek nou ’n slang vang, is hy in sy moer. Soos ek nou staan en kook gee ek nie ’n dêm of ’n dam om oor social distancing nie.

Om dinge erger te maak, kyk Jenny en Frieda my ook nou aan asof daar ’n lig by hulle opgegaan het wat Eskom nooit sal kan provide nie.

Ek kan sien Hester raak ongemakliker by die oomblik.

“I am not saying that,” probeer sy walgooi. “But I would appre­ciate it if you could for old times’ sake allow me to have a look around. We received an anonymous tip-off-”

Old times’ sake se gat,” val ek haar kwaad in die rede. “Daar moet ophou geluister word na hierdie straat se k*kpraat-stories.

“Dis nie my skuld as ek nog entjies het om te rook en hulle moet donkiedrolle rook nie.

“Het die polisie dan niks anders om te doen nie?”

“Dit is waar dat jy al een met entjies in ons straat is. Kan jy mense blameer wat wonder hoe jy so lekker kan rook, terwyl ons moet suffer?” druk Jenny van der Block die mes dieper in my rug.

Ek draai na haar en op daardie oomblik weet ek presies hoe moes Julius Caesar gevoel het toe Brutus met sy USB cable weggehol het. Of so iets.

Geskiedenis was nog nooit my forte op skool nie. Dit was die periode waarin ek op my lekkerste in die klas geslaap het.

Ek kan sien hoe Frieda ook staan en lekker kry. Ewe skielik is sy nie meer die enigste misdaad-skuim in Roamerstraat nie.

“So can I have a look around your place?” hou Hester dik.

“Nie in ’n honderd jaar nie,” antwoord ek.

“Hierdie is ’n moerse klap in my gesig, Hester. Ek was bereid om my entjies met Jenny en Frieda te deel, maar julle almal kan nou loop k*k.”

Hester gooi haar hande in die lug. “Then you leave me no other choice,” sê sy. Ek kan sien sy probeer kliphard om spyt te lyk.

Dan hoor ek die naderende sirenes van polisievêns.

Van wanneer af respond die cops so vinnig?

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters