15 dae gelede
Kaapse Vlakte is in rep en roer oor vredesgesprekke
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die polisie krap kop terwyl Die Groot Vyf steeds onder misdadigers op die Kaapse Vlakte maai. Van dikding drug dealers tot gangsters en verkragters. Ook dié gemorste wat die kloue van die gereg vryspring. Brian September, die baasbrein van Die Groot Vyf, is woedend dat die provinsiale minister van polisie nou vredesonderhandelings met gangsters en drug dealers wil voer. Hy try om ’n plan daarteen uit te werk. Geniet hoofstuk 6 van “Die Groot Vyf is Terug” van SALMON SMITH.

‘BOETA S, jy gaan met jou skerpskutter-geweer iewers op ’n dak, ’n ent van die gemeenskapsaal in die Bontas, lê,” verduidelik Brian nou Samuel Geduldt se rol in Die Groot Vyf se volgende missie.

“Skroef jou silencer aan die loop en skiet elke bendelid en drug dealer vrek wat by daai Hermanus se sogenaamde vredesonderhandelings opdaag.

“Almal wat daar opdaag, is misdadigers.

“Sodra ’n high-flier daar voor daardie saal se ingang uit sy grênd kar klim, pot jy hom in die kop.

“Die res van ons gaan daar iewers tussen die crowd wees.

“Sodra pandemonium daar losbreek, dan gooi ons ’n paar rookgranate in die saal en tussen die skare.

“Dit sal almal daar, die polisie ingesluit, vir ’n tydjie disoriënteer sodat ons almal kan wegkom.

“Die dae van soebat en smeek is verby.

“Ons gaan daardeur vir hulle wys ons boodskap is duidelik – jy onderhandel nie met misdadigers nie!”

“Niemand, maar niemand – nie eens die regering – onderhandel met misdadigers nie!”SATERDAG klokslag 13:00 daag die provinsiale minister van polisie, Dale Hermanus, met sy gevolg by die Bonteheuwel Gemeenskapsaal op vir die vredesonderhandelings.

Die plek wemel van polisie­beamptes, nooddienspersoneel en beamptes van disaster risk man­agement.

Die sekuriteitsmaatreëls is baie streng.

Geeneen van die inwoners word op die perseel van die saal of die parkeerterrein daarnaas toegelaat nie.

Die inwoners drom buite in die straat saam en rek hulle nek om te sien watter groot bendeleiers in fancy karre opdaag.

Hier en daar hardloop ’n koerantfotograaf rond vir ’n foto of twee.

’n Televisiespan staan buite by die hek met hulle kamera en mikrofoon en voer onderhoude met die inwoners.

Sommige lede van Operasie Stoppit is ook iewers tussen die skare en ’n paar is in die saal om uit te kyk vir enige verdagte persone wat dalk bande met Die Groot Vyf het.

En al die rolspelers is op ’n gereedheidsgrondslag ingeval enige iets gebeur.

Niemand sien die vier lede van Die Groot Vyf wat ook saamsmelt met die skare nie.

Brian se oë is nou gerig op die drie lang, pikswart limou­sines wat in Bluegumstraat afgery kom.

Sommer onmiddellik besef hy in daardie voertuie is die leiers van die groot Kaapse bendes.

Die skare raak stil toe hulle ook bewus raak van die naderende limousines.

Die bestuurders druk op hulle fancy hooters om die skare te waarsku om uit die pad te beweeg toe hulle naby die ingang van die gemeenskapsaal kom.

“Haai, kyk dis Arthur Bentley!” roep ’n antie skielik uit toe die voorste limo naby die hek is.

Almal rek hulle nek om ’n kykie te kry van die groot leier van die Apache Boys wat Mitchells Plain so pasellie.

“Kyk, daar is Jonas Velaphi ook!” gil nog een toe die limousine van die groot druglord van Guguletu kort op Arthur Bentley se gat aankom.

“Aweh, boeta Blue!” groet ’n ou met ’n koerantpapier-gesig die leier van die Hart-to-Kills van Valhalla Park in die derde limo.

Al die groot boewe en hulle gevolg waai vir hulle “ondersteuners” deur die oop vensters van die limousines terwyl hulle tussen die skare deurry en die perseel van die gemeenskapsaal binnery.

Brian se oë is yskoud terwyl hy die petalje gadeslaan.

“Kyk, die mense behandel die gemorste asof hulle celebs is,” sê hy aan Johnny Vercuil, wat langs hom staan.

“Dít is hoekom die vuilgoed so arrogant is,” kap Johnny terug. “Kyk, hulle gaan nou parkeer en uitklim.”

Brian draai sy gesig na die gebou se dak waar Samuel Geduldt met sy swaarkaliber-skerpskutter-geweer lê.

Van hier af kan hy nie sy kameraad so lekker sien nie, maar hy weet Samuel kyk op dié oomblik deur sy sterk teleskoop en wag dat die high-fliers uit die motors klim.

Hy draai sy gesig weg en kyk vlugtig na waar Clint Daniëls en Henry Maarman op hulle strategiese plekke staan.

Uit die hoek van sy oog sien hy nog grênd karre doer in Bluegumstraat aankom.

Hy weet sommer onmiddellik dit is nog grootkoppe in die misdaadbedryf wat in aantog is.

Skielik gaan die skare mal.

Hy swaai sy kop in die rigting van die drie limousines en sien die drie gang leaders is besig om uit die motors te klim.

Soos wafferse celebs omhels Arthur Bentley, Jonas Velaphi en boeta Blue mekaar en wuif vir die skare.

Hulle holborsel bodyguards staan die hele plek vol en gluur die skare deur hulle donkerbrille aan.

Brian hou sy asem op. Hy weet die k*k gaan nou enige oomblik spat.

En toe gebeur dit.

Asof in slow motion sien hy hoe die swaarkaliberkoeël deur Arthur Bentley se kop ploeg.

Bloed en harsings spat die hele wêreld vol.

Stadig kantel die dikding se groot, logge liggaam grond toe. Dit lyk asof iemand nou die lewe se pause-knoppie gedruk het.

’n Doodse stilte daal neer en almal staar na die lewelose liggaam van die groot bendeleier.

Dit lyk asof almal teenwoordig nou probeer sin maak van wat so pas hier gebeur het.

Niemand daar het ’n skoot gehoor nie.

Hulle het net gesien hoe die bloed spat en hoe Arthur Bentley omkantel.

Toe Jonas Velaphi ook met ’n oopgebarste kop grond toe val, besef die omstanders hier is nou groot k*k.

Gille klink op en die holborsel bodyguards probeer vinnig ’n laer om boeta Blue trek, maar dit is te laat.

Boeta Blue se brein en bloed spat oor hulle toe nog ’n koeël die wêreld van ’n nuttelose etter verlos.

Tóé breek pandemonium los.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters