2 maande gelede
Kapokkie sien uit na Krismis ná ses jaar se tronklewe
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis mos nou festive, met heelwat vakansiedae in-between. In die feestyd plaas ons korterige kortverhale. Een daarvan is CHRISTO MEYER se ’n Dag voor Kersfees. Geniet dit!

24 DESEMBER 2018.

Toe Kapokkie by die hekke van die Goodwood-gevangenis uitstap, waai ’n ligte windjie teen sy gesig.

Sy hart borrel oor van opgewondenheid.

Hy steek vas, sluit sy oë ’n paar sekondes en haal diep asem.

Hierdie is die dag waarna hy 72 maande lank uitgesien het. Die dag van sy vryheid.

Hy vou sy hande en stuur ’n skietgebedjie na bo.

“Here, dankie dat U my lewendig uit hierdie vervloekte plek gebring het. Help my om nie weer soos ’n dwaas op te tree nie, asseblief.”

Hy sug van verligting. As hy nooit weer die binnekant van ’n tronksel hoef te sien nie, sal dit heeltemal te gou wees.

Die tronk is nie ’n plek vir sissies nie. Dít het hy op die harde manier geleer.

Hy raai niemand wat nog nooit daar was aan om soontoe te gaan nie. Dit is nie die moeite werd nie.

As hy net die tyd kon terugdraai ...

Net diegene wie se harte sterk genoeg is, kom heel aan die ander kant uit. Die res maak as gebroke siele ’n terugkeer na die same­lewing.

Sy hart was gelukkig sterk genoeg. Hy het niemand toegelaat om oor hom te loop en het vir niemand teruggestaan nie.

Geharde bendelede het hom probeer sag maak, maar Kapokkie het hom deur niemand laat intimideer nie.'

Hy was te ontsteld omdat hy tronkstraf moes uitdien vir ’n misdaad waarby hy nie regtig betrokke wou wees nie.

Gelukkig het hy net ses jaar gekry.

As hy nie staatsgetuie gedraai het nie, sou hy ook seker soos die res tot 15 jaar of meer gevonnis gewees het.

Maar ses jaar het ook nie in ’n oogwink verbygegaan nie. Dit was die moeilikste jare van sy lewe.

Hy is klaar met misdaad. Daai is ’n belofte waarby hy gaan hou.

Hy moes in die eerste plek nooit agter tralies beland het nie.

Net die gedagte daaraan maak hom woedend. Hy koester egter geen wraakgedagtes nie.

Hy kan immers niks verander aan die jare wat agter hom lê nie.

As hy ’n keuse gehad het, sou hy nooit daardie Saterdag saam met Franklyn en die ander die selfoonwinkel in N1 City beroof het nie.

Hulle het gedreig om sy familie leed aan te doen as hy nie saamspeel nie.

Hy kon nie toesien dat sy vlees en bloed seergemaak word nie en het teen sy sin ingestem.

Franklyn was in daardie stadium bekend as iemand wat petrolbomme na mense se huise gooi en so iets kon Kapokkie nie laat gebeur nie.

Sy ma was hoeka ’n asmalyer en sy seuntjie was maar ’n paar maande oud.

Kapokkie loop haastig in Voortrekkerweg af in die rigting van Vasco-stasie.

Hy wonder of die treindienste al verbeter het sedert hy tronk toe is.

Hy hoop so, want hy wil net by Zelna en sy kind in Scottsdene uitkom.

Sy het hom ’n paar keer in die tronk kom besoek, maar nie so gereeld soos sy medegevangenes se lewensmaats nie.

Sy voel seker nie gemaklik nie. Kan hy haar kwalik neem?

Sy is ’n dame wat nie so iets van hom verwag het nie.

Hy sal opmaak vir sy sonde. Sy moet hom net kans gee om homself te bewys.

Hy is nou eers 35 en kan nog iets van sy lewe maak. Dis nog nie te laat nie.

Hy wil haar verras. Sy weet nie hy is vandag vrygelaat nie.

Gaan sy bly wees om hom by die huis te hê? En hoe gaan sy klong reageer?

Die knapie kon nog nie praat toe hy opgesluit is nie. Hy sien veral uit na môre.

Dit gaan lekker wees om Krismis by sy mense te wees.

Hy nader ’n groepie straatslapers op ’n sypaadjie.

Hy hoor hoe hulle onder mekaar stry. ’n Ouerige vrou beskuldig ’n jonger man van diefstal. Dié ontken dit heftig.

Kapokkie skud sy kop.

Sekere dinge verander nooit, al gaan hoeveel tyd ook verby.

Sonder ’n woord loop hy verder, in die hoop dat daar iewers ’n organisasie is wat vir hierdie mense môre ’n Kersete gaan voorberei.

Hulle verdien ook om op Kersdag bederf te word, al is hulle nie saam met familie nie.

Dis stil op Vasco-stasie. Kapokkie kyk rond. Hy het lus vir rook.

Hy loaf ’n sigaret by ’n security guard, wat een uit sy pakkie haal.

“Het jy dan nie bonus gekry nie?” vra die man.

“Ek is nie so lucky soos julle nie,” antwoord Kapokkie, maar hy brei nie uit nie.

Dis nie nodig dat almal sy besigheid weet nie.

“Weet jy miskien hoe laat kry ek ’n Kraaifontein-trein?” verander hy die onderwerp.

“Oor vyf minute. Die treine loop nogal op tyd in die festive season.”

Die trein arriveer en Kapokkie klim in.

Daar is oorgenoeg sitplek, maar hy verkies om te staan.

Die deure swaai toe en die trein vertrek.

Op Elsiesrivier-stasie klim vier verdagte mans in.

Kapokkie is dadelik op sy hoede. Hulle lyk sommer na moeilikheidmakers.

Skaars ’n minuut later begin die mans die pendelaars beroof.

Hulle dring aan op selfone, kontant en enigiets van waarde. Vroue en kinders gil.

Kapokkie weet hy moet iets doen. Hy kan nie net toekyk nie.

Hy kan sien die jongens is daarop uit om geweld te gebruik as hulle nie hulle sin kry nie. Daarvan getuig die skerp messe wat hulle omhoog hou.

’n Middeljarige vrou sit haar teë. Sy klou verbete aan haar handsak terwyl ’n skurk dit probeer afvat.

Kapokkie draf nader. Hy besef dit kon sy ma gewees het.

“Los die vrou se handsak!” raas hy met die skurk.

In ’n oogwink sak die ander drie op hom toe. Hulle skop en slaan hom en toe hy val, takel hulle hom met die messe.

Kapokkie veg verbete, maar die oormag is te groot. Die rowers is genadeloos.

Hy smeek dat hulle ophou, maar niemand slaan ag nie.

Hy dink aan Zelna en wonder of hy haar ooit weer gaan sien.

Die meshoue hou eers op toe die trein op die volgende stasie tot stilstand kom.

“Merry Krismis!” hoor hy die een skurk laggend sê voordat alles om hom meteens pikdonker raak ...

 Slot

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters