10 dae gelede
Katryn se leweis nie soos dié van ander kids
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katryn van Bo-straat is GWEN KORDOM se jongste pennevrug. Geniet hoofstuk 1.

EENDAG vra juffrou Cloete aan die klas: “Wie weet wat hulle eendag wil wees?”

Ek wou stilbly en my in die hoek versteek. Ek sou heel waarskynlik ook, maar dit was asof ’n onsigbare hand my regop trek.

Al die verskuilde emosies het soos lugborrels na die oppervlak geskiet en by my mond uitgeloop.

My stem is ietwat onseker en toe al hoe harder in die stilte wat hang. “Ek wil ’n hoer wees, Juffrou.”

Die skok en ontnugtering op haar gesig is soos ? foto in my geheue vasgelê. Haar lippe het klankloos geroer. Haar woorde het verdwyn onder die rumoer wat rondom my losbars.

Die seuns se oë het lewe gekry, asof iemand ? vuur in hulle aansteek. Deur die geraas kon ek Juffrou se stem hoor. Dun en vol verbasing. “Hoekom, Katryn?”

Terwyl die kleur stadig terugkeer na haar gesig, antwoord ek parmantig: “Hoekom nie, Juffrou? ’n Hoer het altyd iets om te gee, iets om te vertel. Almal weet wie sy is, maar niemand wil haar werklik ken nie.”

Toe haar kop vooroor knak, staan ek daar met ’n gevoel van triomf wat deur my are bruis.

My naam is Katryn en dié is my storie …SY NADER die donker huis met ’n bonsende hart. Bo haar hang ’n flou sekelmaan in die hemelruim.

Sy kyk op en sien hoe ’n miswolk traag verby die maan sleep. ’n Rilling trek deur haar lyf. Dis ’n teken. ’n Voorbode van iets slegs.

Dis ’n onrus wat sy nie afgeskud kry nie. Dit het uiteindelik gestalte gekry. Heel waarskynlik ’n naam.

Sy kyk met weersin na die huis en stap dan met doelgerigte treë na die wit geverfde deur. Dis ’n windstil nag. Haar sole knars hard op die smal sementpaadjie.

Haar blik vang hier en daar ’n spatsel kleur in die yl maanlig. Sy weet die tuin is mooi. Wanneer oom Floors in die veld is, kom staan sy soms hier om die tuin te bewonder. Sy wens dan innerlik hulle tuin kan ook so mooi lyk.

Dis waar haar bewondering stop. Die ander rede hoekom sy skuins ná twaalf hier ronddwaal, is in die huis, by die man wat hier woon.

Sy probeer dink aan ’n geskikte woord om hom mee te beskryf, maar die gevoel van haat oordonder haar gedagtes. Toe sy uiteindelik op die klein stoep staan, bewe haar lyf. Sy maak haar hand ’n vuis en hamer aan die deur.

“Oom Floors! Maak oop, dis Katryn.”

Dreigende trane spring in haar oë. Sy sal nie huil nie. Nooit.

Terwyl sy met die punt van haar trui oor haar gesig vee, hoor sy voetstappe nader kom. Die deur swaai oop. Floors se gesig is ’n mengsel van woede en verwarring.

“Wat de hel soek jy, Katryn? En vir wat hamer jy my deur af? Ek raak moeg van jou,” braak hy gal.

Sy druk haar rietskraal lyf blitsvinnig in die deur se opening.

“Ek weet my ma is hier. Waar is sy? Maak oop die deur!”

Sy probeer met al haar krag druk, maar hy is te sterk en stoot haar terug.

Sy steier agteruit en beland op haar sitvlak. Sy groot gestalte troon oor haar.

“Maak dat jy wegkom voor ek my maniere vergeet en jou goed bliksem. Skoert!”

Katryn vlieg op en skarrel weg onder sy woedende blik. Tussen die blombeddings kom sy tot stilstand en beduie met ’n skraal wysvinger in sy rigting.

“Jou dag sal kom, oom Floors. Watch maar net, jou filistyn.”

As antwoord gooi hy die deur in haar gesig toe. Katryn staar verslae na die toe deur. Dan buk sy skielik af en ruk bondels van die blomme uit die grond voordat sy dit eenkant slinger.

Die deur vlieg oop. Sy spring weg en nael vir die hek. Hy probeer haar keer, maar sy is te vinnig.

Teen die tyd dat sy in die straat vorder, is hy by die voorhek. Hy staar haar verslae agterna.

“Jou klein pes! Kry sal ek jou kry!” skree hy kliphard.

Sy hardloop sonder omkyk in die rigting van Bo-straat.

Floors staar die verdwynende kind agterna. Toe draai hy om en inspekteer die skade aan sy tuin. Kopskuddend stap hy na die deur.

’n Oomblik voel hy skaam oor sy gelieg. Maar toe hy ’n paar sekondes later teen die warm liggaam van die vrou in die bed skuur, verdwyn sy skuldgevoel.

Sy hand kruip stadig oor haar heup na die plek waar hy wil wees.KATRYN nader hulle Hop-huis met weemoed. Sy sluip versigtig by die agterdeur in en loop dan op haar tone na die groter slaapkamer.

Voor die dubbelbed kom sy staan. Daar staar sy lank na die twee kindergesigte afgeteken in die maanlig. Terwyl hulle rustig in droomland verkeer, skop sy haar skoene uit en kruip langs hulle in.

Dit neem ’n rukkie voordat die slaap aan haar ooglede pluk. Sy verval in ’n droomlose slaap.

DIE volgende oggend is Katryn voeg aan die gang. Sy dra emmers water aan van die buitekraan na die kombuis. Terwyl sy in ’n tussenpose wag vir die emmer om vol te loop, staar sy straataf.

Geen teken van lewe in die straat nie. Ook geen teken van haar ma nie. Sy sug swaar en dra die laaste emmer water na die kombuis.

Toe sy klaar is, steek sy die gasstoof aan en gooi water in ’n potjie. Toe die water kook, roer sy die mieliemeel in, soos haar ma haar geleer het.

Ná ’n paar minute stel sy die vlam sagter en los die pap om te prut.

Sy pak drie bakkies sorgvuldig op die tafel. Een vir Jakobus, een vir Pietman en een vir haar.

Haar bewegings is outomaties. Toe sy klaar opgeskep het, verskyn die twee in die deurraam.

Albei is duidelik nog deur die slaap. Die skoolklere vertoon skeef en krom aan hulle smal lyfies.

“A-nee-a! Leer ek julle niks?” begin sy skel en pluk woes aan hulle klere voordat hulle aansit.

Jakobus loer met onrustige oë na die agterdeur en vra: “Tryn, waar is Mamma?”

Pietman se swart ogies pen haar vas. Vrees pluk aan haar hart.

Watter storie moet sy nou weer uit haar duim suig?

“Mamma het laat weet sy kom later huis toe. Sy het by tannie Mara oorgeslaap. Jakobus, bring die suiker. Die bietjie in die houer is te min vir ons al drie se pap,” sê sy vinnig voordat hulle haar met vrae bestook.

Hy spring van die stoel af en krap in die wit kas in die hoek. Hy draai om en kyk met verleë ogies na haar. “Die suiker is op, Tryn.”

Sy sal nog net sterf aan ’n siekte sonder naam. Sy is moeg van ma speel. So verskriklik moeg.

Ander kinders van haar ouderdom kuier heeldag op hulle selfone terwyl sy worry oor waar die volgende maaltyd vandaan kom.

“Ek vreet nie bitter pap nie!” protesteer Pietman luidkeels.

Katryn gee hom ? vernietigende kyk. “Hou jou groot mond. Vandag sal jy dit vreet!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters