2 maande gelede
Julian is geskok om te hoor van Romi se geheim
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Horrid vertel vir Julian hoe Julian se pelle Lange en Lentils met sy dwelms weggehardloop het. Dié nuus kom as ’n groot skok vir Julian. Maar ’n nóg groter skok wag op hom: Horrid wil hê hy wat Julian is, moet die twee opspoor. En as hy dit nie doen nie, gaan Horrid hóm vir die verlies verantwoordelik hou. Om veilig te speel, word die mooi Romi gevra om Julian te vergesel op sy soektog na Lange en Lentils. Hoe gaan Julian hom uit hierdie lelike penarie kry? Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE­ JASON se Romi en Julian.

‘SO, WAT maak ons nou?” vra Julian vies.

Hy kan Romi nie in die oë kyk nie.

Hy wat Julian is, kan nie glo dat ’n oulike meisie soos Romi haar met skuim soos Horrid besig hou nie.

Ja, die ou is nou wel haar broer, maar ’n mens het mos choices in die lewe.

Jy hoef jou mos nie met die ettersemels van society te meng nie.

“Ek dink ons moet eers na my plek toe gaan,” antwoord Romi.

Julian gaap haar oopmond aan.

“Ha-a!” sê sy vinnig. “Moenie kom gedagtes kry nie.

“Wat jy nodig het, is ’n koue shower en ’n lekker koppie swart koffie.

“Dáái is al way hoe ons jou sober gaan kry, dan kan jy miskien remember waar Lange en Lentils sal wees. As jy nie kan dink waar hulle is nie, is ons albei diep in die dinges.”

Julian snork hard deur sy neus. “Kanse!” sê hy. “Dis ék wat deur en deur in die dinges gaan wees.

“Jy is mos met die goue gangster-liepeltjie in die mond gebore.”

Romi kraai bo uit van die lag. Vir die eerste keer merk Julian haar oulike dimpels op.

“Ek is nie bloed van hulle nie,” sê sy. “My pa kon nie sy dwelmskuld betaal nie, toe maak hulle hom dood, vat my en maak my as een van hul eie groot.”

“Jy praat k*k,” sê Julian. En dan vervolg hy vinnig: “Askies, ek het nie bedoel om so lelik te praat nie, maar ek glo nie wat ek hoor nie.

“Jy praat dan oor die storie asof jy praat van botter op jou brood smeer.”

Romi haal haar skouers op. “ ’n Mens kan aanhou dat die seer ’n oop wond bly, of jy maak peace daarmee. Maar jy vergeet nie dat jy supposed is om eendag wraak te neem nie.”

Julian skud sy kop in ongeloof, maar daar’s ’n ernstige trek in Romi se oë en hy kry die feeling sy praat die waarheid.

Maar kan ’n mens ’n fraaie meisie vertrou wat in gangster-weelde grootgeword het?

Wie sê nie hierdie is net ’n toets van haar en Horrid om uit te vind of hy hulle regtig gaan help om Lange en Lentils om te spoor nie?

“Jy glo my nie?” sê-vra Romi. Maar voordat Julian kan antwoord, skakel sy die X5 aan.

In stilte ry hulle in die rigting van Belhar. By die verkeerslig naby die Airport Mall draai Romi regs.

Julian staar ingedagte na die Airport Mall. Hy kon dié plek se naam nog nooit verstaan nie.

Eerstens is dit nie eintlik op die voorstoep van enige lughawe geleë nie. En ’n mall? Please! Dis dan net Shoprite wat die plek aan die lewe hou.

Hulle ry verby die BP-garage. Verder aan om ’n draai sien Julian ’n paar tikkoppe kabel praat. Heel hiper­aktief aan die werk.

Romi sien hy staar en sê: “Darem hartseer as jou lewe so deur drugs verwoes word dat ál wat in jou mind oorbly, die instink is om te skarrel.

“My pa het só lewens verwoes. Ek was nog klein, maar ek onthou daar was altyd vreemde mense op ons jaart.

“En die boere het gereeld ons plek kom raid.

“Maar hulle het nooit iets gekry nie.”

“Hoekom nie?” vra Julian nuuskierig.

“Want die goed was sommer in my nappies gesaaf,” sê Romi.

“Imagine jy trek sommer ’n onskuldige kind by dié dinge in. Watter ouer doen dít?”

Julian weet nie wat om te sê nie.

Romi draai by die tweede verkeerslig regs, ry aan verby die Northlink-kampus en kom dan tot stilstand by die UWK/CPUT verkeerslig.

Julian loer verlangend na die twee instansies se ingangshekke.

Hy het altyd hier in die taxi verbygekom en gedroom om hier te kom study.

Maar die lewe het nie tyd vir hom en sy jokes gehad nie en toe hy in graad 11 besluit om die skool en sy leerprobleme te laat vaar, was Fortnite-sindroom sy voorland.

Toe die robot groen word, trek Romi weer weg.

“Eendag het ’n kerk ’n opelugdiens in ons pad kom hou.

“My pa was so geroer deur die boodskap dat hy besluit het om hom te bekeer en nie meer Horrid se pa se drugs te verkoop nie.

“Niemand was impressed met hom nie en dit was nie lank nie, toe kom die ouens en rand my pa aan en skiet hom voor my en my ma dood.”

Julian trek sy asem skerp in. “Voor jou?”

Romi knik en byt op haar onderlip.

“Ek ... ek onthou nog die smekende kyk in my pa se oë en toe ... toe is daai oë net dof.

“Daai oë wat so lekker kon saamlag as hy my in die rondte geswaai het ...”

“Ek is jammer, ek ...”

Julian weet nie wat om te sê nie.

“Moenie jammer wees nie,” sê Romi en swaai regs in Kasselsvlei-rylaan af. “Ek huil lankal nie meer oor daardie dag nie.

“Horrid se pa het my ’n goeie lewe gegee en my alles gegee wat ek in die lewe wou hê.

“Maar hy kon my die één ding nie gee wat hy uit my lewe gesteel het nie – my eie pa.”

By Durhamstraat draai sy regs en hou ná sowat 300 m voor ’n huis stil.

Sy skakel die X5 af en draai haar na Julian.

“My ma bly hier. My biologiese ma.

“Ek het haar ná jare se gesoek opgespoor en sy het my remind aan daai dag toe sy haar husband verloor het.

“My pa is vermoor omdat hy nie meer bereid was om ander se lewens met drugs te verwoes nie.

“En dis hier waar jy inkom: Jy kan hier uit die kar uitspring en ek sal net vir Horrid-hulle sê jy het ’n get geslaan.

“Of jy kan my help om gemorste soos Horrid en sy broers finally uit die weg te ruim.

“Is jy in?”

Julian staar na haar. Hy voel asof die erns in haar oë hom intrek, wil meesleur, wil betower.

Daar is geen gesoebat in haar oë nie, net vasberadenheid. Hierdie meisie gaan met of sonder hom haar mission voltooi, daai weet hy.

Maar hy weet ook hy kon nog nooit nee sê vir ’n mooi girl nie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters