2 maande gelede
Jeppo luister na 5 meisies se storie en cover sy tracks
 ~ 
HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug.
Jeppo het dit sy missie gemaak om as laksman op te tree vir misdaadvoos gemeenskappe. Jeppo is nou op die spoor van Rudi Geduldt, skynbaar ’n suksesvolle sakeman met besigheid oral in die Wes-Kaap.
Hy bedryf boonop die grootste hijacking-sindikaat in die provinsie. Maar Jeppo is diep geskok toe hy op ’n dubbelbed vyf naakte meisies met pieringgroot oë gewaar. Geniet nou hoofstuk 2 van die jongste verhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dit Op die Spoor van Ghost

VASGENAEL staar Jeppo na die vyf vreesbevange meisiekinders wat daar op die dubbelbed mekaar krampagtig vasklou.
Hy het nie verwag om op so ’n toneel af te kom nie.
Hy het gekom vir die gewetenlose baasbrein agter die motor-hijack­ing-sindikaat. Dié skurk staan bekend as Ghost.
En nou vind Jeppo dié bloedjong meisies toegesluit in die kamer, almal poedelnakend.
Hy skat hulle ouderdom so van 14 tot 16 jaar.
“U-Uncle, m-moet ons asseblief nie seermaak nie!”
“Ek wil na my mammie toe gaan!”
So kerm die groepie meisie­kinders hom uit sy warboel gedagtes.

Hy ruk hom vinnig reg.
“Julle hoef my nie te vrees nie. Ek is hier om julle te help,” probeer hy hulle gerusstel.
“’n... Daai nare omies sal julle nie meer seermaak nie.
“Ek het hulle … ’m … aan die slaap gemaak,” gaan hy voort toe hy die twyfeling op hulle gesigte sien.
Die meisiekinders ontspan merkbaar.

Van hulle vlieg van die bed af op.
Jeppo draai sy gesig weg toe hy sien hulle probeer hulle naaktheid skamerig vir hom bedek.
Hy ruk vinnig die gordyne van die kamervenster af en hou dit na hulle uit.
“Draai dit solank om julle.”
Hy beveel hulle om in die kamer te bly terwyl hy die huis fynkam vir hulle klere.
Hy kry hulle klere – blou skooluniforms – in ’n groot kis in die ontspanningskamer.
Hy laat hulle in die privaatheid van die kamer aantrek terwyl hy buite die deur wag.
Toe hulle klaar is, begelei hy hulle by ’n ander trap af na ’n uitgang wat daar agter in ’n fancy braai-area uitloop.
Hy wil hulle glad nie aan die bloedige tonele in die huis blootstel nie.

Toe hy seker is dit is veilig, laat hy hulle voor hom sit.
“Nou kan julle my vertel hoekom julle hier toegesluit is.”
“Ons almal is vanoggend in karre ontvoer van ons skool af, Uncle!” sak een grootoog af.
Dit lyk asof sy die oudste van die lot is.
“Dit lyk asof hulle ons wou verkoop.
“Hier was vroeër vanaand so ’n groot swart man wat na ons kom kyk het.
“Hy lyk soos ’n bongoman,” begin haar bekkie klap.
“Ons moes almal ons skoolklere uittrek en kaal in ’n ry staan sodat hy ons kon inspect.
“Hy het geknik en toe saam met die ander man, so ’n vette met ’n bleskop, daar by die kamer uitgegaan.
“En die bleskopman het eers vir die ander manne wat hier in die huis was, gesê om ons toe te sluit en op te pas.”
Jeppo weet sommer onmiddellik die meisiekind verwys na Ghost as die vet bleskopman.

Hy besef nou Ghost is ook besig met ander onwettige bedrywighede benewens sy hijacking-besigheid – hy verkwansel jong meisies aan foreigners.
Jeppo klem sy hande in vuiste saam.
“Die f*kk*n gemors!” swets hy binnensmonds.
As hy daardie skurk in die hande kry, sal hy hom stadig dood martel.
“Hoe nou, Uncle?!”
Jeppo se kop ruk op na die oudste meisiekind wat hom vraend aankyk.
“Het Uncle nou gepraat?”
Jeppo skud sy kop. “N-nee … ek het sommer net hardop gedink.”
Hy raak nou skielik haastig.
“Kom, ek moet julle hier wegkry en na die naaste polisiestasie toe neem.”
Hy prop almal in sy ou skedonk van ’n kar wat hy ’n hele ent van Ghost se huis af geparkeer het.
Hy loer vlugtig in die rondte voordat hy agter die stuur inspring.

Gelukkig is dit diep in die nag en die hele buurt is in droomland.
Hy wil nie nog onnodige aandag trek nie.
Hy wil sy planne mooi agter­mekaar kry.
Hy moet net eers die meisiekinders uit die pad kry.
Ná ’n klomp draaie trek hy by ’n donker stegie in.
Hy beduie na ’n gebou in die breë verligte Voortrekkerweg. “Daar is die polisiestasie. Daai polisiebeamptes sal sorg dat julle veilig by julle huise kom.”
Hy wag ’n rukkie totdat hy sien hulle gaan veilig by die polisiestasie in voordat hy stadig wegtrek en in die teenoorgestelde rigting ry.
Hy het seker gemaak die meisiekinders kan hom nie later identifiseer nie.

Met sy hoed laag oor sy oë getrek, was dit moeilik om sy gesig duidelik te sien.
Hy twyfel dat die meisiekinders die polisie na Ghost se huis kan lei.
Daarvoor het hy gesorg deur met ompaaie tot by Voortrekkerweg te ry.
Nou kan hy rustig die groot boef in sy eie huis gaan inwag en met hom klaarspeel.
Dit is ’n op­gewonde Ghost wat by sy huis optrek.
Hy is begelei van vyf lyfwagte in die motor agter hom.
Hy dink aan die groot geld wat nou gaan inrol.

Daai Kongolees Emmanuel Bapu is bereid om R50 000 vir elke meisiekind te betaal. Daarna gaan hy hulle ten duurste as seksslawe in Mosambiek verkoop.
Ghost voel nou trots op homself dat hy ’n maand gelede dié idee gekry het vir nog ’n bron van inkomste.
En dit is om jong meisiekinders te trade.
“Baas, iets is fout hier!” ruk sy bestuurder hom uit sy gedagtegang.

Ghost se kop ruk op en hy staar na die toneel agter die motorhek, wat stadig oopswaai.
Sy twee hekwagte lê leweloos daar in hul bloed.
Ghost se mond hap oop en toe soos hy na woorde soek.
Hy sukkel met sy vet lyf uit die motor en beduie vinnig vir sy lyfwagte in die agterste motor om die huis te fynkam vir enige indringers.
Vyf swaar gewapende holborsels bestorm die donker huis, terwyl Jeppo slaggereed daar binne op hulle wag...

) Lees môre verder 

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters