7 dae gelede
Jinx is geskok om te hoor dat die ondersoek vorder
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die speurder Jinx Joshua is glad nie impressed toe ’n konstabeltjie hom wakker bel met die nuus dat ’n kind verdwyn het nie. Maar dan verander Jinx sy tune wanneer hy hoor wie die saak by sy cop shop kom aanmeld het: die fraaie Julia Kearns. Sy is die girly wat destyds groot wrywing tussen Jinx en sy bevelvoerder veroorsaak het. Albei mans was smoorverlief op haar. Julia sê aan Jinx haar Interpol-base het haar na die land teruggestuur om die ontvoering van kinders te kom ondersoek. En dat nog ’n meisietjie in Mitchells Plain weggeraak het. Jinx haas hom na die polisiestasie om Julia te gaan sien. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se “Skoonveld”.

JINX sien Julia al van ver af toe hy die polisiestasie binnestap.

Wie kan anyway so ’n mooi goose so vroeg in die oggend miskyk?

Sy staan rugkant na hom toe en beduie iets aan konst. Lawack, wie se mond oophang van bewondering.

Dan merk konst. Lawack sy senior op en Julia draai skuins en volg die jonge cop se blik.

Haar oë vernou en sy bekyk Jinx op en af.

“Jy het vet geword,” antwoord sy ná ’n ruk. “Wat is jy dan nou in kompetisie met die Oros-mannetjie?”

Jinx wil eers Julia se comment as ’n grap afmaak, maar dan vererg hy hom as hy die breë smile op konst. Lawack se gesig sien.

“As jy nie nou daai smile van jou gesig afvee nie, dan bêre ek dit vir jou op ’n plek waar die son nooit skyn nie,” sis Jinx.

Jinx voel ’n rilling deur sy lyf toe Julia haar hand op sy arm sit.

“Haai nee, beertjie,” sê sy en pruil haar rooi lippies. “Van wanneer af is jy so serious soos ’n pastoor wat ernstig oor tiendes is?”

Jinx ignoreer met moeite Julia se vraag en draai na konst. Lawack. “Maak jou uit die voete,” blaf hy aan die verskrikte konstabel.

“M-m-maar ... ek ... ek het niks anders om te doen nie, Kaptein,” stamel Lawack.

“Gaan vang ’n tikkop of ’n haas, I don’t care. Solank jy net verdwyn,” antwoord Jinx kortaf.

Lawack val amper oor sy voete om agter die toonbank weg te kom.

Hy drafstap na buite waar hy besluit om eerder ’n paar smoke breaks te geniet as om deur Jinx verskree te word.

Toe Lawack uit die oog is, draai Jinx na Julia.

“Moenie weer daai beertjie-gedagtes voor ander try nie,” sê hy styf. “Ons albei weet mos Tshabalala Ndlovu was jou beertjie. Ek ... ek is net vir ’n gat gevat.”

Julia klik haar tong. “Jislaik, Jinx, ná al die jare? Gaan jy dit vir altyd teen my hou?”

“God forgives, I don’t,” antwoord Jinx kil. “Jy is nie hier om te chit-chat nie. Kom tot die punt, asseblief.”

Julia gaap hom verbaas aan. Dis asof sy probeer peil of Jinx dalk ’n grap maak. Maar dan besef sy hy is ernstig. So ernstig soos die dood.

“Fine dan,” sê sy deur die styfste van lippies.

“If this is how you wanna play the game.”

“My werk is nie ’n game nie,” kap Jinx terug.

Julia se oë blits kwaad. Sy gluur hom aan en blaas dan haar asem hard uit.

“Ek sal my maar inhou,” sê sy dan in ’n beheerste stemtoon.

“Daar is dinge in die lewe wat eenvoudig nie worth it is nie.”

Jinx staar haar net aan.

“Vroeg in die lente van 2013, in September, het twee vyfjarige meisies uit dieselfde straat in Tafelsig in Mitchells Plain verdwyn.

“Ek weet nie of jy dit nog onthou nie –”

“Ek onthou,” val Jinx haar in die rede. “Ek was after all die ondersoekbeampte.

“Michaela-Rose Philander en Jade Jones. Vyf jaar oud. Albei.

“Albei was op daai dag in die sorg van hulle oumas.

“Die meisies het ’n halfuur uit mekaar verdwyn terwyl albei se ouers agter die huis wasgoed opgehang het.

“Niemand in Bayer Leverkusenstraat het iets gesien nie.

“Dit was asof die kinders net soos mis voor die son verdwyn het. So asof die wegraping daardie dag net in Tafelsig plaasgevind het.”

Julia grinnik. “Jou gewig het jou dalk in die steek gelaat, maar daar skort duidelik niks met jou geheue nie.”

Dan, as sy die onvergenoegde uitdrukking op Jinx se gesig bespeur, gaan sy voort: “Moet tog nie vir my sê jy kan nie ’n joke vat nie?”

“ ’n Mens maak nie jokes oor ander se gewig nie,” antwoord Jinx bot.

“Jy weet hoe ek as kind op skool oor my weight gespot is en hier kom staan jy wraggies en doen dieselfde aan my.”

“Ek ... ek bedoel nie om nasty te wees nie,” gooi Julia wal. “Toe ek jou laas gesien het, het jy nog ’n six-pack gehad. Ek het regtig nie bedoel om –”

“Daai six-pack is nou in die yskas waar hy lê en koud word vir my,” val Jinx haar in die rede.

“Moenie worry oor my gevoelens nie. Ek is ’n groot seun. Letterlik en figuurlik.

“Ek hou net nie daarvan dat mense wat gebou is soos ’n droom altyd op ander neerkyk nie.

“Vet en maer gaan almal eendag tog 6 voet 6 lê.”

Julia bloos verleë. Dit is duidelik dat sy haar pose verloor het.

“Wat het Interpol te doen met twee kinders wat in Tafelsig verdwyn het?” vra Jinx.

“Gewoonlik worry niemand mos van die mense van Mitchells Pain nie.”

Julia ruk haar reg. Sy is haar ou self, propvol selfvertroue.

“Daai twee meisietjies is opgespoor,” antwoord sy.

Jinx skud heftig sy kop. “F*kk*n onmoontlik,” reageer hy heftig. “Ons het die Plain omgedop op soek na hulle. Elke jaart en wendyhuis deursoek. Oor elke sandduin geloop.”

“En toe try iemand gisteroggend om nog ’n meisie in dieselfde straat te ontvoer,” antwoord Julia.

“Nog ’n kind? Hoekom weet ons dan nie daarvan nie?” vra Jinx skepties en frons.

“Omdat ons daai voorval ge­intercept het,” sê Julia vol bravade. “Dit behoort g’n nuus vir jou te wees dat ons intelligensiedienste in verskeie lande operate nie.”

Jinx vryf oor sy baardstoppels. “Ja, julle stink vingers is oralste, maar dit maak steeds nie vir my sin nie. Hoekom inmeng in dinge wat julle nie concern nie?”

“O, dit concern ons,” antwoord Julia vermakerig.

“Ons kon daarin slaag om die ontvoerder vas te trek en liggies te ondervra.” Sy benadruk “liggies”.

“En?” vra Jinx vies. “Moet ek nou Krismis in November hou?”

Julia grinnik vol vertroue. “Jy sal verbaas wees om te hoor wie agter die sindikaat hier in Suid-Afrika sit.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters