29 dae gelede
Katja besluit sy gaan nou tot die bitter einde veg
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Saul sê aan Katja se ouers hy wil die meisies help opspoor. Geniet hoofstuk 6 van GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal “Die Sterre Bring Hoop”.

SOOS ’n trop skape op pad na nêrens, dink Katja, terwyl hulle in ’n ry staan en wag. Aanvaarding is die enigste alternatief.

Terwyl hulle wag, moet hulle nogtans waaksaam bly. Die drie is onder geen omstandighede te vertrou nie. Sy hoor telkens die woord “merchandise” in Chidi se telefoongesprekke.

Wanneer hy na haar kyk, is daar ’n vae glimlag om sy mond. Sy weet nie wat dit beteken nie, maar weet instinktief dis niks goeds nie.

“Hoe lank moet ons nog hier staan?” vra Tessa.

“Sjuut, hulle kan jou hoor,” fluister Katja.

Tiko swaai die flits vinnig in hulle rigting. Dis moeilik om sy gesigsuitdrukking in die donker te lees.

Die volgende oomblik klink ’n dreuning in die verte op. Daar is ’n skielike roering tussen die drie terwyl hulle stemme opgewonde raak.

“Katja, wat dink jy gaan nou gebeur?” vra Tessa angstig.

“Ek weet nie. Bly stil,” sê Katja en kantel amper om van skrik toe Chidi soos ’n skim langs haar verskyn.

“Nou gaan die poppe dans,” fluister hy naby haar oor.

Katja sidder terwyl sy stadig ’n tree buite sy bereik neem. Hy lag dawerend en stap weg.

Die wit trok stop ’n entjie van waar hulle staan. Chidi en sy trawante verwelkom die jongste toevoeging tot die groep.

Katja probeer die bestuurder sien, maar in die donker is sy gesig half verskuil onder ’n pet wat laag oor sy oë getrek is.

Die trok lyk na dié waarmee slaghuise hulle produkte vervoer.

Katja begin bewe toe sy besef hulle gaan verder in die trok aangehou word.

“Katja, hulle gaan ons in die trok versteek,” sê Tessa met ’n bewerige stem.

“Ek besef dit. Dié is ons laaste kans om te ontsnap,” sê Katja met haar oë op die mans gevestig.

“Moenie weer met jou dwase gedagtes begin nie, Katja,” sê Tina.

“Ek het ’n snaakse voorgevoel.”

“Bly stil! Katja, iemand is op pad!” sis Tina.

Katja staan kop onderstebo toe sy die naderende voetstappe hoor.

“Right, ek gaan julle een vir een tot by die trok neem. Die ou wil sien hoe die merchandise lyk voor hy laai.”

Katja verstik byna. Hy praat van hulle asof hulle goedere is. Dié mense is gewetenloos.

Chidi kry Denise aan die elmboog beet en stuur haar in die rigting van die trok.

Katja kyk benoud rond. Daar is nie tyd om die ander te raadpleeg oor ’n nuwe ontsnappingsplan nie.

Tiko word soos gewoonlik gestuur om wag te hou.

’n Gesmoorde kreet is hoorbaar waar Denise sekondes gelede saam met Chidi verdwyn het.

Katja se hart klop wild toe Chidi terugkeer.

Dié keer is dit Tina se beurt. Hy sleep ’n histeriese Tina in dieselfde rigting agter die trok. Die res klou vir lewe en dood aan mekaar.

“Katja, ons moet vlug.”

Katja se hart trek saam toe sy die vrees in Tessa se stem hoor. Haar bene is na aan knak.

Al slaag sy daarin om te hol, sal die donker haar kelder.

Teen die tyd dat Chidi nog een kom haal, het Katja besluit sy gaan tot die bitter einde veg.SAUL kyk hulpsoekend na Katie.

Hy probeer ’n boodskap met sy oë sein terwyl hy met sy kop na Rademeyer beduie. Hy sien uiteindelik Katie snap sy bedoeling.

“Rademeyer, gee jy om as ons ’n oomblik alleen met Saul gesels?” Sy weet hy sal haar nooit iets weier nie. Hy kyk beurtelings na hulle en stap stadig weg.

“Ek kry die gevoel jy wil iets met ons deel, Saul. Wat is dit?” vra Katie.

“Ek het julle hulp nodig. Ek moet so gou moontlik hier wegkom. Weg van die hospitaal en baie ver van Rademeyer.

“Ek weet waarheen die skurke op pad is. Ek gaan Katja en die res van die meisies haal.”

“Hoekom het jy nie net vir Rademeyer ingelig nie, Saul? Ons dogter is in lewensgevaar en jy weerhou kosbare inligting,” sê Jaco beskuldigend.

“Hulle sal die polisie ontglip nog voordat Rademeyer en sy span hulle bereik. Boonop het hulle kontakte in die mag wat tans die gereg op ’n dwaalspoor lei.

“Ek het dit afgelei ná my gesprek met die beampte wat my verklaring in die hospitaal geneem het.

“Die polisie is in die verkeerde rigting op pad.”

“Hoekom sê jy nie net vir Rademeyer nie?”

“Stop dit, Jaco. Wat Saul sê, maak in ’n mate sin. Niemand het nog met enige nuwe inligting vorendag gekom nie. Kyk hoeveel uur was ons op die pad.

“As daar iets was, sou Rademeyer ons teen dié tyd verwittig het.

“Hulle het duidelik nie ’n spoor van die groep nie. Saul, dit lyk vir my of jy hospitaalsorg nodig het,” sê Katie bekommerd terwyl sy na die bloedbevlekte verband om sy arm staar.

“Moenie vaskyk teen my wond nie. Ek is taaier as wat ek lyk.

“Al wat ek nodig het, is pynpille en ’n voertuig met genoeg petrol.

“Die skurke het my van alles beroof terwyl ek hulpeloos daar gelê het. Ek moes my noodgedwonge dood hou. Hulle ken geen genade nie.

“Ek het in die verlede met sulke tipe ouens te doen gehad en het die geveg gewen. Laat my toe om julle te help.”

“Nou goed, ons sal jou help,” sê Katie uiteindelik terwyl Jaco onderlangs brom.

“Jaco, jy moet ’n manier vind om van Rademeyer ontslae te raak. Ek en Saul vat die bakkie en gaan solank by die naaste gastehuis inboek.

“Ek sal jou die details sms. Daarna sal ek die verbande vervang en sorg dat hy iets eet. En minstens ’n uur of twee rus.”

“Daar is nie tyd vir rus nie. Ons het ’n agterstand. Hoe gouer ek hulle inhaal, hoe beter.”

Katja kry duidelik haar veggees van haar ma. Saul bewonder die manier hoe sy beheer neem.

Hy kan haar seker nie kwalik neem nie. Dit help dat sy haar besig hou, dan hoef sy nie te dink aan wat haar dogter deurgaan nie.

“Laat my dan toe om die verbande te vervang. Ons het ’n noodhulptassie in die bakkie, Saul.”

“Oukei, maar daarna moet ek ry,” antwoord Saul.

Jaco stap na waar Rademeyer staan. Katie en Saul sien hoe hy iets aan Rademeyer verduidelik voordat dié in hulle rigting kyk.

Ná ’n paar sekondes beduie Jaco hulle kan gaan.

Katie oorhandig die bakkie se sleutels aan Saul.

Hy neem dit met ’n bonsende hart terwyl Rademeyer se oë soos vuur in sy rug brand.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters