6 dae gelede
Jinx twyfel sterk of Julia-hulle die regte ou vas het
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Jinx is glad nie baie opgewonde om sy ou squeeze, Julia Kearns­, weer te sien nie. Daarvoor is daar gans te veel history tussen hulle. Julia werk nou by Interpol en sê aan Jinx hulle staan op die punt om ’n kinderontvoering-sindikaat in die Kaap oop te vlek. En hy wat Jinx is, voeg sy by, sal sommer baie verbaas wees as hy moet weet wie die baasbrein van hierdie sindikaat is. Jinx het natuurlik ’n persoonlike belang by hierdie reeks ontvoerings, want jare gelede was hy aan die hoof van ’n ondersoekspan wat die verdwyning van twee girls van Mitchells Plain ondersoek het. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se “Skoonveld”.

‘JY SAL op jou rug val as jy moet weet wie agter hierdie kidnappings sit,” herhaal Julia.

Jinx lyk min impressed.

Hy trek in ’n lui beweging sy skouers op.

“Die mediese fonds is so sleg, ek kan nie afford om op my rug te val nie,” merk hy droogweg op.

“Maar om terug by die punt te kom: Jy sê julle het die wannabe kidnapper vasgetrek?”

Julia knik en vee ’n lastige haar uit haar gesig uit. “Smiley Jacobs. Ek neem aan jy ken hom?

“Hy het in ondervraging gegil soos ’n girl en toe getjank dat hy jou gaan vertel oor hoe sleg ons hom kamstig treat.”

Jinx se oë vernou.

“Ek ken vir Smiley. So skadeloos soos ’n vlieg.

“Lief om petty crimes te pleeg, but that’s about it. Ontvoerder? Lid van ’n sindikaat? Ek dink nie so nie.”

“Nou, hoekom sou hy ons dan van so baie info voorsien?” vra Julia half katterig.

Dit gaan glad nie goed by haar af dat Jinx nie juis met haar speurwerk beïndruk is nie.

“Hy het dinge vertel wat met ons eie ondersoek te make het. Goed wat g’n ander mense behalwe ’n paar van my ondersoekspan weet nie.

“Hoe verklaar jy daai?”

Weer trek Jinx sy skouers op. “Dit sal ek seker maar vir Smiley moet vra. Waar hou julle hom aan?”

Julia gee ’n vermakerige laggie. “Nice try, maar ons is nog nie klaar met hom nie.

“Ek het gedink ons kan saamwerk aan hierdie ondersoek omdat dit vir julle dalk antwoorde kon gee oor die ander meisies wat in Tafelsig weggeraak het.

“Maar dit is duidelik dat jy nog issues het en ons beslis nie sal kan saamwerk nie.”

Jinx staar haar woordeloos aan.

“So, gaan jy nou niks sê nie?” vra Julia ná ’n ruk.

“Gaan jy nou net hier staan met ’n mond vol tande?”

Jinx skud sy kop. “Ek sal jou seker nooit verstaan nie,” sê hy en sug swaar.

“As ek iets sê, dan het jy ’n issue daarmee. As ek stilbly, dan is dit ook ’n probleem.

“Daar is nog nie ’n World Cup tournament vir drama queens nie. So, kom ons hou asseblief net by die saak.

“Ek kan jou nou al sê ek is nie lus vir ’n diplomatieke oorlog nie, maar julle het nie die jurisdiction of toestemming om een van ons landsburgers aan te hou, of te ondervra sonder dat die SAPS by is nie.

“So, jy vat my either nou na Smiley toe, of die k*k gaan spat. Het jy my?”

Julia staar hom ’n oomblik verbaas aan en bars dan uit van die lag.

“Lyk my balls groei nou aan bome hier in die Kaap, want finally het jy ook ’n paar,” sê sy dan katterig.

“Oukei, oukei. Dis nie nodig om soos ’n ouvrou met ’n nat panty te perform nie.

“Kom ek vat jou na Smiley toe, maar dan moet ons sommer ’n draai ook gaan maak by die ouers van daai twee meisies wat nou nog witweg is.

“Ek wil hierdie saak so gou moontlik opwrap, want ek is nie van plan om ’n sekonde langer met jou saam te werk as wat dit nodig is nie.”

“My sentiments mos ook,” kap Jinx terug.

“Hierdie fênsie Range Rover hier buite is seker joune. So, ek stel voor ons ry met jou kar.”

“Fine,” antwoord Julia deur stywe lippe en gryp haar handsak.

“Ek hoop net jou h*l is gewoond aan luxury leer seats.”

IEWERS in ’n doodloopstraat in Constantia ry ’n lang, slap kar deur oop hekke.

Vir die ongeoefende oog sal dit lyk soos maar net nog ’n rykgat-omie wat daar bly.

Maar as jy fyn kyk, sal jy die gewapende mans in tuxedos sien wat almal op strategiese plekke staan.

Die voertuig hou voor die imposante ingang stil. Een van die tux-ouens kom vinnig nader ge­stap en maak die deur oop.

’n Ouerige bleskop-man klim stadig uit. Sy groterige kop blink, veral in die duike waar dit lyk asof bands soos Die Heuwels Fantasties gelam en hulle songs geskryf het.

Die man klim moeisaam uit. Buite die kar rek hy sy bene.

Hy het vinnig oud geword.

Kenmerkend van hom stoot hy sy bril terug op sy neus met sy middelvinger. Amper soos wat hy jare gelede die hele land hostage gehou het met sy dom laggie en langste van vingers...

“iSela, hoe gaan dit?” groet die wag beleefd.

Die ouman lag toe by sy bynaam hoor. iSela, Xhosa vir “skelm”.

“Moenie dat die res van die land hoor jy noem my so nie,” sê die ouman gemoedelik.

“Met dié dat die Springbokke nou die World Cup gewen het, het hulle lekker van my vergeet. He-he-he ...”

Die wag grinnik en wys na die ingang.

“Die ander wag reeds op u.”

“Almal hier?” vra die ouman.

Die wag knik.

“Daar is groot drama. Interpol het een van ons klein vissies gevang.

“Soos wat ons verstaan, het die ou dinge gepiemp wat dinge moeilik vir ons kan maak.

“Maar u sal meer daarvan by die ander hoor.”

Die ouman klik sy tong.

“Ons kan nie mense afford wat bos los nie. Weet ons waar hierdie ou aangehou word?”

Die wag knik. Die ouman loer oor sy bril na die wag.

Daar is ’n skelm, konkelende kyk in sy oë wat selfs vir Judas in vervoering sou hê.

“Die ander sal nie ’n probleem hiermee hê nie,” sê die ouman sameswerend.

“Maak so vyf ouens bymekaar, dan gaan haal julle daai jong uit.

“Moenie worry oor diskreet wees nie, die mense sal anyway net weer sê die hoë crime rate het toegeslaan. He-he-he ...”

Dan stap hy die kasarm van ’n huis binne.

Die wag drafstap weg om sy manskappe bymekaar te kry.

Gelukkig is die plek nie ver van hier nie, dink hy dankbaar.

Hulle het ’n licence to kill van die main konyn self gekry...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters