9 dae gelede
Katryn besef net die dood sal haar van boeties skei
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katryn van Bo-straat is GWEN KORDOM se jongste pennevrug. Geniet hoofstuk 2.

BINNEKORT is die mieliepap op. Gelukkig is daar genoeg meel vir twee panne brood.

Hulle kosvoorraad raak al hoe minder. Miskien moet sy vannag ’n pampoen en ’n waatlemoen uit Oom Floors se groentetuin steel vir al die pyn wat hy veroorsaak.

Aan haar ma sal sy nie dink nie. Ook nie aan ’n pa wat soos mis voor die son verdwyn het nie.

Sy haat Oom Floors met sy plooibakkies.

“Katryn?” Sy skrik haar boeglam toe die vrou hier digby haar praat.

Sy besef dan eers sy staan al by tannie Fytjie se kombuisdeur.

Sy is die enigste mens in Harspan wat nog iets oor het vir Siena en haar kinders. Sy en miss Sonja.

“Môre, tannie Fytjie.”

“Môre, kind. Jy is vroeg op die pad. Wat skort, Katryn? Is dit jou ma? Het iets gebeur?”

“Niks het gebeur nie, tannie Fytjie.” Sy kyk verleë grondwaarts.

Sy hou dan ’n koppie soos ’n soenoffer voor haar uitgestrek. “Ek soek ’n bietjie suiker vir ons pap, asseblief.”

“Haai, natuurlik. Kom in.”

Katryn staar na haar deurgewaste blou skoolromp. Dis haar laaste jaar op laerskool. Of sy hoërskool toe gaan, is ’n ope vraag.

Wie gaan na Jakobus en Pietman kyk as sy daar in die verte in die kosskool sit? Haar ma kan dit in elk geval nie bekostig nie.

“Miss Sonja deel vandag toebroodjies uit, kind. Dalk moet julle drie ná skool daarlangs gaan.”

“Ons is nie bedelaars nie. Ons het kos.”

Die ouer vrou kom voor haar staan en druk suiker in haar hand. Haar ander hand plaas sy op Katryn­ se skouer.

“Trots bring mens nêrens nie, Katryn. As jy nie wil nie, dink ten minste aan jou twee broers. Jou ma haal eers wanneer weer huis? Ons ken teen dié tyd die patroon.”

Sy beweeg na die deur se drumpel. Daar staan sy ’n paar sekondes stil en sê oor haar skouer: “Dankie vir die suiker, tannie Fytjie. Ek bring dit met AllPay terug.”

Voor die antie iets kwytraak, verdwyn Katryn. Terwyl sy stap, dwaal haar blik oor die dorpie. Dit lê soos ’n versteekte juweel tussen die klipkoppies wat dit omring.

Hier woon ’n handjie vol mense. Die stofstrate sal binne die volgende uur gevul wees met mense.

Haar oë dwaal onrustig na waar oom Floors se blou huis tussen die res uitsteek.

Die onrus in haar voel soos die keer toe haar pa weg is. ’n Paar dae voor sy vertrek het die gevoel kop uitgesteek. Die vae wete dat iets pla. Sy het dit probeer smoor.

Dit het egter soos ’n onsigbare kledingstuk aan haar lyf geklou.

Op die droewige dag het sy en Jakobus in die agterplaas gespeel. Sy was sewe, Jakobus vier en Pietman twee. Pietman was vas aan die slaap in die kamer en haar ouers was in die kombuis.

Die skielike geluid van glas wat breek, het haar in ’n haas voor die oop agterdeur gebring. Haar ma het in ’n hopie op die kombuisvloer gelê terwyl haar pa in die hoek die woorde uitspoeg.

“Ek is moeg van jou. Ek wil uit. Jy is die naam ‘vrou’ nie werd nie.”

Hy sien Katryn toe daar staan en sê: “Hoor jy my woorde, Katryn? Ek kan nie langer hier woon nie. Ek is moeg.”

Toe beduie hy met sy vinger na haar ma, wat soos ’n dier lê en stuipe kry. “Eendag, eendag in die verte kan jy haar blameer vir wat vandag hier gebeur.”

Die haat in sy oë is onverbloem. In daardie oomblik het iets in Katryn gesterf. Sy het bo-oor die glasstukke getree en op haar ma se rukkende lyf gaan lê.

Hy het met twee koffers verby ’n skreeuende Jakobus by die agterdeur uitgestorm. Sy het opgevlieg en saam met Jakobus al langs die heining gedraf en hom probeer keer.

Hulle stemme was later hees geroep agter hulle verdwynende pa aan. Watter soort man los sy kinders en vrou sonder ’n inkomste?

Sy het toe by ’n antwoord uitgekom. Haar pa is niks anders as ’n swakkeling nie. Hy het nie één keer teruggekyk nie. Lae luis!

Die son se eerste strale huiwer agter die berge toe sy by hulle voorhek inswaai. Haar oë dwaal oor die dig begroeide strook onkruid waar ’n voortuin moet wees.

Armoede en verval begroet jou wanneer jy die voorstoep betree.

In die kombuis sit haar twee broers doodstil aan tafel. Hulle ogies verlig toe hulle haar sien.

Toe weet sy net die dood sal hulle van mekaar skei.

Ná ontbyt hol hulle primêre skool toe. Dis net ’n paar meter weg. Die dag draal.

Teen die einde van die laaste periode staan haar Afrikaans-onderwyseres, juffrou Fortuin, langs haar tafel.

“Katryn, die hoof wil jou sien.”

Skrik hardloop deur haar lyf. Sy staan op, tel haar rugsak op en stap by die klaskamer uit.

Die kantoor van juffrou Baartman, die skoolhoof, is aan die einde van ’n lang gang.

Pietman en Jakobus wag elke dag van die laaste periode op die buitestoep vir haar.

Die deur staan oop. Sy talm net vir ? sekonde voordat sy oor die drumpel tree. Juffrou Bantam kyk op van agter ’n groot bruin lessenaar.

“Katryn, goeiedag. Kom in.”

Katryn beweeg dieper die vertrek in. “Middag, Juffrou.”

“Weet jy hoekom jy hier is?”

“Nee, Juffrou.”

“Sit, dan verduidelik ek.”

Sy wil nie sit nie. Sy moet hier uit. Die mure druk. Dit voel asof iemand die lug uit haar longe pers.

Sy gaan sit toe maar gedwee op die punt van die oop stoel.

“Mevrou Kykers van die welsynkantore het gebel.”

Here, asseblief tog nie, pleit sy woordeloos.

“Ná die brand word dinge in julle huis fyn gemonitor. En dit het onder haar aandag gekom dat jou ma weer hewig aan die drink is en julle soms dae sonder toesig laat. Dikwels sonder kos.”

Haar hart sink in haar skoene.

“Terwyl sy rondslaap …”

Katryn vlieg op. “My ma is nie ’n hoer nie, Juffrou. Dis wat almal sê. ’n Klomp skinderbekke wat niks anders het om te doen nie.”

“Katryn, ek sal nie duld dat jy só in my kantoor praat nie.”

Die woedebui neem stadig af. Dit vloei geleidelik uit haar liggaam terwyl die hartseer oorneem.

Juffrou Baartman lig haar mollige lyf uit die stoel, stap om die tafel en hurk langs haar. “Katryn, die mense wil net help.”

“Dis ’n lieg. Hulle gaan ons skei.” Sy sluk hard aan die trane wat haar oorweldig.

“Kom ons kyk eers wat gebeur, Katryn. Dalk word julle deel van ’n gesin tot julle ma oukei is.”

“Juffrou weet teen dié tyd hoe dit werk. Wat is die kanse dat enige iemand drie kinders op een slag inneem? Hulle sal sê ons is te veel.”

Sy vlieg op en storm by die deur uit. Haar gebede het niks gehelp nie. Almal lieg – haar onderwysers, tannie Fytjie, selfs miss Sonja met haar fancy huis en snaakse katte.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters