Verlede maand
Katie, Jaco praat Rademeyer om in soektog na girls
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katja vat ’n groot kans toe die kapers se aandag afgelei word. Geniet nou hoofstuk 4 van GWENDOLINE KORDOM se “Die Sterre Bring Hoop”.

KATIE staar met dowwe oë voor haar uit.

Katja, haar meisiekind met die suiwer hart en mooi glimlag. Katja met die drome in haar oë.

Toe die dokters haar destyds meedeel sy sou nooit kinders hê nie, was sy verpletter. Jaco het nie opgegee nie en saam het hulle aanhou hoop.

Toe gebeur die wonderwerk. Sy word swanger met Katja.

Sy stuur ’n woordelose gebed na Bo. Here, as dit u wil is, bring asseblief vir Katja veilig terug na ons. Amen.

“Katie, drink ’n bietjie. Die suikerwater sal help vir die skok.”

Haar oë vind Rademeyer s’n oor die koppie. Jaco laat haar toe om ’n paar slukkies te neem voordat hy die koppie wegvat.

“Ek is nou oukei. Jy kan maar voortgaan, Rademeyer.”

Jaco vryf saggies oor haar skouer en knik in Rademeyer se rigting.

“Een van die meisies het ’n poging aangewend om te ontsnap. En het byna met haar lewe betaal.”

“Ons ken ál die meisiekinders daar. Wie was dit?” vra Katie met ’n bonsende hart hoewel sy instinktief die antwoord weet.

Rademeyer kug hard.

“Volgens die beskrywing was dit Katja.” Katie gryp na Jaco.

“Die ooggetuie het gesien hoe sy opstaan nadat sy geval het.

“Wat daarna gebeur het, is vir hom ’n raaisel. Hy onthou wel toe daar op hom geskiet is.

“Hy het gehoor hoe meisies skreeu toe hy val en het kort daarna sy bewussyn verloor.

“Toe die ou wakker word, was sy bakkie met die meisies en die kapers weg.

“Die persoon wat hom gevind het, het die owerhede gekontak.

“Meneer Beukes, die drywer, is in die skermutseling doodgeskiet.

“Ons het die meisies se stukkende selfone in die veld gevind.

“Daar het ook ’n gesteelde voertuig gestaan. Ons kan net raai wat met die insittendes gebeur het. Daar kan nog dooies opduik.

“Die mense is meedoënloos. Ons het kontak met die polisiestasies in daardie rigting.

“Upington is op standby en wag vir hulle aan die voorkant. Ons gaan hulle kry voordat hulle Gauteng bereik.”

“Is dit waarheen hulle op pad is?” vra Katie.

“Dit is wat ons in hierdie sta­dium vermoed. Die grootste mensehandelsindikaat is daar.

“Ons gaan elke deel in die omliggende omgewing dek. Ek en my span gaan agterna. Teen vanaand is Katja tuis. Dis ’n belofte.”

“Ek gaan saam,” sê Jaco skielik.

Rademeyer skud sy kop. “Dis te gevaarlik, Jaco. Ons is besig met polisiewerk.”

“Ek kan nie net hier sit en wag nie. Ek sal van my kop af gaan.

“Asseblief, Tim. Ons ken mekaar al jare. As dit jou dogter was, sou jy presies dieselfde gevoel het.”

“Die mense is gevaarlik, Jaco. Bly by jou vrou. Sy het jou nodig,” sê Rademeyer.

Hy kom op sy voete. Die ander twee volg sy voorbeeld.

“Ek sal bel sodra ek nuus het. Ek belowe,” sê Rademeyer.

“Waar is die jong man?” vra Katie.

“Die ambulansdienste het hom na Upington vervoer.”

“Ek wil hom sien,” sê Katie.

“Katie, dis ver. Ek dink dis beter dat julle tuis bly en hier is wanneer ek met Katja terugkeer.”

“Hy het sy lewe vir ons kind gewaag. Hy het ons nodig, Tim. Ek en Jaco ry met ons eie vervoer.”

Rademeyer sug lank en hard.

“Nou goed, maar op een voorwaarde – julle doen presies soos ek sê.”

Katie en Jaco knik instemmend.

“Wat is sy naam?” vra Katie.

Rademeyer kyk lank na haar.

“Saul Aberdeen.”SAUL staar stip na die naald in die verpleegster se hand.

As sy hom nou spuit, slaap hy tot die volgende dag en dit wil hy vermy. Daarom probeer hy uit haar pad skuif toe sy nader kom.

“Meneer Aberdeen! Ek kan slegs my werk doen as u saamwerk. Hou op so te kere gaan.”

“Ek weier dat jy my inspuit. Waar is die dokter?”

“Meneer Aberdeen, die dokter is op sy rondes. Ek sal hom verwittig van jou tantrums as jy dit nie nou staak nie,” waarsku sy.

“Geen vroumens spuit aan my nie. Dit moet ’n man wees,” sê Saul ergerlik.

Die verpleegster se oë rol opwaarts.

“Sowat van kleinserig het ek lank laas in my lewe gesien.

“Ek sal die dokter van jou streke in kennis stel.

“Wanneer jy later pyn het, hoef jy nie te kla nie. Ek waarsku jou.”

Sy neem die toerusting en klik haar tong en stap weg.

Dit was die enigste manier om van haar ontslae te word. Toe sy uit is, kyk Saul vinnig rond.

Hy moet hier uit. Iewers in ’n kas behoort klere te wees. Sy bebloede klere is verwyder.

Sy familie is veronderstel om vir hom ’n stel skoon klere te bring.

Maar dit sal nie gebeur nie. Hy het ’n vals kontaknommer verskaf.

Lukas sal in elk geval net hier instap en sy gewig rondgooi en dit wil hy vermy.

Hy kyk na die verband om sy ribbekas. Volgens die dokter het een koeël sy ribbekas skrams getref. Die ander een het deur sy arm gegaan. Die skieter is ’n vrot een.

Die dokter het hom verseker hy behoort oor ’n dag of twee ontslaan te word.

Hy het nie ’n dag of twee nie. Die bakkie is weg.

Die polisie is op soek daarna, maar teen dié tyd moes die ouens al hulle vervoer verander het. En die bakkie staan moontlik iewers verlate langs die pad.

Hy beweeg stadig na die kas in die hoek. Tot sy geluk vind hy ’n broek en ’n grys T-shirt daarin.

“Hei, wat maak jy met my klere?” vra iemand skielik.

Saul se kop ruk na die ou in die bed oorkant hom.

“Ek leen dit,” sê Saul en beduie die ou moet stilbly.

“Jy kan nie dit doen nie. Wie gee jou die reg?”

“Luister mooi, ek het nie tyd om te verduidelik nie. Ek moet hier uit voordat die dokter opdaag. Kan jy jou groot mond nou hou?”

Saul pluk die broek oor sy heupe en laat glip die T-shirt oor sy kop.

Die ou kyk afkeurend in sy rigting, maar praat nie ’n dooie woord verder nie.

“Baie dankie vir jou samewerking,” sê Saul sarkasties en verlaat die saal.

Sy kop swaai heen en weer voordat hy vasbeslote na die hysbak beweeg.

Die pyn in sy arm klop soos vuur teen die tyd dat hy die grondvloer bereik. Hy byt op sy tande. Hy moet uithou.

Die meisiekind met die swart hare spook by hom.

Hy gaan nie rus totdat hy haar vind nie. Dan gaan daai bliksems een vir een betaal, kom wat wil.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters