2 maande gelede
Katja vat ’n kans toe die kapers se aandag afgelei is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katja, Tessa en die res van die meisies is lam van skok toe die kapers mnr. Beukes doodskiet en sy lyk in die veld insleep. Katja besef sy sal moet ontsnap om hulp te kry, want hulle kan nie almal gelyk wegkom nie. Geniet nou hoofstuk 3 van GWENDOLINE KORDOM se “Die Sterre Bring Hoop”.

‘TESSA!”Katja kry haar vriendin aan die pols beet.Sy sug verlig toe Tessa se oë flikker terwyl ’n pyntrek op haar gesig verskyn.

“Ons moet hier uit. Mnr. Beukes is voor ons oë doodgeskiet,” sê Katja ontsteld.

Toe sy opkyk, besef sy dis te laat. Die deur van die minibus word oopgeskuif.

Die man lyk vreesaanjaend. Sy blik swiep oor die kajuit.

Hy grynslag voordat hy iets in ’n vreemde taal sê.

Binne sekondes verskyn daar nog een, wat moontlik sy broer kan wees.

Dié glimlag breed in hulle rigting voordat hy inklim. Histeriese gille volg toe hy die eerste meisie beetkry.

“Hou julle bekke!” blaf die eerste een nou in Afrikaans.

Hy beduie iets aan sy maat, wat sy gevroetel staak. Hulle wissel woorde in die vreemde taal.

Die jonger een laat die meisie gaan en klim stram uit.

Katja blaas stadig haar asem uit. Denise, die meisie wat so pas betas is, vlieg op vanuit haar sitplek.

Haar oë staan soos pierings in haar kop toe sy soos ’n bobbejaan oorklouter na waar Katja en Tessa in die hoek lê.

Naakte vrees lê op haar skraal gesig.

Katja wens sy was liewer by die huis, waar sy weet sy altyd veilig is. Nie in hierdie nagmerrie wat soos ’n grusame verhaal voor haar afspeel nie.

Sy loer na waar mnr. Beukes, die bestuurder, laas gesit het. In sy plek is ’n vreemdeling.

Haar oë beweeg na waar sy lewelose liggaam aan die buitekant lê. Sy draai haar kop vinnig weg. Terwyl die ander sy liggaam dieper die veld insleep, begin die eerste een praat.

“Luister nou mooi, meisies, want ek gaan dit net een keer sê. My naam is Chidi, die ou agter die stuur is Speedo en die ou daar buite is Tiko.

“Van hierdie oomblik af behoort julle aan my.”

Hy spring ligvoets in die taxi in en buig oor Tina, wat histeries aan die huil gaan. Die volgende oomblik klap hy haar hard deur die gesig.

“Die volgende een wat haar mond oopmaak, skiet ek dood!”

’n Doodse stilte volg op sy woorde. Die meisies staar vreesbevange na hom.

“Right, girls. We are going on a road trip. Destination unknown.

“Wanneer julle daar kom, begin ’n nuwe lewe. As jy jou verset of probeer om enigsins aandag na ons kant te trek, sterf jy.

“Ek stel voor julle gee julle volle samewerking, aangesien ons vir ’n onbepaalde tyd in mekaar se geselskap gaan wees.”

’n Grynslag verskyn op sy gesig.

Katja voel Tessa se hand in hare. Sy voel die ander meisies se vrees aan terwyl hulle vir lewe en dood aan mekaar klou.

Daar is geen ander manier nie. Hulle sal moet vlug. Hulle is ag meisies.

Heel voor sit Lizzy en Tina van Rooifontein. Dan is dit Jessica, Ronelle en Shantell van Groen­rivier. Sy, Tessa en Denise kom van Spitsberg.

’n Uur gelede was hulle ’n vrolike groep meisies op pad universiteit toe. Daar sou die beste jare van hulle lewe begin.

Die trane loop stil oor haar wange. Tessa druk stywer teen haar aan. Sy dink aan haar ouers.

Die blote gedagte dat sy hulle nooit weer gaan sien nie, is ondenkbaar. Sy moet aan ’n plan werk en die res inlig wanneer die tyd reg is. Iewers sal ’n geleentheid opduik.

Dan sal sy ontsnap. Sy moet paraat wees wanneer dit gebeur.

Nadat Tiko aan die passasierskant ingeklim het, skuif Chidi die deur toe. Die enjin word aangeskakel en Katja voel hoe hulle stadig wegtrek.

Die motor waarmee die kapers gery het, staan verlate in die pad. Hulle selfone is verwyder en lê stukkend en verstrooid in die veld.

Die gedagte aan wat voorlê, stuur rillings deur haar lyf. Sy moet ontsnap, want sy weier om ’n slagoffer van mensehandel te word.

’n Paar kilometer verder verminder hulle skielik spoed. Die bussie ruk ’n paar keer voordat dit tot stilstand kom.

Chidi spring uit en die ander twee volg hom.

“Wat gaan nou aan?” vra Tessa sag.

Katja beduie sy moet stilbly terwyl sy die trio dophou.

Die een wiel het onklaar geraak. Chidi verskyn in die deur.

“Klim uit. Ons moet die wiel omruil. Beweeg stadig tot waar ek beduie.

“Any funny business will get you killed.”

Die meisies beweeg gehoorsaam na buite, met Katja laaste in die ry.

Tiko keer terug met ’n vuurwapen in sy hand terwyl hy ’n waaksame oog oor hulle hou. Sy weet nie hoe lank hulle so gestaan het nie, maar ’n skielike dreuning in die verte laat die kapers onseker na mekaar loer.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe hulle die wapens langs die agterwiel versteek.

Die voertuig is naby. Chidi stap in die rigting van die wit Hilux-bakkie toe dit stilhou.

Katja rek haar nek om ’n beter uitsig te kry.

Daar moet ’n manier wees om die mense se aandag te trek.

Tot haar teleurstelling sien sy net een ou agter die stuur.

Hoe gaan een man hulle red?

Sy het nie ’n keuse nie. Terwyl hulle aandag daar is, gaan sy hardloop, so vinnig as wat sy kan.

Haar oë volg die beweging van die man toe hy uitklim. Van sy lenige, gespierde lyf tot by die kontoere van sy sterk kakebeen.

“Katja, moenie! Hulle gaan jou skiet,” fluister Tessa.

“Ek gaan hulp soek, Tessa. Ons is te veel om op een slag te ontsnap.”

“Jou plan gaan nie werk nie.”

Katja loer na waar die mans gesels. Dan draai sy haar kop na die ander twee wat die bakkie van die ander kant nader.

Nou is haar kans. Die vreemdeling kyk op en hulle oë vind mekaar vir ’n breukdeel van ’n sekonde voordat sy wegspring en nael vir die veld.

Sy vorder ’n entjie toe die skoot klap. Sy voel ’n brandpyn in haar been voordat sy grond toe ploeg. Sy hoor histeriese gille.

Sy sukkel op en probeer verder hardloop. Verskeie skote klap agter haar.

Sy steek vas toe sy besef dis nie op haar wat geskiet word nie. Toe sy omkyk, sien sy hoe die vreemdeling grondwaarts tuimel.

Haar oë rek toe Chidi met sy vuurwapen in die hand op haar afpyl ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters