Verlede maand
Jules se besoeker kom soos ’n ware dief diep in die nag
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ai, jinne! Waarin het Jules hom dan nou begeef? Sy besluit om die cops te help om ’n waterdigte saak teen die omstrede sekte-leier, Alexander de Grootte op te bou, het dan nou gemaak dat hy wat Jules is deur die polisie gesoek word. Om alles te kroon, kry hy ’n oproep van die einste De Grootte met die promise dat hulle binnekort gaan ontmoet. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

JULES rol in sy bed rond.Die slaap wil net nie kom nie. Dit voel vir hom asof Klaas Vakie net so kwaad is vir hom soos wat die mense vir Eskom is.

Hy is rusteloos.

Dis nie asof hy nie moeg is nie. Dis sy mind wat nie wil ophou dink nie.

Die TV-nuusbulletin en die oproep van Alexander de Grootte het hom meer ontstel as wat hy verwag het. Maar wat anders het hy dan nou ook expect?

De Grootte en sy sieninge van godsdiens druis teen alles in wat Jules glo.

Hy was seker so 10 jaar oud toe hy definitief geweet het dat hy eendag ’n sielewerwer wil wees.

Hy het eerstehands die seer in sy gemeenskap aanskou, die blou kolle op sy maatjies se lywe gesien soos wat hulle verrinneweer is deur tikverslaafde ouers, en hy het geweet: Hy sal sy deel moet doen om die seer te help genees.

Maar soos alles in die lewe, het hy ook maar sy ups and downs gehad wat sy geloof laat wankel het.

Die dood van sy vrou en die impak wat dit op hul dogter, Kia, gehad het, was die laaste strooi.

Jules spits sy ore. Verbeel hy hom of hoor hy ’n geluid? Hy sug en draai hom weer op sy ander sy.

Dis diep nag. Sy kop smokkel met hom. Die geluide wat hy hoor, is na alle waarskynlikheid sy lyf wat protesteer teen Klaas Vakie se go slow-protesaksie.

Hy maak sy oë toe. Hy mis haar so verskriklik baie. Kanker het hom die groot liefde van sy lewe, sy steunpilaar, ontneem.

Sy oorle’ vrou sou geweet het hoe om Kia te handle. Hy wat Jules is, kan mense vertel van die wonderwerke wat God in jou lewe teweeg kan bring, maar hy weet nie hoe om met sy rebelse tienerdogter te werke te gaan nie.

Daar … daar is daai geluid weer. Hy is regtig besig om soos ’n professionele tikkop tokkies te vang. Hy het tog al die deure gesluit – dubbeld seker gemaak, want in vandag se tye het mense nie respek vir ander se besittings nie.

Ai, die vyand is net daarop uit om te roof, plunder en te verwoes.

Dis die einste vyand wat hom nou wil wysmaak dat daar vinnige voetstappe op pad na sy bed is en … Dan voel Jules ’n hand om sy mond klem. ’n Angs pak hom beet, maar dan voel hy ’n ander paar hande wat hom om die skouers beetkry.

Die onuithoudbare reuk van chloroform begin sy neusgaaie kielie …

BRIG. Mthembu gluur Justice Moloi aan.

Justice weet as “vuilkyk” ’n persoon was, dan was dit in die vorm van sy baas wat oorkant hom ’n heavy panga-kyk na hom gooi.

“Jy sê Jules is nie by die huis nie?” herhaal Mthembu sy vraag van vroeër.

Moloi skud sy kop. “Nee, Brigadier,” sê hy dan in ’n onderdanige stemtoon.

“Daar is geen teken van Jules nie. Ek het ook al self gaan kyk.

“Ek was besig om my laitie met sy skoolwerk te help en sien toe eers later ’n missed call van Jules op my phone.

“Toe ek terugbel, het sy selfoon straight voicemail toe gegaan.”

“F*kk*t!” vloek Mthembu en slaan met sy vuis hard op sy lessenaar.

“Dalk het hy koue voete gekry en weggehardloop?” vra hy hoopvol.

Moloi skud sy kop.

“Ons forensiese ouens het tekens van forced entry gekry. En Jules se huis – veral sy slaapkamer – is deurmekaar. Veral in die slaapkamer is daar tekens van ’n gestoei.

“Enkele druppeltjies bloed is ook gekry. Darem nog veels te min om daarop te dui dat iemand ernstig seergekry het, Brigadier.

“Maar dit lyk nie goed nie. Ek ken Jules al jare. Hy is nie ’n papbroek nie.

“Ek dink hy sou ’n bietjie pissed gewees het oor die TV-storie en dis seker hoekom hy my gebel het. Maar weghardloop? Daai klink nie soos die Jules Jacobs wat ek ken nie.”

Mthembu klik sy tong.

“Mense verander. Jy dink jy ken mense, dan laat hulle jou liederlik in die steek.”

“Nie Jules Jacobs nie,” sê Moloi vol oortuiging.

“Hy sou nie die easy way out vat en sy dogter net so los nie. Daai twee het groot problems, maar hulle is lief vir mekaar en sal nie mekaar in die steek laat nie.”

Mthembu vryf oor een van sy blessies. “Waar laat dit ons plan nou? Dink jy De Grootte het snuf in die neus gekry?”

Moloi trek sy skouers op.

“Moeilik om te sê, Brigadier. U weet self ons was baie versigtig, maar ons weet nie hoe ver De Grootte se kloue strek nie. Kom ons wag ’n dag of twee en kyk wat gebeur. Ek weier om te glo ons plan het gevou nog voor dit ten volle in werking gestel kon word.”

“Nou, moenie hier sit en ginnegaap nie!” blaf Mthembu skielik. “Jy word nie betaal om op jou gat te sit nie. En as jy next time na my toe kom, beter jy goeie nuus het.”

Moloi vlieg van die stoel af op. Hy is tog te verlig om uit sy bevelvoerder se kantoor te kom.

Mthembu moet laaste praat van heeldag op sy gat sit, dink Moloi vies. Maar hy het inderdaad werk wat op hom wag.

Hy het Mthembu nie als vertel nie. Noem dit ’n hunch, maar hy voel nie gemaklik om sy baas in te lig oor al die leidrade wat hulle by Jules se huis gekry het nie.

Nou moet daai uitslae net kom sodat hy doodseker kan wees …

JULES maak sy oë met groot moeite oop. Sy ooglede voel swaar.

Hy moet sy oë ’n paar keer knip om aan die effense donker gewoond te maak.

Hy is op ’n bed. Hy wil opstaan, maar besef dan met ’n skok dat sy hande vasgebind is. En sy voete. Hy ruk-ruk aan die toue.

“Dit gaan jou niks in die sak bring nie,” sê ’n bekende stem.

Jules wip van die skrik. Eers nou maak hy die silhoeët-figuur uit wat nie ver van hom sit nie.

“Ek vra om verskoning dat ons jou nie op ’n aanvaarbaarder wyse hierheen kon bring nie. Ek neem aan jy weet wie ek is.”

Jules knik. Sy keel is droog.

“Ek dink jy het die potensiaal om een van my beste dissipels te word,” sê Alexander de Grootte.

“En as jy open-minded is vir my waarheid, kan ons jou dogter ook vir jou gaan haal.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters