2 maande gelede
Julian se hartjie bokspring toe hy die mooi girl sien
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons begin vandag ’n splinternuwe verhaal. Romi en Julian is ELDRIDGE JASON se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk.

HY WIL huis toe.

Hy smaak nie vir hierdie jaart waarheen sy vriende hom geforce het om te kom nie.

“Net een biertjie, man,” soebat Lange hom. “Ene en dan lines ons huis toe.”

Die ene het twee, drie en ’n vrag biere op hulle tafel geraak.

En toe die jukebox beginte klop, is daar geen keer aan sy vriende nie.

Lange trek glad sy hemp uit en raak aan die jazz met ’n meisie toe Santana se “Maria Maria” begin speel.

Julian gaap. Hy is baie moeg, jarrie.

Hy het dié week mos hard gewerk en wil in die kooi kom.

Maar alleen huis toe kan hy anyway nie nou meer stap nie. Nie met al die rowers wat in die donkerte skuil nie.

“Koep nogge paar biere,” sê Lange kliphard in sy oor.

Julian gril toe hy voel hoe die spoegdruppeltjies van Lange se Black Label-asem teen sy wang spat.

Lange het al sy hele pay-pakkie uitgeblaas op ’n girl wat nou met iemand anders jazz.

Nou wil hy wat Lange is in sý kroon klim? Hell no!

Elke fortnight se ding van Lange, dink Julian gegrief.

’n Girl fladder net haar wimpers, wys ’n bietjie boobs en lag vir Lange se flou kaarte, en dan koop hy drank asof dit uit die mode gaan.

Maandae loaf hy entjies by almal in hulle span.

En so word almal leeg gerook tot die volgende fortnight wanneer Lange hom net weer broke hier by Suzie se jaart kom suip.

Lentils, hulle ander tjommie, sit sturvy-dronk langs Lange.

Julian kan nie verstaan hoekom Lentils met hulle uithang nie.

Lentils praat byna nooit, koop net losse entjies en het nog nooit ’n girl hier gechise nie.

Hy wat Julian is, vermoed Lentils speel vir die ander team, maar hy het nie bewyse daarvoor nie.

Behalwe dat Lentils likes om toilet toe te gaan elke keer wanneer Lange gaan pee.

Dalk om sy voël dop te hou?

Julian sug swaar. Sy vriende en hulle gedrag maak hom moeg.

Dis nie lank voordat Lange gaan begin lastig raak en ’n fight gaan soek oor ’n girl nie.

Hulle outing hier eindig mos maar altyd in ’n bottelkop-steek.

“Soe, gaan djy die biere koep, of wat?” skreeu-vra Lange bo die musiek.

Julian grawe in sy sak en bring ’n R100-noot te voorskyn.

“Hierdie is die laaste,” sê hy stug. “As die biere op is, gaan ons huis toe.”

“Die aand het dan noggie baard nie,” protesteer Lange.

“Ja, die ding begin dan nou eers ruk,” chime Lentils ook in.

“Jy lyk soos ’n ou wat ’n ruk wil vat, ja,” kap Ju­lian terug.

’n Trek van skuldgevoel sluimer in Lentils se oë en dié hou hom vinnig besig deur weer hulle glase vol te skink.

Julian hou Lentils se skinkery fyn dop.

Soos gewoonlik is die skinker die steler wat vir homself meer drank as vir die ander ingooi.

En Lentils is beslis nie die uitsondering nie, dink Julian toe hy sien hoe die bier in húlle glase met dié in Lentils se glas vergelyk.

Lange spring op met die R100 soos iemand wat die Powerball gewen het.

“Ek kom nou,” skree hy. “Ek gaan kry gou ses langes.”

Dis waar Lange se bynaam vandaan kom, onthou Julian.

Lange wil net lang biere suip en glo nie aan dumpies nie.

“Ek is mos nie ’n dummy nie,” is altyd Lange se verweer.

Maar hy wat Julian is vermoed Lange wil nie altyd bygooi vir ’n six-pack of twee nie. Veels te min drank na sy sin.

En veels te veel geld wat hy uit sy eie moet contribute.

Julian draai na Lentils. “Wanneer maak jy dan ’n dop?”

Lentils skuif nader. “Next time, broe. Ek promise.”

“Jy sê dan al heeljaar ‘next time’,” sê Julian en skud sy kop.

Dan draai hy na die smokkie se deur en sy hart gee ’n ruk.

Tussen al die dansende dronkies sien hy die mooiste girl wat hy al ooit in sy lewe op ’n jaart gesien het.

Sy het ’n rooi aandrok aan en die hare is lank uitge-GHD of ’n ding.

Dan ontmoet hulle oë.

Die meisie glimlag vir hom, maar ook net vir ’n wyle, want ’n reus van ’n jong sluit hom langs haar aan.

Julian sluk swaar aan die knop in sy keel toe hy die ou herken.

“Djy soek vir moeilikgeid,” sê Lentils hier langs hom. “Wiet djy wie se kin issit daai?”

Julian skeur met moeite sy oë weg van die meisie.

“Is Horrid se kin, my broe’.”

“Ek weet,” sê Julian en vererg hom.

“My broe, Horrid lattie met hom mors’ie. Ek het gehoor hy het laas wiek ’n anner bra na-k*k vol gate geskiet,” hou Lentils dik.

“Oe, hie kô groot k*k,” sê Lentils paniekerig toe Horrid, die meisie en twee ander ouens wat soos bodyguards lyk, in hulle rigting gestap kom.

“Is jou skuld dat ons vanaand vedala word,” sê Lentils beskuldigend.

“Ek is nog te young om te daai.”

“Hou jou blerrie bek,” sis Julian. Hy is lus om Lentils ’n paar klappe te gee, maar dan is Horrid en sy manskappe by hulle tafel.

“Sê vir Suzie om daai k*k musiek sagter te sit.

“Wie luister anyway nog na Mariah Carey?” gebied Horrid ’n bonkige ou wat dadelik omdraai om die opdrag uit te voer.

Dan draai Horrid na Julian. “Ek kon nie annis as om te notice djy loer vi’ my girl’ie.”

Julian skud sy kop.

“Wil djy dan vi’ my sê ek moet my f*kk*n oë Specsavers toe vat?” vra Horrid.

Weer skud Julian sy kop. Hy sien Lange aangeslinger kom met hulle biere.

“Aweh, Horrid,” sê Lange toe hy by die tafel kom.

Horrid se oë vernou. “Dis meneer Horrid vi’ jou.”

Lange se lag klink soos donkie­geluide.

“Lekke tatie djy, nuh,” sê Horrid en draai weer na Julian. “Moenie so met ’n bek vol tanne sittie.

“Skuif op soelat my girl daa’ langs jou kan sit. Hoe’s djy da?”

Julian skuif op, maar vermy oogkontak met die meisie.

“Ek is Romi,” sê sy en steek ’n hand na hom uit.

Julian steek ’n slap hand uit.

Lentils lyk soos iemand wat die begrafnis song “Weer ontmoet, weer ontmoet” sing.

“Ek gaan gou business met Suzie praat,” sê Horrid aan Julian.

“En as djy nie mooi na my goose kyk nie, kry djy met mý te doen ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters