7 dae gelede
Katryn se instink waarsku haar om nie saam te gaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katryn van Harspan het ’n vrees in haar hart. Ná haar vernedering en daaropvolgende uitbarsting by Miss Sonja, loop sy haar skoolmaat Desmond raak. Dié sê haar ma is by Boots se tavern. Geniet hoofstuk 4 van GWEN KORDOM se jongste pennevrug, Katryn van Bo-straat.

SY WAG met ongeduld vir Jakobus en Pietman.

Haar gesig verklap geen emosie toe hulle uiteindelik voor haar staan nie.

Sy wil nie onnodig spoke opjaag nie, al sien sy soms dieselfde wys­heid in hulle ogies wat al vroeg van haar ’n volwassene maak.

Pietman hou sy hand in die lug.

“Miss Sonja het dié toebroodjies gestuur. Sy is nie kwaad vir jou nie. Sy wil net hê jy moet dit weet.”

Katryn knip-knip haar oë toe sy die toegedraaide broodjies sien.

Tannie Fytjie het eenkeer gesê Miss Sonja se hart sit op die regte plek. Sy verstaan nou wat sy daarmee bedoel het. Daar is wel mense wat omgee.

Sy voel nou soos ’n hond oor haar uitbarsting vroeër.

“Dankie. Julle moet eers sonder my huis toe gaan. Ek moet vinnig in Onder-straat ’n draai maak.”

Hulle kyk vraend na haar.

“Desmond het gevra ek moet hom help met sy tuiswerk,” lieg sy onbeskaamd.

“Is jy dan nie honger nie, Tryn?” vra Pietman.

“Neem dit eers saam. Ek is nou daar. Trek julle skoolklere uit en vou dit netjies op, soos ek julle geleer het.

“Dan gaan speel julle onder die boom in die agterplaas. Gaan nou!” jaag sy hulle aan.

Sy kyk met ’n knop in haar keel hoe hulle wegdraf. Toe stap sy met haar klein skouers geboë asof ’n groot las op haar druk.

Met wie sit en suip haar ma by die tavern?

Sover haar kennis strek, is oom Floors nie lief om by die shebeen te kuier nie. Dis ’n plek waar net die rowwe soort saamdrom.

En hoekom het dit geklink asof Desmond haar probeer waarsku?

Daar is ’n diep frons tussen haar oë toe sy die shebeen bereik.

Haar bene het ’n skielike lamheid. Vrees is ’n aaklige ding, veral as hy soos ’n monster op jou toesak.

Hoeveel keer moes sy haar ma in die straat optel en huis toe lei? Hoeveel keer moes sy snags alleen by haar boeties oornag omdat haar ma met ’n man verdwyn het?

Soms bly sy tot ’n week weg voor sy huiswaarts keer, met geen berou of verskoning vir haar dade nie.

Naarheid stoot in haar keel toe sy die shebeen se drumpel oorsteek.

Drankwalms hang swaar in die lug. Dit ruik na pie. Musiek dawer deur die donker vertrek.

Dreunstemme vul die ruimte. Haar oë fokus deur die rookwolk.

Hoe kan enige mens met ’n gesonde verstand in so ’n vieslike plek kuier? Het haar ma dan geen selfrespek nie?

Die vrees verander in woede. Skielik rus ’n hand swaar op haar skouer.

“Katryn? Wat soek jy hier binne, kind? Jy weet mos jy mag nie hier wees nie.”

Katryn kyk verskrik op na die man met die swart snor en blinkgeskeerde kop. Dis oom Jorsie.

Haar skouers ontspan. Sy gryp hom aan die arm en moet haar rek om by sy oor uit te kom.

“Oom Jorsie, ek is op soek na my ma. Het Oom haar gesien?”

Sy kop draai na waar ’n groepie mans agter in die verste hoek luidkeels sit en drink.

“Sy het laas daar by Bobby en sy gespuis gesit.”

Die mans se koppe draai op dieselfde oomblik in hulle rigting.

Bobby Joe staar na haar met ’n grynslag op sy bakkies. Dis asof hy iets weet wat sy nie weet nie.

Hy sit haar openlik en aanskou.

Van haar ma is daar geen teken nie. Sy draai na oom Jorsie, maar dié het skielik soos mis voor die son verdwyn.

Hierdie is nie ’n plek vir kinders nie. Sy strompel na buite.

Terwyl sy na asem soek, val ’n skaduwee oor haar. Dis Bobby Joe.

“Ek weet waar jou ma is, Katryn. Ek kan jou wys,” sê hy vriendelik.

Sy staar ’n oomblik stil na die lang man.

Bobby is moeilikheid. Enige mens in Harspan kan jou dit vertel.

Sy verhoudings hou nie. Daarvoor is hy te veel van ’n vroueslaner en ’n casanova. Die stories loop gedurig oor hom.

Anders as oom Floors, is sy lewe ’n oop boek. Tog waarsku haar instink haar om nie saam met hom te gaan nie.

Sy moet liefs wegbly van Bobby.

Maar sy dink aan haar boeties, veral Pietman. Hy word siek wanneer hulle ma te lank wegbly.

Bobby sien die twyfel in die bokkiebruin oë.

Binnekort sal Katryn ’n mooi jong meisie wees, nes haar ma destyds voordat drank haar lewe oorgeneem het. Waar haar ma ’n skugter mens is, is dié meisiekind die teenoorgestelde.

Hy weet dit gaan nie maklik wees om die klein rissiepit hier weg te lok nie. Hy glimlag katvriendelik.

“Sy is by my huis. ’n Bietjie gaan rus. Kyk, hier is die sleutel.” Hy haal ’n bos sleutels uit sy broeksak.

“Ek sal vir jou oopsluit.”

“Hoekom het jy haar nie net huis toe gelei nie? Ons huis is nader,” vra sy agterdogtig.

Hy kners op sy tande. Nou moet hy mooi dink.

“Ons wou privaat gesels oor dinge.”

“Watse dinge? My ma hakkel oor haar eie woorde as sy gesuip is. Sy kan skaars ’n gesprek voer. Moenie maak asof jy dit nie weet nie.

“Ek sal jou sê wat julle gedoen het. Julle lot dink mos my ma is ’n matras wanneer sy gesuip raak.”

Bobby moet al sy wilskrag inspan om hom in toom te hou.

“Ek stap liewer. Kom haal jou ma as jy so sterk voel daaroor,” sê hy kortaf en storm weg.

’n Grynslag verskyn op sy gesig toe hy terugkyk en sien Katryn volg hom traag.

Môre kan niemand ’n vinger na hom wys nie.

Sy is immers die een wat vrywillig agter hom aan loop.

Katryn kyk terug. Daar is skaars ’n roering voor die shebeen.

Voor haar word Bobby se figuur al hoe kleiner. Sy het geen ander keuse as om hom te volg nie.

Daar waar Harspan se huise ophou, is daar ’n oopte in die veld. Bobby se huis staan alleen en verlate op die oopte.

Regs van haar merk sy skielik ’n beweging. Oom Floors. Haar hart bokspring van blydskap.

Sy vries egter toe hy reguit op haar afpyl. Sy kyk benoud rond en sien dan hoe Bobby staan.

Oom Floors staan stil toe hy Bobby gewaar. Hy kyk na Katryn en dan weer na Bobby asof hy nie die kloutjie by die oor kry nie.

“My ma lê en tiep by Bobby se huis. Ek gaan haar haal,” sê Katryn asof hy gevra het.

Hy draai stadig terug, maar verstaan nie wat fout met dié prentjie is nie. Dis eers ’n paar treë verder dat dit hom tref.

Daar was ’n waarskuwing en iets soos vrees in Katryn se oë.

Toe haal hy sy skouers op en stap dieper die veld in.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters