Verlede maand
Jules ontvang ’n oproep wat hy glad nie verwag
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI Sonlanders! Alexander de Grootte is ’n sekte-leier wat Jules Jacobs se dogter in die hospitaal laat beland het. Die cops vra Jules om hulle te help om De Grootte vas te trek, maar dan sal hy involved moet raak by dinge wat hy – eens ’n Godsman – nooit gedink het om te doen nie. Maar is Jules opgewasse vir die taak? Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

‘ENNOU nuus so pas in: ’n Voormalige predikant, Jules Jacobs, het op die vlug geslaan nadat die polisie dwelms ter waarde van R15 miljoen in sy huis gevind het.

“Volgens ’n Valke-woordvoerder het hulle ’n anonieme wenk ontvang dat Jacobs ’n groot besending dwelms in sy huis versteek ...”

Jules se mond hang oop terwyl hy na die nuus luister. Hy het pas by die huis gekom en wou net ’n bietjie ontspan deur die nuus te kyk.

Mthembu en Moloi het mos nie gespeel nie. Ja, hulle het hom meegedeel dat daar ’n plan is om hom te diskrediteer, maar so gou al?

“Niemand weet waar die dominee hom tans bevind nie,” gaan die nuusleser voort.

“Jacobs se dogter, Kia, is in ’n hospitaal onder streng polisie­bewaking. Daar word vermoed dat Jacobs sy eie dogter om die lewe wou bring omdat sy glo sy dwelmnes wou oopvlek.

“Ons het betroubaar verneem dat Jacobs ekstremistiese neigings toon en sy kerklede aangehits het om die kerk in sy huidige formaat te verwerp.

“Jacobs het glo tydens kerkdienste gereeld verwys na Lucifer, die Bybelse Satan, as die mensdom se enigste redder ...”

Jules sien die nuusleser se lippe beweeg, maar hy luister nie meer verder nie. Sy gedagtes is in ’n spin.

Sy eie dogter probeer vermoor? ’n Afvallige aanhanger van die duiwel? Was dit nodig vir Moloi-hulle om die pap so dik aan te maak?

Vader! Sy ma ... sy ma is ’n bejaarde vrou wat in daardie sta­dium van haar lewe is waar sy elke dag met die dood flirt.

As sy hiervan te hore moet kom ...

Jules beur haastig sy selfoon uit sy broeksak en skakel Moloi se nommer.

“The number you have dialed is not available at present ...”

“F*k, f*k, f*k!” vloek Jules kliphard en smyt sy selfoon op die rusbank.

Hierdie ding gaan hom verwoes, om nie eens van Kia te praat nie. Wat gaan haar skoolvriende hiervan sê?

Hulle naam gaan weer die hele wêreld vol stink!

Jules byt op sy onderlip. Daar is nie nou omdraaikans nie. Sy paadjie is vir hom uitgelê.

Hulle toekoms lyk donker en daar is geen waarborg dat hy eendag sy naam in ere sal kan herstel nie.

Kia. Hy kan nog die punches van die lewe vat, maar wat van haar?

Ná Rachel se skielike dood was alles net te veel vir Kia.

Hy vermoed dat dit hierdie verlies en seer was wat haar in die eerste plek ’n maklike prooi vir Alexander de Grootte en sy kerk gemaak het.

Rachel se dood het Kia gebreek, bitter gemaak vir die Woord.

Ná Rachel se begrafnis het hulle baie aande vasgesit oor Kia gevoel het God het haar ma van haar gesteel.

“Watse God claim hy is lief vir jou, maar dan steel hy die mens vir wie jy die liefste is?” het Kia gal gebraak.

En toe gaan sy nie meer kerk toe nie. Haar katkisasieklasse het sy net so opgeskop en kliphard verklaar dat sy klaar met die dinge van die nou paadjie is.

Toe kom die laat aande uit, die pikswart klere, die daggazolletjies wat sommerso never maaind in die huis rondgelê het.

En toe die nuus dat Kia by Alexander de Grootte se kerk in ’n ongeluk betrokke was.

’n Ongeluk wat toe niks anders as ’n overdose was wat haar amper haar lewe gekos het nie.

Jules wip van die skrik toe sy selfoon op die rusbank hard aan die blêr gaan.

Sy Hillsong-luitoon het hom nou diep laat skrik.

“How great is our God.”

Dit beter Moloi wees wat hom terugbel, dink hy vies.

Hy gryp die selfoon, maar frons toe hy op die selfoonskerm kyk.

Private number.

Hy druk vies die groen knoppie.

“Hallo?” vra hy bars. As hierdie ’n call centre agent is wat gebottelde suurstof aan hom wil verkoop, gaan hy sy moer strip.

Stilte.

“Hallo?” vra Jules weer. Hierdie keer harder. Daar is net ’n geruis aan die ander kant van die lyn.

“Luister hier,” sê Jules kwaad.

“As jy wil gaan speel, dan gaan speel jy met jou ma se ga-”

’n Lelike laggie klink meteens aan die anderkant van die lyn op.

“Nee wat, mens kan hoor jy is nie meer ’n beloved nie,” sê die diep stem.

Jules voel ’n krieweling langs sy ruggraat afhardloop.

Daai stem. Hy het dit al vante­vore gehoor.

“Wie praat nou?” probeer Jules hom dom hou.

Die man lag weer. ’n Lekker, diep lag uit die krop van sy maag.

“Ai, kom nou, vader Jacobs. Hou die man hom dan nou dom?

“As jy lieg, steel jy. En as jy steel, dan pleeg jy ’n sonde. Jy behoort te weet dat die loon van die sonde die dood is.”

“Ek stel nie belang in ’n preek nie,” antwoord Jules kortaf. “Ek is klaar met die kerk. Klaar!”

“Maar dis net die nuus wat ek wil hoor. Ek neem aan jy weet wie ek is?”

“Alexander de Grootte?”

“The one and only,” antwoord Alexander vol van homself.

“Is daai dan nie ’n hotel nie?” kap Jules terug.

Hy hoor hoe Alexander grinnik. “Slim, baie slim. Ek wou jou net bel en persoonlik sê dat ek baie trots op jou is en wie weet, dalk ontmoet ons mekaar binnekort face to face.”

“Waar kry jy my nommer?” vra Jules.

“My vriend, jy ken nog min jokes,” antwoord Alexander ontwykend.

“Jy sal nog leer dat ek orals oë en ore het. Jy is by ’n kruispad. Ek weet dit.

“En ek weet ook dat jy by daai kruispad gaan stagneer as jy nie jou hand uitsteek en my hulp aanvaar nie.

“Ek is die waarheid – die weg na ’n beter lewe.”

“Dis wat die ANC ook gesê het, en kyk nou,” kap Jules terug.

Alexander kraai uit van die lag.

“Ek en jy gaan lekker saamwerk. Ek het ’n spesiale taak vir jou,” sê hy en beëindig dan die oproep.

Jules haal sy selfoon weg van sy oor en staar daarna.

Alexander de Grootte het gebyt, dink hy opgewonde. Die duiwelse vis het gebyt ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters