26 dae gelede
Katie moet vure doodslaan by Tim oor Saul se dinge
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Saul se hart breek in stukkies oor sy broers hom by die huis vyandig ontvang. Maar hulle besef gou Saul is daar vir ’n goeie doel en wil jong meisies van mensehandelaars red. Geniet hoofstuk 9 van GWENDOLINE KORDOM se “Die Sterre Bring Hoop”.

‘EK KAN nie glo jy, van alle mense, het my vir die gek gehou nie, Katie.”

Tim pluk woedend die selfoon uit sy baadjiesak toe dit begin lui. Hy gluur in haar rigting en stap uit om die oproep te beantwoord.

“Wat het ek gedoen, Jaco?”

Haar man neem haar hand in syne. “Ten minste weet hy nou hulle is op pad na Kaapstad.

“Ek is bly jy het na my geluister, maar haat die gedagte dat Tim dink dit was jou idee. Saul het op sy eie besluit om die meisies te red.”

“Hulle kon teen dié tyd die meisies gevind het, Jaco. Ons moes nie vir Tim bedrieg het nie.

“Boonop het ons nog niks van Saul gehoor sedert hy hier weg is nie. En dit was ure gelede. Wat as hy iewers dood lê?”

Katie sug. Sy moes Rademeyer ingelig het oor die plaas waar die mensehandelaars die trok sou kry. Dis nou te laat en hy is al so kwaad. Sy sal hom later in kennis stel.

“Iemand sal hom vind, Katie. Ons moet net aanhou bid en glo,” sê Jaco.

Rademeyer se groot gestalte verskyn in die deur.

“Ek hoop julle het genoeg tyd gehad om oor julle sondes te dink. My span is besig met padblokkades – een in die rigting van Kaapstad.

“As voorsorgmaatreël beplan ons ook een in die rigting van Vioolsdrif. Die res patrolleer die gebied waar die voorval gebeur het.

“Elke voertuig in die omgewing word deursoek.

“Gemsbok is op aandag indien hulle besluit om oor die grens te gaan, maar dit betwyfel ek sterk.

“Op die oomblik is alle areas gedek. Glo my, die bliksems sal nie verder as Springbok kom nie.”

“Katie, ek wil hê jy moet Saul kontak en hom oorreed om sy dwaasheid te laat vaar.

“En jy kan hom maar waarsku sy doppie is geklink. Waag hy dit om in my pad te staan, arresteer ek hom op die plek. Ek sal dit nie duld dat ’n snotgat my operasie in sy glory stuur nie.

“Saul se kastige heldedaad fnuik ons pogings om ons werk te doen. Waarvoor wag jy? Bel hom!” bulder Rademeyer.

“Dis nie nodig om so aggressief te wees nie, Tim,” tree Jaco tussenbeide.

“Jaco, ek raai jou aan om te swyg. In hierdie stadium is my geduld op. Moet my asseblief nie beproef nie.”

Katie lê haar hand op Jaco se arm. Sy kyk waarderend na haar man. Jaco is die sagte tipe. Hy sal nooit onnodig kwaad word nie.

Rademeyer, in teenstelling, sal enige een wat hy teëkom, uit sy pad vee.

Sy het ’n idee waaroor Rademeyer se oproerige gedrag gaan.

Die bewondering wat hy vir haar het, het in iets dieper ontwikkel. Om hom te bejammer, sal haar grootste fout wees.

’n Trotse man soos hy soek nie ander se bejammering nie. Daarom lig sy haar kop en kyk hom reguit in die oë.

“Ek is weer eens jammer, Tim.”

Hy knik, maar sê nie ’n woord verder nie. Sy neem Jaco se selfoon en maak die oproep. Toe die stempos antwoord, probeer sy weer.

Ná ’n paar tellings besef sy die foon is af. “Ek sal later weer probeer,” sê Katie.

“Dis goed so. As julle gereed is, kan ons maar gaan,” sê Rademeyer voordat hy by die deur uitstorm.

Agter hom volg Katie en Jaco.KATJA veg hard teen die donker newels wat haar gevange hou.

Sy probeer haar oë oop dwing.

’n Verblindende pyn hamer in haar agterkop. Uiteindelik kom haar oë in fokus. Dis stikdonker.

Meteens besef sy hoekom. Hulle word in die trok aangehou.

Sy luister na die geluide buite, maar daar is ’n doodse stilte.

Met haar hande voel sy haar weg in die donker.

“Tessa! Tessa, word wakker.” Iemand begin liggies kreun.

“Tessa, is jy wakker?”

Toe dit weer stil word, kruip sy voel-voel oor die ander, terwyl sy hulle wakker skud.

Later gee sy op. Daar is nie ’n roering onder die klomp nie. Haar hart ruk toe daar aan die deur gevroetel word.

Sy gooi haarself net betyds teen die vloer neer toe die deur oopswaai.

Angstig lê en luister sy na die persoon se vlak asemhaling. ’n Stem vra: “What are you doing?”

Vir ’n oomblik dink sy daar word met haar gepraat. Dan besef sy daar is nog iemand teenwoordig.

“I am checking if they are still alive.” Die laaste stem is Tiko s’n.

“I already paid you half the amount. The merchandise belongs to me. If you touch one of them, I want my money back. So, get the hell away from the truck.”

“What is going on here, guys?” kom Chidi se stem tussenbeide.

“I caught Tiko at the door, clearly on his way to have a good time with one of the girls. I thought we had a deal, Chidi.”

Meteens hoor Katja ’n dowwe klank. Dan volg ’n lang uitgerekte gil en daarna ’n doodse stilte.

“He won’t give you any more problems.” Chidi skree iets in sy moedertaal.

Sekondes later hoor Katja naderende voetstappe.

Geskok besef Katja dis Tiko se lyk wat weggesleep word. Vrees laat haar roerloos verder luister.

“Why can’t we move the merchandise tonight?” vra die drywer.

“It is too dangerous to move them now. I got word from my contact in the police.

“They are covering every inch of this area.

“They received a tip-off about where we’re heading.

“We have no choice but to stay on the farm tonight. The owner of the farm is a respectable man in the area.

“They won’t suspect that a guy of his stature is part of such a business, so I highly doubt they will search the farm. He is in Namibia, as we speak.

“We need a plan B by morning. The girls will stay in the truck tonight.”

Katja ruk van die skrik toe die deur hard toegestamp word. Hulle stemme verdof in die stilte.LUKAS se hande is styf om die stuurwiel vasgeklem terwyl hy oor die ongelyke vlaktes jaag.

Saul se oë is soekend oor die kronkelende paadjies.

“Is jy seker die plaas is in dié rigting, Saul?”

“Ek weet nie presies waar dit is nie, maar ek skat dis in dieselfde omgewing as waar ek gekaap is.”

“Ek dink ons moet stop en kyk of ons spore kry,” sê Danie.

Saul het gehoor hoe een ou iets oor ’n plaas noem. Iewers op die plaas sou hulle die meisies oorlaai.

Hy het elke woord verstaan, want die gesprek was in Engels.

Toe die bakkie stop, spring Danie voor die res uit.

Saul is besig om uit te klim toe hy vir Danie opgewonde hoor roep.

  • Lees môre die slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters