28 dae gelede
Katja veg soos 'n tier toe hulle haar wil inspuit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katja en die ander meisies is vasgekeer, maar sy besluit sy gaan tot die bitter einde veg. Saul lig Katie en Jaco in hy weet waarheen die skurke die meisies neem en die polisie is op die verkeerde spoor. Saul oortuig hulle toe hy kan die meisies red. Geniet hoofstuk 7 van GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal “Die Sterre Bring Hoop”.

‘SAUL, hoe het Katja gelyk? Is sy beseer? Kon sy loop?” vra Katie.

“Ek kon sien hoe sy opstaan en verder hardloop. Sy was ’n entjie weg en dit was moeilik om te sien hoe erg sy gewond is.

“Boonop het alles so vinnig gebeur. Daarna was ek lights out en toe ek bykom, was hulle haastig om te vertrek.

“Ek het darem uit hulle gesprek bepaal waarheen hulle op pad is. Maar, ja, ek is seker sy lewe nog,” eindig Saul.

“My meisiekind met die dapper hart. Ek hoop en bid sy is veilig.”

“Ons hoop die beste, Mevrou,” sê Saul terwyl hy die bakkie aan die gang kry.

Hy wil Katie nie nog meer bekommerd maak nie.

Daardie ouens is nie die gewone misdadigers nie.

Hulle is duidelik opgelei om moord te pleeg. Dit het hy in hulle oë gelees.

Hy weet dis selfmoord om alleen agter hulle aan te gaan, maar hy het ’n plan.

Teen middernag moet hy by die huis wees.

Die klein stoor in Pa se kamer het genoeg vuurwapens en ammunisie om hulle aan te vat.

Om die wapens te kry gaan sy grootste uitdaging wees. Want dit beteken hy moet by sy eie woning inbreek, soos ’n regte dief in die nag.“LOS my, jou vuilgoed!” skreeu Katja terwyl sy met mening terugbaklei.

Sy gebruik ál haar krag om haar uit Chidi se kloue te bevry, maar hy is so sterk soos ’n bees. Sy lag eggo bo haar kop.

“Dit gaan nie help jy baklei nie. Al wat jy regkry, is om my kwaad te maak.”

Katja is horende doof vir sy dreigemente. Sy sterf eerder as om in daardie trok te klim. Sy hoor hoe hy om hulp roep.

Dit vat ’n paar sekondes voordat Tiko hom by hulle aansluit en haar summier aan die voete gryp.

Die trokdrywer staan met ’n spuitnaald gereed. Sy kry ’n vinnige blik na binne.

Die meisies lê in verskeie rigtings uitgesprei. Katja gee een lang uitgerekte gil toe die man met die naald nader kom.

Sy kry dit reg om haar regtervoet uit Tiko se greep los te ruk en gee ’n harde skop in die man se rigting. Die naald val.

Chidi raas met Tiko voordat hy haar op die grond vaspen. Hy beduie Tiko moet help om haar stil te hou.

Katja probeer met haar laaste krag ba­klei, maar voel skielik ’n prik in haar arm.

Haar ouers se gesigte flits voor haar verby. Warm trane stroom oor haar wange voordat sy in ’n donker put wegsak.SAUL voel beter nadat Katie die verbande omgeruil het.

Hy sluk een van die pynpille wat sy na hom uithou.

“Ek moet nou gaan, Mevrou.”

Sy knik en druk haar selfoon in sy hand.

“Hou dit by jou en maak gereeld kontak. Belowe jy sal ons onmiddellik laat weet wanneer jy jou oë op Katja het.”

“Ek belowe.”

Die gastekamer se deur waai oop. Jaco stap in en plak homself op die bed neer.

“Dit was omtrent ’n storie om Rademeyer te ontglip.

“Boonop het die dokter wat jou behandel het, daar aangekom. Hy was op soek na jou, Saul. Dit het mooipraat gekos om hom te oortuig jy is oukei.

“Hy het my laat belowe om jou onmiddellik terug te bring as daar komplikasies is.”

“Waar is Rademeyer nou?” vra Katie bekommerd.

“Hy het gelukkig ’n oproep ontvang en moes gaan.

“Hy wou my hier kom aflaai, maar ek het voorgestel hy laai my by die naaste eetplek af.

“Hy het wel bevestig hy sien ons later. Hoe ver het julle gekom?” vra Jaco.

“Saul is op pad. Jy het hom byna gemis.”

Jaco haal sy beursie uit sy agtersak en tel ’n paar note af.

“Die bakkie se tenk is vol. Maar dis vir as jy moet bygooi.”

Saul neem die geld teësinnig.

“Dankie. Ek maak kontak sodra ek kan. Onthou, ek sal bel.

“Die foon bly op silent. Moenie my probeer bel nie.

“Ek sal uurliks van my laat hoor nadat ek van die plaas weg is. As julle langer as vier uur niks hoor nie, moet julle Rademeyer onmiddellik in kennis stel.”

Katie slaan haar arms moederlik om hom.

“Pas jou op. En bring my Katja terug, Saul. Ons maak staat op jou.”

“Ek maak so. Tot siens,” sê Saul.

By die deur steek hy ’n oomblik vas.

Die prentjie van die ouerpaar bring ’n knop na sy keel. Hy lig sy hand voordat hy by die deur uitstap.

Daar is ’n dringendheid in hom – iets wat hom waarsku sy tyd raak kort.

Die dorpies lê wyd uitmekaar en dis byna die enigste voordeel wat die skurke het. Hy hoop met sy hele hart hy kan Katja en die ander red voordat hulle buite sy bereik verdwyn.

’n Paar uur later draai hy regs in die rigting van hulle plaas.

Twee kilometer voor die plaas besef hy hy het geen idee hoe hy die wapens gaan kry nie.

Hy kan natuurlik daar insluip en dit bloot neem, maar dis nie hoe hy geleer is nie.

Om oop en bloot in die middel van die nag sy broers wakker te klop en vriendelik te vra vir Pa se wapens is ook nie juis ’n opsie nie.

Dan sal hy moet verduidelik waarvoor hy dit nodig het.

En soos altyd sal hulle nie verbaas wees nie, want, tipies Saul, het hy hom op een of ander manier in die moeilikheid gekry.

Hy sug lank en hard.

Pa het dikwels twee dinge aan hulle voorgehou.

Om te lieg en steel bring jou nêrens in die lewe nie. As jy iets in die lewe wil hê, moet jy dit op ’n eerbare manier bekom.

Op dié manier hou jy jou paadjie skoon en kry in die proses ook die respek van ander.

En dis hoekom hy besluit om die regte ding te doen.

Hy gaan mooi vra en daarna sal hy besluit wat hom te doen staan wanneer hy ’n antwoord kry.

Hy hou voor die breë stoep stil. Dan klim hy stadig uit en stap na die deur.

Net voordat hy sy hand lig, word hy bewus van ’n skaduwee uit die hoek van sy oog.

“Kyk nou net ... Ek het geweet jy gaan soos ’n sleg hond terugkruip, Saul,” sê ’n bekende stem in die donker.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters