17 dae gelede
John Boere leer ’n sware les in 9 mm-bullet-klas
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Nadat Die Groot Vyf ’n groot stokkie steek voor die polisieminister se naïewe droom van vredesonderhandelinge met die gangsters, vestig hulle hulle aandag op ’n road trip na Avian Park. Mense het nogal in die koerant gevra die Groot Vyf moet kom hand bysit daar waar die JCB’s en die Dog Trash mense terroriseer met hulle kinderagtige bendeskietery. In Riverview maak die Vyf ’n paar Dog Trash-manne morsig sat, maar wat hulle nie weet nie, is dat ’n figuur hulle uit die skadu’s dophou – en ongemerk agtervolg toe hulle pad vat in die rigting van Avian Park. Geniet nou die slothoofstuk van “Die Groot Vyf Is Terug” van SALMON SMITH.

DIS net so voor 20:30 toe Die Groot Vyf in Mockingbirdstraat naby die groot dubbelverdieping-huis van John Boere stilhou.

Dis ’n monument gebou met bloedgeld, kom dit by Brian op.

Drie jongens staan daar voor die groot metaalhekke en kyk agterdogtig na almal wat dit waag om daar verby te loop. Daar is kameras oral op die mure.

Brian draai na Clint. “Boeta C, gaan doen jou ding soos ons beplan het!”

Clint wip uit die voertuig, trek sy keppie laag oor sy oë sodat hy nie later in sy eie CCTV show speel nie, en kom na die drie jongens toe aangerol.

“Aweh, ouense! Ekke soek ’n pakkie tik, man!” sak hy af.

Die skollies kyk hom agterdogtig aan. “Auw, wie’s djy?!” sak een met ’n groot JCB-tatoe op sy voorkop af. “Ekke ken nie vi’ djou nie.”

Clint sien die ou hou ’n remote vir die groot motorhek in sy een hand vas.

“Nei, kykie, ouense, ekke is mos een van Die Groot Vyf!” sak hy sommerso prontuit af.

Dié aanslag smaak die gewenste uitwerking te hê, want die moegoes skrik hulle k*k koud toe hulle dít hoor.

Hulle kyk grootoog na mekaar en hulle vuil, stink bekke hap soos goudvisse s’n oop en toe van skok.

Clint maak gebruik van die kans en stuur vinnig drie koeëls deur hulle tikbenewelde harsings.

Vinnig gryp hy die remote uit die jong se hand. ’n Oomblik later skuif die groot hek geruisloos oop.

Binne mol van die ander lollie-skollies vir die hek om die ou te soek wat nou so geskiet het.

Maar Brian jaag teen ’n spoed deur die oop hek en bo-oor twee van die jongens.

Die ander se oë rek groot toe hulle die gemaskerde manne by die voertuig sien uitspring.

Hulle gryp vervaard na hulle vuurwapens toe die skote begin klap. John Boere kom roekeloos na buite gehardloop.

Maar hy loop hom one time vas in Brian, wat hom na een van die toilette op die jaart sleep.

Daar binne pen hy die dik bendeleier op die vloer vas.

“W-wie is djulle om s-sommer soe in my plek te kom skiet?!” stotter die gemors dit uit.

“Ons is Die Groot Vyf, wat gemors soos julle uit die gemeenskappe verwyder! Jou en jou gang se paadjie loop net hier dood!” spoeg Brian dit uit.

Toe die skurk dit hoor, toe rek sy oë pieringgroot.

“O, my dooie moeder, kom help!” gil hy voordat ’n koeël uit Brian se pistool sy bek vir ewig snoer.

Toe Brian uit die toilet uitkom, kyk hy self vas in die bek van ’n pistool. ’n Vuilgevreet-skollie gryns­lag breed toe hy Brian se geskokte gesig sien.

Brian besef as hy nou enige verkeerde movement maak, gaan die skollie die sneller trek.

Maar dan ontplof ’n koeël deur die skollie se kop en hy val grootoog grond toe. Verbaas kyk Brian rond om te sien wie sy lewe gered het, maar so ver as wat hy kyk, sien hy net dooie skurke.

Hy sien sy manne is al in die voertuig, reg om te vertrek.

Hy hardloop na die voertuig en spring by die passasiersdeur in.

Voordat hulle by die hek uitjaag, gooi hy ’n petrolbom na die huis. Hulle jaag deur ’n skare mense wat buite in Mockingbird­straat vergader.

Vaagweg hoor hulle hoe die skare vir hulle cheer.

Verder die straat af hardloop ’n man na sy motor en volg Die Groot Vyf weer op ’n veilige afstand.

Terwyl hulle deur Rawsonville ry, kry hulle kans om alles in oënskou te neem. “Dankie, manne, ons was weer topklas vanaand!” prys Brian. “Is enige een beseer?”

“Ek het net so ’n skrams wond oor my sy,” sak Johnny af.

“En ek het ’n vleiswond in my regterarm. Daai spul skiet maar k*k!” kom dit van Clint.

“By the way, wie het daardie skollie geskiet wat ’n gun teen my kop durf druk het?” vra Brian ewe skielik. Almal kyk hom verbaas aan. Hulle haal hulle skouers op.

“Nie een van ons nie,” sê Johnny.

“Anyway, dit maak nie saak nie. Gelukkig leef ek nog. Die Dog Trash en die JCB’s is vanaand ’n geweldige knou toegedien. Nog twee gemeenskappe is verlos van daardie nuttelose etters!” laat Brian hoor en lê behaaglik agteroor.

Toe die ander drie manne van Die Groot Vyf by hulle onderskeie woonplekke afgelaai is, gaan parkeer Johnny en Brian die voertuig in ’n stegie in Kensington.

“Ek gaan eers ’n dop drink hier iewers, boeta B,” sak Johnny af.

“Ek gaan maar vanaand vroeg inkruip,” sê Brian en loop na hulle shack in die begraafplaas.

Toe Brian die hok oopsluit, sien hy ’n figuur uit die hoek van sy oog. Instinktief reik hy na sy pistool.

“Hou jou hande waar ek hulle kan sien, Brian September!” beveel ’n ferm stem hom.

Brian se oë rek pieringgroot toe hy die man met die vuurwapen in die hand herken.

“Kolonel Vermeulen!” hyg hy dit uit.

Richard Vermeulen beduie aan Brian om binne te stap.

Binne kyk Brian moedeloos na Vermeulen.

“Hoe het jy my opgespoor, Kolonel?”

Vermeulen sit regoor Brian. “Toe ek te hore kom van die aanval by daai huis van daardie skurk wat verantwoordelik was vir die dood van jou vrou en die verkragting van jou dogter, het ek een en een bymekaargetel.

“Ek het besef jy sit agter ál die aanvalle. Ek het jou een keer opgemerk in ’n shebeen hier in Kensington en jou toe van daar af gemonitor.”

“Nou gaan jy my seker arresteer, nè?” vra Brian.

Vermeulen kyk lank na Brian. “Nee!” sak hy skielik af.

Brian se oë rek nou nog groter.

“Ek het ook my pos by Operasie Stoppit verloor oor ons betrokkenheid by die debakel daar in Bonteheuwel.

“Nou het ek ook f*kk*l oor.”

Hy staan op. “Gaan voort waarmee julle besig is. Julle doen goeie werk.”

Hy stap deur toe. Skielik draai hy om. “O ja, dis ek wat daai skurk daar in Avian Park vrek geskiet en daardeur jou lewe gered het,” sê hy, verdwyn na buite en los ’n verbaasde Brian agter.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters