Verlede maand
Katryn weet sy sal nie lewend van Bobby wegkom nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Geniet vandag die slothoofstuk van GWEN KORDOM se jongste skryfstuk, Katryn van Bo-straat.

BOBBY se huis lyk nie soos die res van Harspan s’n nie.

Teen die ander huise vertoon dit massief, met groot vensters wat blink in die helder sonlig.

Al wat ontbreek, is ’n tuin. Bobby hou seker nie van tuinmaak nie. Anders as oom Floors. Hy is ’n veldmens.

Hoekom voel dit sy moes liewer agter oom Floors aangepiekel het?

Dis ter wille van haar broers dat sy hier is.

Bobby sluit die deur oop en staan galant terug en beduie met sy hand sy moet ingaan. Die huis is koel.

Sy trap versigtig op die teëlvloer. Dit ruik skoon; asof iemand gereeld hier skoonmaak.

“Jou ma is in die hoofslaapkamer aan die einde van die gang.”

Sy kyk versigtig na hom.

Die glimlag op sy bakkies huiwer nog daar.

“Dankie,” sê sy onseker voordat sy in die gang afgaan.

Moenie dink nie, Katryn. Moenie dink nie. Sy vergeet van alles toe sy haar ma se halfnaakte liggaam op die groot bed sien.

’n Snik ruk onverwags deur haar tenger lyf. Sy steier vorentoe en val halflyf op haar ma se liggaam.

“Mamma, word wakker. Dis ek, Katryn. Staan op asseblief!”

Sy ruk en pluk en sien dan hoe haar een arm slap langs haar sy val. Toe probeer sy met bewerige vingers die klere aan haar lyf kry.

Sy roep en pleit, maar haar ma slaap die slaap van ’n dooie.

’n Gevoel van magteloosheid laat die trane oor haar wange stroom.

Die geluid van die kamerdeur wat toeslaan, laat haar omruk van die skrik. Bobby se gesig is vertrek van woede.

Katryn se hart klop in haar keel.

“Maak oop die deur, Bobby,” sê sy benoud.

“Almal sal sê jy het vrywillig saamgekom. Selfs daai skepsel, ou Floors, sal dieselfde getuig.”

Dis doodstil. Die rilling wat deur haar lyf hardloop, waarsku haar sy gaan nie lewend hier uitkom nie.

Sy kyk angstig rond na ’n wapen, maar sien niks nie.

“Vandag maak ek daai bekkige mond van jou stil, Katryn.”

Die diefwering voor die venster laat haar ’n oomblik haar oë sluit. Toe sy hulle weer oopmaak, staan Bobby nog daar.

“Niemand gaan jou hoor nie en niemand gaan jou help nie.”

Sy vlieg op en hardloop om die bed toe hy nader kom. Hy lag en begin woel aan sy belt.

“Jy weet wat nou gaan gebeur, Katryn. Maak dit vir jouself maklik en gaan lê langs jou ma. Probeer om nie soos ’n koue vis te lê wanneer ek bo op jou klim nie.”

Die kind in haar word aan die skree. Sy skree so hard as wat sy kan. Sy sien hoe hy om die bed hardloop en duik langs hom verby terug na die ander kant.

Die oomblik toe sy op die vloer beland, is sy op en nael vir die deur. Sy is skaars in die gang toe hy haar aan die hare terugpluk.

Sy skree nogtans so hard as wat sy kan. Sy hand sluit oor haar mond.

Here, asseblief, help my. Vergewe my oor ek ’n hoer wou wees. Ek wil nie. Help my net, pleit sy woordeloos.

Toe gooi hy haar tenger lyf teen die muur vas. Dit voel asof elke been in haar liggaam breek toe sy stadig grondwaarts seil.

Sy hand sluit om haar enkel. Hy sleep haar aan die voet na die bed, lig haar aan die skouers op en bring haar hard op die bed neer.

Haar kop klap hard teen haar ma se voorkop toe sy die kussing tref. Haar ma kreun.

Dit spoor haar aan om haar ma aan die hare te gryp.

“Mamma, help my! Mamma help my!” raas sy histeries.

Haar hande probeer keer toe hy die dun skoolromp van haar lyf afpluk.

“Mamma, doen iets. Mamma!” Die volgende oomblik sluit Bobby se een hand om haar keel en die ander hand pluk rof aan die pienk panty totdat sy skeurgeluide hoor.

Sy sukkel om sy hande van haar keel los te kry.

Haar ander hand probeer die skaamte bedek. Sterretjies swem voor haar oë.

Dit is dan hoe dit voel om dood te gaan, dink sy onsamehangend.

Sy mond is warm en nat teen haar oor toe hy fluister: “Lê, stil Katryn. Ek is amper daar waar ek wil wees.”

“Wat de hel dink jy doen jy!”

Katryn voel hoe Bobby se hand skielik van haar keel lig.

Terwyl sy na haar asem soek, staar sy geskok na die prentjie.

Oom Floors is hier en hy slaan Bobby.

Sy kry haar romp met rukkerige vingers aan haar lyf. Toe sy regop staan, sit haar ma verdwaas regop.

“Katryn?”

Sy spring vorentoe en klap haar ma hard deur die gesig.

Toe is oom Floors by haar en vou haar in sy arms toe terwyl hy met onbeholpe vingers oor haar rug vryf totdat die snikke bedaar.

As oom Floors nie opgedaag het nie, sou Bobby haar verkrag het.

Sy sidder opnuut. Sy voel hoe oom Floors haar optel en met lang treë verby Bobby se slap liggaam stap, weg van haar ma wat nog verslae op die bed sit.

Oom Floors dra haar tot by die huis.

Inwoners staan in hopies toe hy in Bo-straat met haar in sy arms aankom.

Nou is die hele Harspan skielik buite, dink hy by homself.

Hy dank die Vader hy het na sy instink geluister.

Dinge kon vandag baie anders vir die arme Katryn geëindig het.

Hy beduie na haar boeties om tannie Fytjie te gaan roep.

Katryn word aan die slaap in sy arms.

Toe sy wakker word, sit tannie Fytjie en haar ma langs die bed.

Haar ma se gesig is opgeswel, haar oë soekend en skaam.

“Katryn, ek is so jammer, my kind.”

Sy wil nie nou met haar ma praat nie. Miskien later.

Teen die einde van die week het sy nog nie ’n voet uit die huis verroer nie.

Sy verneem by haar ma Bobby sal aangekla word van poging tot verkragting. Oom Floors staan getuie.

Sy sal onder toesig getuig op die dag wat die hof sal bepaal.

Haar ma het met nuwe beloftes vorendag gekom. Sy sal maar wag en sien.

Dalk sal Siena ná die voorval ’n ma word.

Sy kyk nuuskierig deur die venster toe sy ’n geskoffel buite hoor.

Oom Floors sit met sy rug na haar gekeer. Sy spring op en stap na buite waar hy besig is.

“Wat maak jy, oom Floors?”

“Ek maak tuin. Een waarin die mooiste rose gaan pronk.

“En raai na wie ek die eerste roos gaan noem,” sê hy met ’n glimlag wat die plooie langs sy oë saamtrek.

“Ek kan nie raai nie. Sê maar, oom Floors.”

“Na jou, Katryn.”

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters