2 maande gelede
Jeppo maak amok by Ghost se plek en vind iets weird
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis tyd vir ’n week propvol aksie, want Jeppo die Laksman is terug. Geniet die jongste verhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dié verhaal Op Die Spoor Van Ghost. Geniet die eerste hoofstuk!

SOOS ’n skaduwee sluip die donker figuur die massiewe huis binne.
Geklee in sy kenmerkende lang, swart leerjas en Stetson laag oor sy oë getrek, beweeg Jepno Pokpas takties deur die halfdonker voorkamer.

Jepno is beter bekend as Jeppo die Laksman – die verdelger van gewetenlose kriminele wat op tegniese punte in die hof loskom.

Toe die doodstraf destyds afgeskaf is, het geweldsmisdade verdriedubbel.

Jeppo het dit sy missie gemaak om as laksman op te tree vir die misdaadvoos gemeenskappe.

En elke booswig op wie se spoor hy is, kan hulle maar regmaak om vir die duiwel te gaan hallo sê daar in die hiernamaals.

En vanaand is hy op die spoor van Rudi Geduldt, skynbaar ’n suksesvolle sakeman wat besighede oral in die Kaap het.

Maar wat min mense weet, is dat hy onder die alias “Ghost” die grootste hijacking-sindikaat hier in die Wes-Kaap bedryf.

Sy holborsels sal nie skroom om weerlose bestuurders saam met hul passasiers dood te skiet, net om hul vuil hande op hul motors te lê nie.

Ghost het connections op die verskillende grensposte soos Namibië, Botswana of Mosambiek, waarheen die motors gesmokkel en dan ten duurste verkoop word.

Dít is hoekom hy so in weelde kan leef.

Die Valke en die polisie kon nog nooit sover kom om hul hande op Ghost te lê nie; dus het Jeppo besluit dat die Laksman moet oorvat.

Buite by die ingang tot dié perseel lê die twee hekwagte elk in ’n plas bloed morsdood.

Dít toe hulle durf in die pad staan van die Laksman en sy missie.

In sy hand hou Jeppo sy pistool, met ’n knaldemper voor aan die loop geskroef.

Sy gesig is graniethard en sy yskoue, donker oë is op en wakker om die geringste beweging raak te sien.

Hy besef natuurlik dat hier kameras op die perseel is wat moontlik elke beweging van hom monitor, maar dit is ’n risiko wat hy elke keer moet vat.

Sy hele lewe is in elk geval een groot risiko.

In die misdaadwêreld is hy ’n legende wat vrees inboesem onder die skurke.

Daar word gepraat van hom en sommige boewe maak die “Laksman-praatjies” af as ’n mite.

Selfs die polisie het al snuf in die neus gekry oor hom, maar kon hom nog nie vastrap nie.

Hy slaan mos net toe en verdwyn vir ’n oomblik van die radar af.

Bo teen die marmertrap vang ’n beweging sy oog. Twee vuil gevrete kom doodluiters afgestap na die massiewe voorhuis.

Hulle steek vas toe hulle Jeppo gewaar.

Hulle oë rek pieringgroot toe hulle besef dat hulle nou in die aangesig van die dood is.

Want in die man daar onder se hand is ’n pistool loodreg op hulle gerig.

Een skurk maak egter daardie fout om te gaan vir sy gun hier agter sy broek.

Twee dowwe geluide klink op toe Jeppo se vuurwapen vuur spoeg.

Twee holborsels tuimel gat-oor-kop teen die trappe af.

Jeppo spring bo-oor die twee dooie boewe en mol nou teen die trap op.

Bo hardloop hy hom in nog twee skurke vas.

Een se brein proe lood. Terselfdertyd gooi Jeppo die ander een bo van die eerste verdieping af.

Met ’n afgestompte gil tref hy die vloer kop eerste.

Met sy regterbeen wat aan die jive gaan, sluit hy hom by sy makkers in die hiernamaals aan.

In die massiewe ontspanningskamer is drie skurke besig om pool te speel.

Hulle koppe ruk gelyk na die groot monitors teen die muur toe hulle die gil hoor.

Hulle sien die indringer met die donker jas en die hoed op die kop in hul grootbaas se huis.

“Wat de f*k?” gil een dit luidkeels uit.

Hulle besef sommer onmiddellik dat hulle nou hier met die Laksman te doen het.

Hulle skarrel blitsig vir die deur met vuurwapens gereed in hul hande.

Buite die vertrek kyk hulle naarstig rond, maar daar is geen teken van Jeppo nie.

Weer skarrel hulle na binne en kyk na die monitors om te sien of hulle hom dalk iewers in die huis gewaar.

Maar dit lyk asof die Laksman in die niet verdwyn het.

“Hey, ouens! Hier’s nou groot k*k. Ôs bieter nou die baas bel,” sak een grootoog af.

“Nei, djys befok! Ôs is mans genoeg vir hom.

“Hy’s net een ou en ôs is drie!” kap ’n ander een woedend terug.

“Drie dooie skurke, ja!” klink dit hier agter hulle op.

Hulle swaai om en staar vasgenael in Jeppo die Laksman se yskoue gesig.

En in sy hand is sy pistool, reg om vuur te spoeg.

Hulle was so vasgenael­ op die skerm daar teen die muur dat hulle glad vergeet­ het om agter hulle te kyk.

Vrees kry die oorhand en hulle ruk hul vuurwapens op.

“Skiet die ding sat!” gil een dit uit.

Maar die Laksman se vuurwapen blaf saggies en twee skurke val leweloos op die vloer neer.

Die laaste een kry dit reg om ’n skoot af te vuur, maar die Laksman is aan die beweeg en die koeël vlieg skadeloos by die deur uit.

Die boef kry ’n moordende hou in sy skurkgevreet en sy kop kap hard teen die kant van die pool­tafel.

Hy wissel al rukkend die tydige met die ewige.

Jeppo is vinnig by die vertrek uit en fynkam die hele boonste verdieping. Hy besef tot sy spyt dat Ghost nie hier is nie.

Hy het net sy holborsels hier gelos om sy plek op te pas.

Hy is spyt dat hy nie een van die skurke aan die lewe gehou het om sy baas se whereabouts uit hom te wurg nie.

Hy merk die vertrek op die verste punt van ’n gang op.

Hy loop saggies tot daar en voel dat die deur gesluit is.

Hy probeer dit oopskouer, maar dit is stewig toe.

Hy vuur ’n paar skote op die deurslot af en trap dit met geweld oop.

Wat hy daar binne gewaar, stuit hom vierkant in sy spore.

Vyf jong meisiekinders sit daar op ’n hoop op ’n groot dubbelbed, met pieringgroot oë en naakte vrees op hulle gesigte.

En hulle is almal poedelnaak …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters